Om te waardeer wat jy vandag het, dís wat die Covid-19-pandemie vir die akteur Charlton George laat besef het. “Môre is nie verseker nie.”

Al sy beplande teaterproduksies vir die jaar is gekanselleer. ’n Terugslag vir enige vryskutakteur. 

Maar hy troos homself met die gedagte dat teater in die verlede die eerste plek was wat gedurende plae gesluit is. Dit sál iewers weer ’n plek word waar mense bymekaar kom. 

Hy mis mense en kreatiewe gesprekke in lewende lywe. “Om oor nuwe interessante konsepte met my kollegas en kunstenaarsvriende te kan gesels. ’n Mens raak soos familie ... en dan mis jy mekaar vreeslik.”

Almal wat in die kykNET-reeks Fynskrif gespeel en op stel gewerk het, het sy familie geword. Drie seisoene het hulle vir altyd aan mekaar verbind. 

Sy karakter, Dolf Ungerer, die eksentrieke en intelligente advokaat, het diep in sy hart vastrap plek gekry. Elke keer as hy die tekste van ’n nuwe Fynskrif-seisoen ontvang, het hy koorsagtig begin lees om uit te vind wat nou in die man se lewe gaan gebeur. 

“Gewoonlik was daar oomblikke van hardop lag, veral met Dolf se pogings om swanger te raak. Ek het besef dat ’n mens nie net mense kan stigmatiseer oor hulle weird is nie. Ook dat die noodlot jou fynbeplande koers kan omverwerp op maniere wat jou aangenaam kan verras. Wie sou nou kon dink Dolf sou ’n pappa word en so gelukkig wees op die ou end?”

Dolf het oor die drie seisoene weerloser geword - selfs toe hy teleurgesteld was met die geslag van sy en Gertrude (Elana Afrika-Bredenkamp) se eerste kind: ’n seun.

Soos enige akteur het Charlton sy karakter nie probeer oordeel nie. Vanwaar sy vrees om ’n seun groot te maak? “Ek dink Dolf wou ’n dogtertjie hê omdat dit vir hom minder gekompliseerd voorgekom het. Hy kon dan die meisie soos ’n prinses of pop behandel, haar laat Mozart speel op die klavier en rokkies koop,” verduidelik Charlton. “Sy idee van rolmodel wees vir ’n seun vul hom met vrees, want hy identifiseer manlikheid met rugby en krieket. Hy sien nie homself as ’n genoegsame rolmodel nie, oor hy in ’n kantoor werk, van die kunste hou  en ’n intellektueel is.”

Charlton is self die trotse pa van ’n 15-jarige dogter, Ruby. “Ek dink nie ek het daardie uitkyk oor geslagsrolle nie. Ek sou geen probleem hê as my dogter ’n rugbyspeler of bokser wou wees nie.”

Vir Charlton het dit baie gehelp om seisoen 2 en 3 direk na mekaar te verfilm. Dié proses het hom op sy tone gehou, egtheid verseker. “As jy vir ’n paar maande moet stop en dan ’n ander projek aanpak, kan jy maklik momentum verloor en sukkel om weer die karakter suksesvol op te tel.”

Hy en Elana het mekaar op stel ontmoet. Hy bieg: “Ek het ’n celebrity met ’n entourage verwag, maar Elana het soos enige ander speler haar werk gedoen en respek gewen.”

Hulle het nes Dolf en Gertrude gunsteling-afleidings gehad. “Ná ’n lang, uitputtende dag van Dolf en Gertrude was dit lekker om vir ons onderskeie families wegneem-seekoskerries en groot roties te bestel.”

Charlton was van kleintyd af ’n storieverteller en dromer. Maar hy het van die begin af teenkanting gekry toe hy besluit het om ’n akteur te word. “Ek is gesê: ‘Kry ’n regte job. Daai is nie ’n man se werk nie. Daar is geen standvastigheid nie. Jy sal dit nooit maak nie of in ’n professionele show speel nie. Dis nie jou beskore nie.’”

Maar tog het Charlton gewaag - soos net ’n dromer kon. En met elke terugslag het hy soos ’n feniks vanuit die grond opgestyg. Vandag is hy ’n bekroonde akteur wat ewe gemaklik voor die kamera as op die verhoog is. 

En as die nuwe normaal uiteindelik aanbreek en ons weer volkome vryheid het - waarheen moet Suid-Afrikaners reis? “Ek sal definitief Augrabies voorskryf. Oeroud, mistiek, vol legendes en ’n magiese plek as die water in die somer wild in die rotskolke afdonder.”

En die R62-roete deur die Klein-Karoo. “Dis ook spesiaal, maar dan moet jy tyd hê om af te trek en ’n paar ure op ’n dorp deur te bring. Wat jy natuurlik nie kan doen as jy op pad is na die KKNK toe met twee of meer produksies nie.”

Só baie plekke wag nog om hulself aan Charlton voor te stel. “Persoonlik wil ek nog die Oos-Kaap en Mpumalanga beter leer ken. Limpopo het ek ook nog nie besoek nie.”

Maar tot dan gaan hy wag ... geduldig, want om vandag te waardeer is al wat ons het.