Sy en Jannie Visser (28) van Wolseley, wat ‘n vervoermaatskappy saam met sy pa besit, trou in September aanstaande jaar. Hulle het op 3 November vanjaar verloof geraak.

Muriël borrel oor haar nuwe liefde wat sy 'n jaar en 'n half terug op ‘n vriend se troue op Riebeek-Wes ontmoet het.

"Ek het ‘n kort swart rokkie op die troue gedra. Ek was net dadelik aangetrokke tot hom. Aanvanklik lyk hy baie skaam, maar hy is ‘n mens-mens. Ons het daardie aand so lekker gesels. Hy het die heerlikste geaardheid en is gemaklik met homself. Dit was van my kant liefde met die eerste oogopslag. Jannie het my heeltemal oorweldig. Maar ons het eers twee maande ná die troue, danksy vriende wat ons weer saam uitgenooi het, eintlik weer gekliek. En toe het ons begin uitgaan."

Hy is "op ‘n anderste manier" romanties, sê sy. "Dis die klein goedjies wat hy vir my doen wat hom besonders maak. Hy sal altyd sorg dat ek ‘n drankie het as ons iewers kuier, hy pak die braaivleisvuur, maak deure vir my oop, hy koop nie rose vir my nie, maar pluk dit eerder uit sy eie tuin! Hy is net ‘n ware jintelman. As ek vir hom gaan kuier, dan dink ek nog ons gaan uiteet, maar as ek daar kom, het hy pizzas bestel. Hy is so plat op die aarde. En o, hy is net só aantreklik. Sy oë, sy gespierde arms. Ons werk nog net aan die sixpack!”

Hulle doen soveel heerlike dinge saam. Toe dit winter was, het hulle gaan sneeu kyk op Ceres. Dikwels braai hulle saam met vriende op Wolseley en dan word daar geswem en gekuier . . . Vang gereeld saam vis. By Langebaan huur hulle ‘n kano en vaar om die eiland. En in Junie het hulle drie weke lank deur Namibië, Botswana en Zimbabwe getoer.

"Ons is mal oor kamp en het mekaar daar ontsettend goed leer ken. Ek het by hom geleer om rustig te wees en nie meer vrese oor die liefde te hê nie. Hy respekteer my en vroue in die algemeen.”

Die lekkerste ding is dat hy elke dag vir haar sê sy lyk mooi, al het sy haar oudste klere aan. "En ons sluit elke telefoongesprek af met, ek is lief vir jou."