Ons Boere, Ons Inspirasie is ’n nuwe projek wat SARIE saam met kykNET, GWK, John Deere en McDonald’s aanpak. In die TV-program van 13 episodes reis ons deur die land en ontmoet die mense agter Suid-Afrikaanse landbou.

Ons soek die menswees en inspirasie agter die boere, en vang dit vas in ’n portret wat in SARIE-tydskrif verskyn. Loer hier onder na Ettiene van Wyk se portret in SARIE se November-uitgawe. 

Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 3 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'

ETTIENE VAN WYK, Spes Bona, Marydale

“Jackie Chan is my nuwe rammetjie. Hy’t goeie vleiseienskappe. Maar kom, ek wys Bruce Lee ook vir jou. Ek noem hom so, want hy wil net fight. En dan’s daar Dries. Hy’t goeie lyflengte. ’n Sterk geboude ram. Ek’t hom genoem na iemand wat ek ken,” stel Ettiene van Wyk trots sy kudde bekend.

Die pad na die plaas Spes Bona buite Marydale in die Noord-Kaap is opvallend lank en verlate. Eers ’n uur op ’n teerpad vanaf Prieska en dan nóg ’n uur op ’n grondpad na ’n plek waar jou oë in alle rigtings spoed optel.

Ettiene se pa was ’n skaapwagter op die plaas waar die saadjie vir Ettiene se eie lewe as boer geplant is. Die eienaar van die destydse plaas, Dries, het gou agtergekom dat die jong man se nuuskierigheid ’n teken was van ’n toekomsboer met vleis om die lyf. Hy’t hom gehelp om ’n landboukwalifikasie en uiteindelik ’n plaas te kry.

Vandag is die mylpale volop. Nie net is Ettiene ’n kookwater-skrumskakel by ’n rugbyklub in die distrik nie, maar ook ’n kranige skaakspeler.

“Weet jy, skaak leer mens geduld. Dit help my met die boerdery,” sê die passievolle boer wat ooglopend peins oor sy volgende skuiwe in die lewe.

“Jy moet jou lewe aanpas soos wat die natuur dit bestuur. In droogtetye moet jy so leef dat jy met min water en geld kan klaarkom. As die veld groen is, kan jy weer bietjie fancy lewe. Dan kan jy jou plaas opknap, dalk jou huis verf. Jy moet jou leefwyse aanpas by die omstandighede waarin jy verkeer.”

Ettiene se enigste dogter gaan skool op Loxton. Die 10-jarige Thaniell droom om saam met haar pa te boer.

Dan vertel hy: “Eens op ’n dag het ek in die windpomp opgeklim. Ek’t nie eintlik besef hoe dit lyk op Spes Bona nou in die droogte nie. Iets sê vir my, kyk net om. Toe besef ek, maar hier is dan niks op hierdie grond nie. Ek dink, maar Ettiene, jy bemark nog steeds lammers, jou ooie lam steeds. Hoe kry jy dit reg? En toe besef ek: bestuur, organisering en genade is hier steeds op Spes Bona.”

Ons Boere, Ons Inspirasie
Kom ontmoet Jackie Chan, Bruce Lee en vir Dries ... FOTO Marijke Willems

Moenie SARIE se Desember-uitgawe misloop nie wanneer ons boere van Boshof, Loeriesfontein, Namakwaland en Wesselsbron wys.

Ons Boere, Ons Inspirasie is Donderdae om 21:00 op kykNET (kanaal 144) te sien. Na afloop van elke episode sal dit ook op DStv Catch Up wees.