Die plan was nog altyd net vyf jaar. Vir 1 825 dae sou die bekroonde akteur en regisseur Gideon Lombard deel van die gewilde kykNET-sepie Suidooster wees. Vandeesweek het kykers hom vir oulaas in die skoene van Stefan Gerber sien klim. 

“Van die begin af het ek stilweg ’n ooreenkoms met myself gehad dat ek die sepie vir vyf jaar sou doen,” vertel hy aan SARIE.com. “Ek is ’n verskriklike nuuskierige mens. Ek het nog altyd ’n prioriteit daarvan gemaak om soveel as moontlik verskillende goed aan te pak. As ek te gemaklik raak met iets, dan is dit gewoonlik die teken dat ek aan iets anders moet begin krap.”

Hy koester sy tyd op die stel van Suidooster. “Dit het op die regte tyd gekom, dis ’n wonderlike familie ... ’n uitgebreide familie wat altyd daar sal wees. Maar dis tyd vir iets nuuts en opwindends.”

Gideon se 2020 was vol opwindende vooruitsigte, maar die Covid-19-pandemie het vir eers ’n stokkie daarvoor gesteek. Nie net sou daar verskeie teaterproduksies gewees het nie, maar hy sou ook in ’n nuwe rigting studeer. 

“Ek het die afgelope twee jaar spandeer om aansoek te doen vir nagraadse studie in Europa. Ek wou lankal ’n MBA aanpak en vir ’n jaar lank het ek wiskunde studeer en toetse en opstelle geskryf. Ek het toe ingekom by een van die top-15-sakeskole in die wêreld. Ek sou in September my MBA in Madrid, Spanje, begin, maar nou hoop ek om dit in Januarie 2021 aan te pak.”

Hy het aanvanklik geworstel, maar die onseker tyd het hom opnuut perspektief gegee. “Ek het weer dinge begin waardeer wat van kleintyd af vir my sekerheid of genot gegee het. Dis eenvoudig: Klanke, reuke, beelde, woorde.”

Hy maak weer musiek, kook vir ’n vale en sy nuuskierigheid het opnuut vlamgevat. “Jy kom agter dat jy 160 km per uur leef. Dis wat die wêreld van ons vereis. Ons gun onsself baie min die geleentheid om net tot stilstand te kom. Die silwer randjie is dat ek alles kon uitkerf en reflekteer oor goed. Ek is werklik dankbaar vir hierdie stilte.”

Ná die pandemie gaan hy beslis die eenvoudige dinge meer waardeer: Om te stap, te draf, mense te omhels en gesprekke in persoon te kan voer. “Ek hou verskriklik baie van mense en om met hulle te gesels. Dis lekker dat die tegnologie hierdie konneksie steeds bied. Maar ek mis die tasbaarheid van ’n gesprek van aangesig tot aangesig.”