Vyf jaar lank al probeer regisseur Bobby Heaney vir Gareth Cliff oortuig om sy eie geselsprogram aan te bied. Elke jaar as Bobby Gareth se bestuurder bel, is die reaksie ‘Gareth is nog nie reg nie’. Uiteindelik, teen einde laasjaar, het die antwoord gekom waarvoor Bobby so lank wag. En vanaand begin The Gareth Cliff Show om 20:00 op M-Net begin.

"Dis vermaak met ’n hoofletter V," sê Bobby. "Daar’s drie dinge wat Gareth ideaal vir ’n talk show maak. Hy’s intelligent, witty en hy hou van omstredenheid. Dink aan hierdie talk show as ’n ete saam met Gareth en drie interessante gaste om die tafel."

Charis Labuschagne het ’n paar vrae vir Gareth by die bekendstelling gevra. Hoe voel dit om jou eie geselsprogram te hê?
Dis nogal opwindend. Die idee is om op ’n pretmanier oor ernstige kwessies te gesels. Is die Caster Semenya-sage iets waaroor jy op die program sal gesels?
Definitief. En dis iets wat nogal gou moet gebeur omdat dit so aktueel is. Daar’s nie ’n plek waarnatoe ek gaan waar mense nie daaroor praat nie. Het jy ‘n talk show hero?
Nie regtig nie. Ek het respek vir Jay Leno wat The Tonight show vir 17 jaar gedoen het. Ja, dis lank. Hoe lank dink jy gaan jou program op die lug wees?
Ek weet nie. As ek môre deur ’n bus omgery word, gaan die program nie baie lank aanhou nie. Beskou jy jouself as ’n handelsmerk?
Ek weet nie daarvan nie. Ek verskaf inhoud nes jy as joernalis en hopelik hou mense daarvan.
Ag, kom nou, dink jy nie jy is 'n herkenbare handelsmerk in Suid-Afrika nie?
Wel, as ek een is, is dit nie omdat ek dit beplan het nie.
Bobby Heaney sê sommige mense moet op radio bly en nie hul gesigte op TV waag nie, maar nie jy nie.
Dis so 1980’s om dit te sê. Wat ek wel kan sê, is dat radio vir my meer persoonlik as TV is. Die ligte en grimering en kameras van TV neem soms van die persoonlike aanslag weg.