Daar’s ’n goue draad deur Charlize Theron se lewe. Sy’s ons goue meisie van Benoni, wat in 2004 die goue Oscar-beeldjie verower het vir haar hoofrol in Monster, en sy is al ses jaar lank die gesig van Christian Dior se “goue” parfuum, J’adore.

Dié parfuum, wêreldwyd Dior se gewildste, is nou tien jaar oud. John Galliano, kunsdirekteur van Dior en van die J’adore-veldtog, het Charlize om ’n goeie (gulde) rede gekies. Soos Galliano dit stel: “Goud is ’n mitiese kleur, dis sinoniem met Dior. Met haar natuurlike goue hare is Charlize die nuwe Marilyn (Monroe) van die 21ste eeu. Sy vergestalt die Hollywood-droom beter as enigiemand anders.

En hiermee moet jy saamstem as jy na hierdie agter-die-skerms-foto's kyk!

Die haute couture-rok is ontwerp deur John Galliano en is gemaak van deursigtige tulle wat met pêrels, goue buisies en blinkers geborduur is - 'n ongelooflike 300 uur se handewerk!

Inez van Lamsweerde en Vinoodh Matadin, twee top modefotograwe wat in New York woon en werk, was albei op stel.

* Kry die Januarie-uitgawe van SARIE vir splinternuwe foto's van Charlize - 'n eksklusief vir Suid-Afrika.

SARIE Januarie 2010

Lees ook die onderhoud met Charlize, waarin sy ook haar gunstelinge verklap het:

HAAR GUNSTELING...

Plek: Bora Bora

Ontsnap-ruimte: My tuin

Boek: The Road deur Cormac McCarthy

Kuns: Enigiets deur Kandinsky

Optrede: Dans was my eerste liefde, en ek geniet ballet steeds baie. Swanemeer sal altyd ’n persoonlike gunsteling wees.

Woord: Vrede

 

Sensualiteit lê in selfvertroue.
    Wanneer jy selfvertroue
  uitstraal, kan jy enigiemand
           verlei"
- Charlize