Uittreksel uit die onderhoud:

So jy beskou jouself as ’n rolmodel?
My loopbaan is my roeping. Ek weet die Here het my hier geplaas om ’n ander rede as om net “Baby Tjoklits” te sing. Ek hoop mense is eerder oop vir ’n boodskap: Daar is geen verskoning om nie suksesvol te wees omdat jou pa nie suksesvol was nie. My lewe was ’n gemors, maar jy hoef nie in ’n swart gat te bly nie. Ek word elke dag wakker en sê vir myself ek gaan nie dieselfde mens as my pa wees nie. Ek gáán suksesvol wees.

Waarmee hou jy jou besig wanneer jy nie op die verhoog is nie?
Ek versamel antieke meubels. Ek is mal daaroor om na iets te kyk wat oud is en te wonder wat die storie daaragter is. Ek is ook gek na avontuursport. Ek wou begin vanjaar Kilimandjaro uitgeklim het, maar dit gaan nog maande neem vir my knie om te herstel.

ONS LESERS VRA


Alga Taljaard van Pretoria
Wat is die grootste les wat jy eendag vir jou kinders sal wil leer?

G: Weet dat elke besluit in jou lewe belangrik is.

Carine Kruger van Springs
Het jy ooit gedink “eendag wil ek net so groot wees soos . . .”?

G: Ek het opgekyk na internasionale kunstenaars soos Bryan Adams. Ek was by een van sy shows in Suid-Afrika en dit was wow! Hy sal altyd deur sy musiek leef.

Liezl O’Kelly van Johannesburg
Watter ander beroep sal jy oorweeg?

G: Renjaer. Ons mans het nou maar eenmaal ’n liefde vir metaal en ’n enjin wat klop.