Dit kon netsowel 'n toneel uit Op die vrou af 2 wees. Jolette Odendaal en haar man, Harald Richter (Charl Retief in Villa Rosa), ry deur Johannesburg se strate in 'n silwer Mercedes. Die motor is oud, 'n 1973-model - Harald het dit by sy pa geërf. Skielik is daar 'n plofgeluid en Harald skreeu: "Spring!"

Jolette kan aan sy stemtoon hoor dis nie nóú die tyd vir vrae nie. Sy spring dadelik uit die Mercedes, handsak en al. En die klassieke motor, met sy stuurwiel aan die linkerkant, slaan aan die brand.

Hulle staar albei in ongeloof na die brandende kar. Terwyl hulle vir die brandweer wag, draai Jolette na Harald en sê: "Sien, as jy sê spring, dan spring ek!"

Jolette het 'n bietjie soos 'n vis uit die water gevoel in die rol van Die Vrou in die musiekproduksie Op die vrou af 2, gegrond op André le Roux se gewilde rubriek in SARIE. Dis verwerk (met regie) deur Hennie van Greunen en meer as 80 000 mense het die voorganger-stuk, Op die vrou af, gesien.

Wanneer sy op 'n verhoog staan, verkies Jolette om te sing eerder as om te praat. Boonop is dit die eerste keer dat sy haar hand aan komedie waag en aanvanklik was sy senuweeagtig. Veral om teenoor Pedro Kruger te speel, wat bekend is daarvoor dat hy mense maklik laat lag. Maar verlede jaar met Op die vrou af 2 by die Aardklop-kunstefees op Potchefstroom is die ys gebreek. Nou lê die KKNK op Oudtshoorn voor en Jolette is al lekker gemaklik in haar rol. Sy laat gehore nét so hard skater soos Pedro.

Tien jaar lank het sy haar staal as sangeres gewys in die gewilde a cappella-groep Cutt Glas. In 2004 was sy een van die hoofsangers wat gehore se asems weggeslaan het in die jazz-produksie Big Band Blast. (Dit het 5 Naledi-teaterpryse gewen.)

Hoewel sy drama aan die Universiteit van Pretoria studeer het en in haar matriekjaar 'n groot nasionale toneelkompetisie van DALRO gewen het, was musiek nog altyd haar eerste liefde.

Haar ma, Rinah, sê: "Jolette het nog net begin sit as baba, maar wanneer ons musiek gespeel het, veral Abba, het sy vorentoe geleun en haar koppie op die grond gedoef-doef-doef op die ritme van die musiek. Soos 'n metronoom."

"Op hoërskool het die lelike eendjie 'n swaan geword," sê haar broer, Jafta. Jolette was aanvanklik in die Hoërskool E.G. Jansen op Boksburg, maar vanaf graad 10 by die Pro Arte-kunsskool in Pretoria. "Sy het nie eintlik voorheen uitgestaan nie, maar toe sy Pro Arte toe gaan, het sy begin blom. Toe het haar kop in een rigting gestaan: musiek en drama," sê Jafta.

Ons gesels in haar en Harald se ruim Melville-huis met houtvloere en baie sonlig. Jolette (33) se twee bruin Birmaanse katte, Gucci en Gaudi, loop buite rond. (Gaudi is genoem na die Spaanse argitek Antoni Gaudí, wat die bekende Sagrada Família-kerk in Spanje ontwerp het. Dié kerk is in 1882 begin en is steeds nie voltooi nie.) Daar wás ook 'n derde kat, Borat met die skeel oë. Dis oor hom dat Jolette 'n tatoeëermerk laag op haar rug het . . .

Is daar 'n situasie in Op die vrou af 2 waarmee jy veral identifiseer?
Ek wil graag nee sê, maar ja: 'n Vrou raak soms knaend. Ek praat partykeer Harald se ore van sy kop af. In die stuk wil die vrou heeltyd 'n gesprek met haar man voer oor die simpelste goed. Dis nie nodig om heeltyd te praat nie!

Harald sê jy's ook lief om vanuit 'n motor se passasiersitplek te bestuur?
O, ja! Ek kort nog net my eie stuurwiel en remme aan die passasierskant. Hy bestuur goed, maar ek voel ek wil in beheer wees. My ma is presies dieselfde. As ek na haar kyk, dink ek: Oukei, it runs in the family.

Wat het jy uit die produksie geleer?
Daar kom tye dat jy en jou maat mekaar wil vermoor en nie van mekaar hou nie. Maar wat 'n verhouding of huwelik so ongelooflik maak, is die wete: Al hou ek nie elke dag van jou nie, bly ek lief vir jou. Die karakters in die stuk kom al soveel jare saam en ken mekaar se foute.

Pedro en jy moes lesse neem vir die tango-toneel. Hy wil by jou weet: Wat is die drie basiese beginsels van tango vir dummies?
Trek jou maag in, trek jou maag in, trek jou maag in!

Daar's 'n matriekafskeid-toneel in Op die vrou af 2. Vertel van jou eie matriekafskeid.
Dit was aaklig! Ek en my 'kys' het twee weke vóór die matriekafskeid opgebreek en hy het besluit om saam met my beste vriendin te gaan. My hart was gebreek. Een van my vriendinne reël toe vir my 'n date en daar daag hy op met 'n lang poniestert en 'n top hat. Hy was wonderlik, maar die aand was van die begin af 'n gemors. Hy was al in sy 30's, maar kon nie by die afskeid rook of drink nie. En hy kon nét wals, so ons het gedans as 'n wals gespeel het. Die res van die tyd het ons gesit. Dit was 'n ongemaklike aand, maar ons het op die ou einde goeie vriende geword.

Hoe het jou rok gelyk?
Dit was olyfgroen met goue kant aan die bokant. Ek't ook 'n bril met 'n goue raam gedra wat herinner aan Elton John. Ek weet nie hoekom nie, want ek dra nie 'n bril nie! Ek het seker gedink dis cool.

Vertel van jou kinderdae.
Ek het sorgvry in Boksburg grootgeword. Ek het skool toe gestap en kon kaalvoet by die skool rondhardloop. Ek het wonderlike ouers. My ma is 'n huisvrou. My pa, Koos, werk in Hammanskraal vir 'n verpakkingsmaatskappy. Ek het soveel respek vir hom. Hy het baie van sy lewe gemaak in 'n tyd toe daar nie veel geleenthede was nie. Ek was in 'n stadium verlief op perde. My pa het toe vir my 'n ponie gekoop en spesiaal 'n huisie vir hom in die veld oorkant ons huis laat bou. Ek het gevoel dit was een van die mees romantiese dinge wat 'n pa vir sy dogter kan doen. My broer is 'n vrye gees. Hy het vir maande in Afrika getoer en werk nou in die IT-bedryf.

Jolette se gunstelinge

BOEK Shantaram van Gregory David Roberts

FLIEK Mamma Mia!

AKTEUR EN AKTRISE Gene Kelly of Johnny Depp en Meryl Streep

DRANKIE Sjampanje

KOS Hoenderkerrie

PLEK Enige plek waar ek lekker kan eet en inkopies doen!

MUSIEKKUNSTENAAR Achinoam Nini, 'n Israeliese sangeres

LIEDJIE Earth, Wind and Fire se "September"

ULTIMATE FEMALE SONG "The Man that Got Away" van Barbara Streisand

VAKANSIEPLEK Goa in Indië

 
Waar kom jou musiektalent vandaan?
My pa sê dit kom van hom af. Hy het 'n sertifikaat gaan uitkrap van toe hy 7 jaar oud was en iets oor 'n koperketeltjie by 'n wedstryd gesing het - waarvoor hy 'n A+ gekry het. Maar hy's nie eintlik musikaal nie. Ek het in 'n gesin grootgeword wat lief is vir musiek. My ouers het altyd gesê as ek 'n musiekinstrument wil speel, moet ek net sê, dan vat hulle my vir lesse. Ek het klavierlesse geneem tot en met Unisa se graad 4.
Jafta, jou broer, sê jy moet vertel van die Medea and the Medix-produksie wat jy in jou tweede jaar op universiteit gedoen het.
Dit was belaglik, maar die show het in daardie stadium vir my soveel sin gemaak. Ek wou my eerste solovertoning doen. Ek het sulke donker liedjies geskryf, 'n teater bespreek en geld bymekaar gemaak om musikante te betaal. Jafta het perkussie gedoen. Die hele band moes mediese pakkies dra - doekies op hul koppe, handskoene en als - want in my kop het ek gedink: Soos wat dokters mense in 'n operasiesaal gesond maak, moet my musiek mense 'gesond' maak. Ek dink nie die gehoor het dit gevang nie. Ek het natuurlik nie 'n mediese pakkie aangetrek nie. Ek het fabulous gelyk!

Lieb Bester het konsertina gespeel op jou solo-album, Jolette. Hy sê om 'n nis-kunstenaar te wees lok nie die skares nie en laat nie die geld inrol nie. Hy vra of dit dan nog die moeite werd is om 'ware kuns' na te streef?
Beslis. Ek wil opgewonde wees oor die musiek wat ek maak tot die dag dat ek so oud is dat ek nie meer kan loop nie. Dis my loopbaan, ek moet eerlik oor my produk wees sodat ek dit oor 20 jaar steeds wil doen.

Voel jy jy't dit reeds 'gemaak'?
As jy my vyf jaar terug gevra het, sou ek nee gesê het. Maar ja, ek voel ek het dit gemaak. Ek besef nou ek is 'n niskunstenaar. Die dag toe ek besef het ek gaan nie die volgende Madonna wees nie, het ek ongelooflike geleenthede begin kry, soos om in die Engelse bedryf te werk met Big Band Blast - waarmee ek kon bewys ek is méér as die rooikop van Cutt Glas.

Wie luister na jou musiek?
Mense in hul vroeë 30's en ouer. Ek dink nie mense speel my musiek by 'n braai nie. Wel, ek speel dit nie wanneer óns braai nie. My musiek werk goed as jy rustig by die huis sit met 'n glas wyn in die hand.

Anna Davel, wat jare saam jou in Cutt Glas was, wil weet wat is jou gunsteling-liedjie om op die verhoog te sing.
"Both sides now" van Joni Mitchell. Die liedjie vat my op 'n reis, want die woorde is so mooi. Ek herontdek die woorde elke keer wanneer ek dit sing. Die laaste reël is: I really don't know life at all. Jy kan dink jy is hóé oulik en hóé grand, maar jy weet nie wat om die draai lê nie. Dit laat my voel: Leef net, want jy kan nie altyd beplan nie.

Die vermaaklikheidswêreld is onstabiel. Oorleef jy en Harald gemaklik?
Vergeleke met hoe van my vriende sukkel, kry ons maklik werk. Daar ís tye wat dit moeilik gaan. Die bedryf groei nie noodwendig saam met inflasie nie. By 'n 'gewone werk' kry jy 'n mediese fonds. Maar ons is dankbaar. Ons het 'n dak oor ons koppe. Ek was nog nooit spyt ek het besluit om te sing nie, want ek doen dít waarvoor ek lief is.

Wikus du Toit (dosent by 'n filmskool), jou beste vriend, sê jou kat Borat is deur 'n stoel doodgeval?
Dit was tragies. Ek het besluit om vir Gucci 'n maatjie te kry. Borat was baie maer. Hy was skaars 'n maand by ons toe hy en Gucci op 'n stoel in my studeerkamer speel. Ek het 'n doefgeluid gehoor en Harald het gaan kyk wat aangaan. Die stoel se een kant het bo-op Borat geval. Ek het met hom veearts toe gejaag, maar die veearts het die volgende oggend gebel om te sê hy het nie oorleef nie. Ek kon vir twee dae nie ophou huil nie. Harald het naderhand nie geweet wát om met my te doen nie. Toe vat hy my na 'n tatoeëersalon in Melville en sê: "Kies vir jou 'n tatoeëermerk, want vir die ruk wat jy dit laat opsit, sal jy nie aan Borat dink nie." Ek het 'n engeltjie op my laerug laat tatoeëer, dis Borat and he guards my back. Vir daardie rukkie hét ek nie aan hom gedink nie. Dit was blêrrie seer!

Wikus sê ook jy kan nie iets wat blou is oor jou lippe kry nie?
Ek weet nie hoekom nie, want blou is my gunsteling-kleur. Ek kan glad nie blou Smarties eet nie. As ek gaan fliek, eet ek nie Smarties nie, want ek kan nie sien watter kleur ek eet nie! Ek kan ook nie blou drankies verduur nie. Ek het een keer as kind 'n blou slush puppy gedrink wat my hele mond blou gekleur het. Ek het groot geskrik. Dalk kom my vrees vir blou van daardie ervaring af.

Toekomsplanne?
Behalwe Op die vrou af 2 voer ons vir 'n maand in Maart die musiekspel Houtkruis die Musical by die Kunstekaap-teater in Kaapstad op. Ek en Mauritz Lotz, die kitaarspeler, gaan ook deur die land toer met ons konsep-album, Kamers. Die CD is in Februarie uitgereik. 'n Platemaatskappy het ons genader om 'n Afrikaanse album met treffers op te neem. Dit sluit in liedjies soos Kurt Darren se "Hemel op Tafelberg", Theuns Jordaan se "Namibsroos", Juanita du Plessis se "Jou skaduwee", Koos Kombuis se "Onder in my whiskeyglas" en Amanda Strydom se "Ek loop die pad".