EK HOOP

my 17-jarige dogter, Boikarabelo, sal die waarde van ’n goeie opvoeding verstaan en soveel moontlik vaardighede aanleer. Niemand kan dít van jou wegneem nie.

die armes sal ophou om depressief te voel oor hul ellende en eerder maniere vind om hul omstandighede te verbeter. Daar is altyd iets wat ’n mens kan doen. Dalk is jy goed met jou hande of het jy ander talente.

dat ek ’n motiveringspreker kan wees, baie boeke skryf en my eie TV-kletsprogram kan hê om mense te inspireer. Ek wil hulle vertel dat Suid-Afrika baie het om te bied - dis ’n land met kulturele en musikale moontlikhede. Dis een van die Afrika-lande wat die meeste groei. Musiek dra grootliks hiertoe by. Dit was nog altyd een van die magtigste “wapens” waarmee mense hul emosies kon verwoord. Toe xenofobie ons getref het, het die kunstenaars eerste hul stemme dik gemaak.

EK IS BANG

dat ek nie genoeg maniere sal bly vind om geld te maak nie.

om in ’n kamer vol mense te wees, maar heeltemal alleen te voel. Om bekend te wees is soms moeilik en jy voel soms eensaam. Mense hang om jou rond omdat dit lekker is om naby ’n celeb te wees en om die spesiale behandeling te kry wat jý kry. Party sal selfs met glansmense trou om dié voorregte te geniet. Ek is op soek na eerlikheid en mense wat mý raaksien vir wie Gloria, die méns, is.

dat ek eendag dalk nie meer die goedheid in mense kan raaksien nie. Ons het almal sonnige en donker kante. Ons word gebore met eienskappe soos trots, jaloesie en liefde. Maar dis belangrik om te onthou ons het altyd ’n keuse hoe ons mense sien.

om sonder my kind te wees. Sy is die helfte van die tyd die rede hoekom ek soggens wakker word. Sy gee my fokus en ek is haar rolmodel. Sy is die liefste en helderste geskenk wat ek ontvang het. Sy het mý op ’n manier “grootgemaak”.

WAT EK NOU WEET

God is my alles. Ek glo in gebed. Sy teenwoordigheid in my lewe laat my nederig voel. Hy is die gewer van talente en breinkrag.

My ma, Sindisiwe, het my geleer ’n stil mens het meer impak as iemand wat baie luid is. Dis soms moeilik, veral as jy as sanger glo jyis goed. Maar as daar ’n musikale regisseur of stemafrigter by is, hou ek my opinies vir myself, behalwe as iemand vra wat ek dink. Ek reageer ook nie op swak mediaberigte nie. Só bly ek gefokus op my musiek.

Seks is vir volwassenes, nie vir kinders nie. Met tienerswangerskappe, seksueel oordraagbare siektes en vigs is dit noodsaaklik dat kinders so lank as moontlik aan hul onskuld vasklou. ’n Mens se libido begin reeds op ’n vroeë ouderdom ontwaak, maar jou brein is te onvolwasse om dié soort verantwoordelikheid te hanteer. Bly eerder langer “dom” en speel met régte speelgoed. Seuns moet ophou om jong meisies te dwing om seks te hê en jong meisies moet ophou om “in te gee” omdat hulle bang is die seuns gaan hulle los as hulle nie saamslaap nie.

Ek het dit oorleef om ’n tienerma te wees, en niks kan my onderkry nie. Ek was 17 jaar en 11 maande oud toe my dogter gebore is. Die pa wou niks met my te doen gehad het nie. Die kerk het sy rug vir my gedraai en party mense wou nie hê hul kinders moet meer met my vriende wees nie. Ek het geen werk gehad nie, net my familie se steun. God het my bygestaan. Niks het in my skoot geval nie. Ek het ’n beurs gekry en opera aan die destydse Pretoriase Technikon gestudeer. Dit het my eiewaarde gegee.

Om ’n kind alleen groot te maak is nie maklik nie, maar dit bou karakter. Baie mans wat in my belang gestel het, het die hasepad gekies toe hulle hoor ek het ’n baba . . . Maar ons twee is ’n “pakket”.

Niks is maklik nie. Moenie van iets weghardloop nie, want dan sal jy dit die res van jou lewe doen.