Op  die verhoog is Gerhard Steyn pure popster. Met sy kitaar in sy hand en sy blonde hare punt in die wind het hy die gehoor in die holte van sy hand. Hulle sing ewe hard saam aan “Pennies en ponde”, “Diamante vir jou”, “Sexy vere” en daardie treffer wat hom sowat vier jaar gelede op die map gesit het: “Baby Tjoklits”.

Op die oog af lyk Gerhard soos ’n man wat oornag sterstatus behaal het met dié sokkiejol-saamsingliedjie. Die een oomblik het hy nog “Baby, ek like jou soos jy is . . .” in kroeë en om braaivleisvure gesing.

Die volgende oomblik het Gerhard Steyn gearriveer. Breekbaar, die sogenaamde Baby Tjoklits-CD, het platinumstatus (meer as 40 000 verkope) bereik en klim steeds die verkope-leer. Tien van harte, sy nuutste CD, wat in Julie verlede jaar bekend gestel is, het binne ’n maand goue status (meer as 20 000 verkope) bereik. Sy duet-CD Tydloos, saam met Richard van der Westhuizen, is nou op die rak.

Maar lank voordat hy sukses begin smaak het, moes Gerhard ’n donker verdwaalpad stap met ’n pa wat alles met sy vuiste wou regmaak.

Gerhard se eie eerste vuisgeveg was in graad vier. Hy het nie eers geweet hoekom die outjie hom geslaan het nie en het weggestap, maar daarna sê Gerhard het hy besluit as hy weer in so ’n situasie beland, gaan hy nie terugstaan nie.

Hy het al ’n paar keer erken hy was ’n rebel toe hy jonk was. In die begin van ons onderhoud raak-raak hy aan sy moeilike grootwordjare in Benoni, maar dis eers heelwat later dat hy sê: “Jy’s nie ewe skielik sonder rede ’n outlaw nie. Jy rebelleer teen iéts.”

Hy vertel verder dat musiek ’n uitlaatklep was. "Ek het my gevoelens uitgedruk deur liedjies te skryf. Eers depressiewes. Hoe meer ek geskryf het, hoe beter het ek gevoel – tot op ’n dag dat ek happy thoughts neergepen het en ’n liedjie soos “Baby Tjoklits” kon skryf. Dit was ’n genesingsproses."

* In die openhartige onderhoud in die Februarie-uitgawe van SARIE (vanaf Maandag 16 Februarie 2012 op die rakke) vertel Gerhard verder oor sy moeilike verhouding met sy pa, sy selfmoordpogings, en hoe sy ma nou oor sy sukses voel.