Dit was tydens ’n roetinedoktersondersoek in April 2006 dat Rita finaal besef het: Nóú moet sy ingryp en die gewig verloor waarmee sy al jare lank sukkel. “Ek was toe 56 en het skielik besef ek is besig om myself skade te berokken. Soos die meeste oorgewig mense was ek salig onbewus van hoe sleg ek régtig gelyk het en wat dit besig was om aan my gesondheid te doen. Maar soos jy ouer word, kan jy nie meer so maklik daarmee wegkom nie. My bloeddruk- en cholesterol-telling was nog normaal, maar dit het aan die bopunt van die gesond-skaal gedobber. “Soos elke jaar het ek daardie dag vir my dokter gesê ek moet seker maar iets doen aan my gewig, maar dié keer het ek dit bedoel. Ek kon niks doen aan die feit dat ek ouer word nie, maar ek kon beheer hóé ek ouer word.” My gewig was my lewe lank 'n probleem
Dié voormalige aanbieder van joernaalprogramme soos Uit en Tuis en Silhouette en deesdae senior bestuurder van die Universiteit van Johannesburg se kunstedepartement het toe op aanbeveling van haar dokter met ’n dieet met ’n lae glukemiese indeks (GI) begin. Met dié eetplan eet jy kosse waarvan die koolhidrate stadig in jou bloedstroom opgeneem word sodat jy langer versadig voel.

 
Ek het elke week 500g of 1kg verloor totdat ek 66kg bereik het."
 
“Ek het al seker elke dieet onder die son probeer, want my gewig was my lewe lank ’n probleem. Dié keer het ek geweet ek moes ’n leefstylverandering maak. So saam met die ouderdom kom ’n bewuswording wat ’n mens nie as jong mens het nie – dat kitsdiëte nie werk nie, en dat jy ’n blywende verandering moet maak wat die res van jou lewe gaan hou. “Boonop is ek ’n totale kosholis, so diëte werk bloot nie vir my nie – beslis nie op lang termyn nie. Dis soos om ’n alkoholis te wees, maar byna erger omdat jy die sondaar nie net heeltemal kan uitsny nie – jy moet steeds eet!” Rita het daar uitgeloop en die boek Eet vir volgehoue energie (Gabi Steenkamp en Liesbet Delport, Tafelberg) gaan koop, dit van voor tot agter deurgelees en dadelik weggeval. “Dit het vir my absoluut sin gemaak en ook eenvoudig genoeg gelyk dat ek daarby sou kon hou. Ek het nooit getwyfel oor wat ek mag en nie mag eet nie.” Sy het boonop hard begin oefen – drie maal per week saam met ’n fiksheidsinstrukteur, twee pilatesklasse per week en dan het sy gaan stap op die ander twee dae. “Oefening het vir my soos tandeborsel geword – nie iets wat jy noodwendig geniet of verpes nie, maar iets wat jy elke liewe dag doen. “Vir my het dit dié keer nie meer gegaan oor hoe ek lyk nie, maar bloot oor my gesondheid. Ek sou nie veel langer gesond gewees het as ek so oorgewig gebly het nie.” Nou pas ek selfs in 'n no. 12 broek Twee jaar later het Rita ’n volle 40 kg afgeskud. Haar gewig het van 108 kg na 68 kg afgekom. Dis boonop nou al twee jaar lank konstant. “Ek het nie ’n doelwit gehad nie, maar aangehou met my eetplan totdat my gewig gestabiliseer het. Ek het elke week 500 g of 1 kg verloor totdat ek 66 kg bereik het. Sedertdien wissel ek nou tussen 66 kg en 68 kg.” En op 60 lyk sy nou fikser en mooier as ooit! ’n Hoogtepunt was die groter klere waarvan sy mettertyd ontslae kon raak. Sy het van ’n nommer-22-rok na ’n 14 gevorder en dra nou selfs ’n nommer-12-broek. “Dis heerlik om nou in enige winkel te kan instap en klere van die rak af te koop. As ek terugkyk, kan ek gebeure uitlig wat bygedra het tot my besluit om na myself te begin omsien. Eintlik moes ek jare gelede al rooi ligte gesien het toe ek so mal was oor die winkels in die VSA – bloot omdat elke winkel groter nommers verkoop het wat my gepas het. “Maar kort voor my dieet het ek foto’s van myself gesien op ’n vriendin se dogter se troue waar ek die seremoniemeester was. Ek het soos ’n gestrande walvis gelyk. Die blinddoek het afgekom. Waar ek voorheen gedink het ek lyk oukei, dat ek die fakkel dra vir die groter vrou, het ek gesien ek was vet. Punt. Ek gaan nie rondom dit praat en myself ‘oorgewig’ noem nie, want my oë moes oopgaan.” Haar voorkoms het ook aan haar selfbeeld begin knaag. “Ek is ’n baie positiewe mens, maar iewers het ’n stemmetjie vir my begin sê: Hoorie, Bokkie, jy’s nie so oulik soos wat jy dink nie. Dit raak naderhand onderliggend aan jou selfbeeld. Jy kan hoeveel selfvertroue hê, maar uiteindelik begin ander mense se opinies van jou tog deursyfer.” En dis opinies waarmee sy haar lewe lank al gekonfronteer was. “Gewig was nog altyd vir my ’n kwessie. Ek was aktief op skool, maar ek het te veel geëet en was nooit een van die dun meisies nie. “Later het ek die een klimtoldieet ná die ander gevolg. Dan sou ek vinnig baie gewig verloor en alles weer aansit – en meer. Ek onthou hoe ek ná een van dié diëte so mooi gelyk het dat die Padveiligheidsdiens my gevra het om die kalendermeisie vir hul troepe-almanak te wees. Daar was ses foto’s – een in ’n bikini. Ek het dit gedoen en die publisiteit geniet, al was die aandag op my lyf nou nie juis iets wat my gevlei laat voel het nie, maar daarna het ek net weer alles aangesit.” Nou glo sy die probleem was al die tyd haar benadering. “’n Mens moet eers ’n gesonde leefstyl lei, dan kom die gewig vanself af. ’n Gesonde leefwyse begin tussen jou ore. Jy moet dit wíl doen, niemand gaan jou kan oorreed of dwing nie. “Ek sê nie ’n lae- GI-eetplan is die enigste manier nie, maar dis wat vir my gewerk het.” Sy het nooit honger gevoel nie en dit het ook maklik by haar leefwyse gepas. Wanneer sy werkgeleenthede moes bywoon, het sy vooraf ’n vrug geëet sodat dit nie so moeilik sou wees om die verkeerde kosse te vermy nie. Daar was ook altyd blikkies bone en vis in haar spens sodat sy vinnig iets aanmekaar kon slaan as die tyd of motivering vir kosmaak min was. Voorbereiding en balans is die heel belangrikste “Die belangrikste was net om voorsorg te tref. Ek het kos saamgeneem werk toe sodat ek nie in die versoeking gestel sou word deur wegneemetes nie.” Voorbereiding en balans was haar wagwoorde. “Ek het nooit, ooit regtig verneuk nie. Behalwe een aand reg in die begin toe ons besig was met ’n verhoogproduksie en ons laat die nag kos gaan koop het. Ek het ’n burger geëet en was so vies vir myself dat ek dit nooit weer daarna oor my hart kon kry nie.” Maar as sy die dag te veel geëet het, het sy bloot die volgende dag haar porsies ingeperk. “Ek het selfs sjokolade geëet, maar een of twee blokkies van Lindt se donkersjokolade pleks van ’n hele groot blok melksjokolade te verorber.”

 
Toe 'n dierbare pêl my die dag vra of ek 'n buite-egtelike verhouding het omdat ek so goed lyk, was dit vir my 'n wonderlike kompliment."
 
Sy het steeds gaan uiteet, by vriende gekuier en self lekker onthaal. In restaurante het sy dikwels slaai bestel en by vriende sou sy ’n klein porsie vleis inskep en haar bord dan vol groente laai. “En as hulle by my kom eet, het ek lae-GI-resepte berei en hulle het nie eens geweet hulle eet dieetkos nie!” Die moeilikste was die witbrood, aartappels en kaas wat sy heeltemal uitgesny het. Sy het self so besluit, hoewel aartappels en kaas steeds toelaatbaar was. “Ek is ’n alles of niks soort mens en vermy dié kosse eerder, want ek weet ek hou moeilik op as ek eers begin. Ek het gereken ek het byna 60 jaar lekker daaraan gesmul, ek kan nou maar regtig ophou. Dít was en is steeds nie altyd maklik nie. Sommige dae is ek vrek lus vir ’n lekker ciabatta met Franse kaas, maar ek vergeet daarvan, want daar’s genoeg ander wonderlike kos wat ek wel kan eet.” Ek het 'n affair met myself Haar vasberadenheid het vrugte afgewerp. “Al het ek dit om gesondheidsredes gedoen, is dit natuurlik ook ’n aansporing wanneer jy beter begin lyk. Toe ’n dierbare pêl my die dag vra of ek ’n buite-egtelike verhouding het omdat ek so goed lyk, was dit ’n wonderlike kompliment!” En dié keer, sê sy, weet sy die vet kom nie terug nie, want gesond eet en oefening is deel van haar leefwyse. “Jou eetplan moet vir jou werk. Ek dink dis die suksesresep. As jy dit vir jouself gaan moeilik maak deur ’n strawwe dieet, gaan jy vinnig moed verloor en dan kom die wiele af. Ek het nooit gevoel ek sukkel nie, want ek het iets gekies wat nie vir my moeilik is nie. “En nou weet ek ek lyk taamlik goed vir my ouderdom. Waar ek voorheen ’n hoop walvisspek was, is ek nou slank en gespierd, en dis ’n wonderlike gevoel. En ja, ek het ’n affair – met myself!” Vir 3 dae van haar eetplan gaan koop die Februarie uitgawe van Sarie.

Rita toe sy 108kg geweek het    Rita toe sy nog 108kg geweeg het.