‘Om te probeer maer wees steel jou energie’ Chanelle de Jager, bekend as die wulpse Des du Pont in die sepie Egoli, het nog altyd ’n voller figuur gehad. “Dis in my gene. Om in ’n nommer agt-kleregrootte te pas sal ek van drie rosyntjies ’n dag moet leef!” Elke vrou vra haarself gereeld af of sy bekoorlik is, sê Chanelle, wat ’n nommer 14 (38) dra. “Ek het nog altyd ‘nee’ geantwoord. Ons is so geneig om met kritiese oë na onsself te kyk.” Maar deesdae hou sy van haar lyf en speel gereeld model vir Miladys se René Taylor veldtog (modes vir ’n voller figuur). Sy’t ook al modelwerk vir onderklere gedoen, onder meer ’n sexy TV-advertensie vir Bon Prix, ’n internasionale onderklere-reeks. Konstante druk “Toe ek in Egoli was, wou ek in ’n nommer agt pas. Ek het altyd onder druk gevoel om maerder te wees. Ek het af en toe dieetpille gedrink en al ’n paar diëte probeer. Soos die Beverly Hills-dieet. Dit was belaglik min kos. Met die pille kon ek nie slaap nie en ek was die volgende dag uitgeput. “Om heeltyd maer te probeer wees steel baie energie. Ek was naderhand emosioneel uitgeput. Toe ek vir ’n ruk lank uit Egoli was, het ek besluit om dinge rustiger te vat en nie so erg te fokus op die kollig en wat mense van my dink nie.” Ek is bekoorlik “In 2008 het ek saam met ’n natuurlewe-filmmaker in Namibië gaan werk. Daar tussen die sandduine het ek rustigheid gevind. “Die boek Captivating deur John en Stasi Eldredge het my ook baie gehelp. Hulle verduidelik hoe meisies heeltyd mooi wil lyk. Ons vra onsself regdeur ons lewe af of ons bekoorlik is. Jou antwoord moet ‘ja’ wees. Maar jy sê dikwels ‘nee, ek is te vet’. Dit word ’n donker siklus. Ek het gehuil terwyl ek dit lees. Daarna het ek anders na my lyf begin kyk. Elke oggend sê ek vir myself ek moet lief wees vir my lyf nes dit is, want God het dit geskape. “My borste was altyd vir my te groot. Vandat ek vrede met my lyf gemaak het, is dit my gunsteling-deel. Ek dra nou selfs ’n bra wat my ’n effense cleavage gee.” Gesondheid die sleutel “Ek wil nie nou meer maer wees nie. Ek wil net gemaklik in my lyf voel en gesond wees. Ek slaap genoeg en probeer om net een keer ’n week ’n glasie wyn te drink. Af en toe woon ek ’n joga- en ’n bellydance-klas by. Vandat ek in die Kaap bly, is ek meer aktief. Ek gaan stap langs die see en het ook al Tafelberg uitgeklim. “Ons moenie die hormonale skommelinge van PMS onderskat nie. Ons voel dan mos altyd so vet. Jy mag jouself dan maar so ’n bietjie jammer kry. Wanneer ek nie mooi voel nie, sit ek die slaapkamerlig af en steek kerse aan. Ek gaan staan voor die spieël en sê vir myself ek is beeldskoon. Jy móét dit doen. Moenie net kyk na alles wat fout is nie.” WAT EK GELEER HET

  • Sedert ek nie meer so obsessief oor my gewig is nie, fokus ek op ander dinge. Ek is nie meer so selfgesentreerd nie.
  • Mans hou nie altyd net van vroue wat baie maer is nie. Heupe en borste is sexy.
  • As meisietjies het ons die verkeerde ikone, soos Barbie gehad, maar haar borste en heupe is te groot en die res van haar lyf te klein. Vandag kyk ons ook na pragtige, slanke modelle in tydskrifte wat ge-photoshop is en wil soos hulle lyk. Dis ’n onrealistiese verwagting
  • Mense kan aanvoel as jy gemaklik in jou lyf is. Jy kry meer komplimente!