“Die eerste keer toe jy jou letsels vir my gewys het, het ek kruisies langs jou seer getrek om jou te herinner dat jy soms mag vergeet ...” Dís die woorde uit die pen van Kaalwoorde, ’n woordkunstenaar wat gereeld nuwe gedigte met haar 24 500 volgelinge op Instagram deel.

Die vrou agter Kaalwoorde is Ané Kotzé, ’n boorling van Rustenberg, wat in die Jakarandastad as prokureur werk. Maar Ané het besluit om vreesloos te wees en vanjaar haar grootste droom ’n werklikheid maak: Haar eerste digbundel.

Ané, wat een van ons Dinsdagdromers is, gee nou Engels in Kambodja en bestee haar vrye tyd aan reis, droom en skryf.

Ná elke Dinsdagdromer-sessie, ’n splinternuwe #SARIEgesels-geleentheid, gaan Kaalwoorde spesiaal iets daaroor skryf.

Ané Kotzé beantwoord ’n paar vrae:

Hoekom die naam Kaalwoorde?

Want daar is niks wat so kaal voor ’n mens kan staan soos woorde nie.

Voltooi die volgende sin: Die nag het ’n sluier oor Maandag getrek, maar Dinsdag ...

... maar Dinsdag sal weer sy kop uitsteek anderkant die berge, en sy hand vol tweede kanse oor die horison uitblaas, vir elke hart om weer te durf droom.

Hoekom het jy besluit om deel te wees van Dinsdagdromer?

Ek is mal oor die hele idee agter Dinsdagdromer, en ek dink daar sal altyd ’n platform wees om die wysheid van inspirerende vroue te deel met die wêreld. Om deel te wees van ’n projek so eg en rou is ’n absolute voorreg waarvoor ek nie kon nee sê nie en ek sien verskriklik baie uit om te sien hoeveel harte die projek gaan raak. Met SARIE en Donnalee aan die stuur, kan en gaan dit ’n ongelooflike program wees!

Wat beteken die woord Dinsdagdromer vir jou?

Hoop. Op Maandae lewe mens in die realiteit van ’n roetine en wens mens soms die dae verby, maar op Dinsdae kan mens asem skep, jouself herinner wie jy is en waarheen jy op pad is, en weer jouself toelaat om te droom. Dinsdagdromer is ’n grensverskuiwende uitkyk op die lewe, met al sy seer en mooi, en die besef dat jy nie alleen is nie, en soms met jou kop in die wolke mag loop.

Wat is jou gunstelingwoord in Afrikaans?

“Onomwonde”. Daar is nie ’n ander taal wat so mooi emosies kan vasvang soos Afrikaans nie en hierdie woord is ’n bewys daarvan.

FOTO Instagram / Ané Kotzé

Dinsdagdromer ... nóg ’n SARIEgesels-geleentheid!

Met ons eerste aanlyn kuier in April het ons saam met vroue van reg oor die wêreld die boodskap #JyIsGenoeg uitgedra.Ons het saam gelag en gehuil, maar ook praktiese lesse gedeel en vrae gevra om meer van mekaar en ons wêrelde te leer.

Uit hierdie gedeelde oomblikke het die besef gekom dat so baie van ons steeds voel ons is nie genoeg nie en so is #Dinsdagdromer gebore. Dinsdagdromer is ’n maandelikse SARIE-kuiersessie met van ons land se inspirerendste vroue.

Volgende Dinsdag, 30 Junie, deel die nuwe ma Donnalee Roberts ons virtuele rusbank met Elana Afrika-Bredenkamp, ’n ervare ma. Die tema is koffie en ma-wees met ’n hele paar verrassings! 

Koop jou kaartjie hier.