Van Anita in die kykNET-reeks Sarah se Geheim, die titelrol in die rolprent Vaselinetjie tot Alex in die kykNET-drama Fynskrif – Marguerite van Eeden, is op 21 is een van Suid-Afrika se gróót toneelvondse.

Die volgende ses maande is sy ook baie aan die gang –  ons kan uitsien na Kern, wat Stefan Enslin vervaardig en waarvan Regardt van den Bergh die regie doen. Sy en haar groot vriend en mentor, Edwin van der Walt werk aan  ‘n kortfilm en skep hul eie droomrolle. Later in die jaar speel sy in ‘n Engelse reeks, waaroor sy nog niks mag sê nie.

"En ek wil baie graag al my vakke deurkom." Sy is ‘n tweedejaar BA-student aan die Universiteit van Stellenbosch. 

Marguerite sê: "Vaselinetjie het die toneelwêreld se deure vir my oopgesluit. Die regisseurs Corne en René van Rooyen het ‘n kans gewaag met my in die hoofrol. Ek was tot en met daardie rol nog nooit voor die kamera nie. Maar ek het geleer as jy voluit vir iets gaan, voorbereid is, en jou karakter goed genoeg ‘ken’ voor jy op stel gaan, werk dinge vanself uit."

Marguerite saam met van die ander Fynskrif-akteurs. FOTO Instagram/ Marguerite van Eeden

Haar rol vir Fynskrif was ‘n groot uitdaging. "Alex is gedrewe, ‘n ‘klein’ grootmens, wat weet wat sy wil hê. Al my karakters voor haar, was effe deurmekaar, onseker oor wie hulle is. Alex has it sorted or she thinks she has. Om Alex te speel, was ‘n treat. Sy is soos ‘n sterk koffie tussen ‘n spul Earl Greys.’’

Meer nog as dié rol, was dit heerlik om met gesoute name in die bedryf soos Tinarie van Wyk-Loots, Albert Snyman en Louis Pretorius, (die regisseur en skrywer) te werk, vertel sy.  Marguerite is dol daarop om in flieks te speel. "Jy werk lank saam met ‘n span en het meer tyd as op televisie. Maar elke medium is spesiaal. Ek het nog min teater-ondervinding, maar wanneer ek Tinarie en Jacques Bessenger daaroor hoor praat, klink dit ongelooflik." Sy sal meer ondervinding daarin wil opdoen.

Marguerite vertel sy wou al sedert kleintyd toneel speel. "Ek is mal daaroor om ‘ander mense’ te speel. Ek wil ook verder studeer aan die Universiteit Stellenbosch – dan het jy die beste van albei wêrelde, soos Hanna Motanna sing."

FOTO Instagram / Marguerite van Eeden

Sy sê die mentors in haar lewe, is soos die Beatles se aanhaling. "My aangepasde weergawe, lui só:  I get by with a little help from my friends, family and dog (Max)."

En min dinge motiveer haar soos wanneer mense vir haar sê hulle het haar nie herken as sy in iets "act" nie.  'Dalk lyk ek regtig anders as ek toneelspeel as in die ‘regte lewe, maar ek dink dit is omdat ek so ver verwyderd is van my eie lewe wanneer ek toneelspeel. Ek wil hê mense moet sien ek en die rol wat ek speel is twee verskillende mense.' Toneelspeel is vir haar lekker omdat sy so baie mense ontmoet, so baie leer van die lewe. 

"As die kamera op ‘n mens is, daardie oomblik voel alles volmaak – alhoewel dít seker net een keer in ‘n bloumaan, of is dit witmaan, gebeur?" lag sy.