Hy is ons gunsteling-kaalkop, die man met diepte en ’n vlymskerp humorsin, storieverteller, SARIE-rubriekskrywer en kunstenaar. Ja, Nataniël is volksbesit en nou is hy terug met sy 17de produksie When Giantz Waltz wat 4de Oktober Emperor's Palace in Johannesburg.

Hy deel die verhoog met agt musikante. “Niemand verlaat die verhoog nie, almal is heeltyd besig met die show. Alles gebeur voor die mense se oë.”

En waarop presies fokus dié produksie? “Die stories is mooi, maar die stories is waar. Hierdie is eintlik ’n kursus van hoe jy in ’n bubble leef. Ek lewe in ’n bubble, ek skep totaal my eie wêreld. En dis die show, dis soos ’n handleiding van hoe survive jy die reuse.”

Die musiek en die kostuums neem die voortou. 

“Die musiek is baie accessible, dis nie my kabareterige twak nie. Dis baie soul, jazz, blues en pop, maar ook ek weet nie of dit my menopouse is nie, maar ek was lus vir wilde kostuums.” 

Dis als te danke aan Floris Louw, Nataniël se bekroonde ontwerper van die afgelope 18 jaar. “Ek dra berge en geboue. Ek sal nooit kan aftree nie, my kostuums het my bankrot gemaak. Ek sal eendag in ’n ouetehuis lê in ’n goue jas met ’n bedpan.”  Floris het ongeveer ’n jaar lank aan die kostuums gewerk. Die stel is minimalisties, met alle fokus op die skouspelagtige kostuums. 

FOTO Michael le Grange vir SARIE KOS Lente 2017-uitgawe

Nataniël is nie bang vir werk nie en hy wil net die heel beste vir sy getroue gehoor gee. “Ná 35 jaar wil ek kan sê: hier is ek, dis die beste wat ek kan doen’. Al my skills en ondervinding. Alles gee ek nou vir jou hierso. Mense moet weet dat ek ’n verhoog met volkome nederigheid en vrees betree.” 

Vir Nataniël is dit belangrik dat die produksie baie meer as net die gewone vir die gehoor bied. “Die belangrikste ding vir my as ek op die verhoog is, is dat mense vir 90 minute vergeet van die hele wêreld. Dat jy jou selfoon afsit, jou sigarette wegpak en jou pille vergeet, nie drank nodig het om my te geniet nie en dat jy saam met my in ’n wêreld ingaan. As daai lig aangaan moet jy vergeet van elke pyn in jou lyf, van elke fight wat wag by die huis, van elke deadline. Entertainment moet jou net so ver weg van jouself vat soos wat dit jou na jouself toe vat, altwee moet gebeur. Al vat jy niks weg nie, wil ek hê dat jy anders as ’n reus ligter wegloop. Dat jy dink daar is nog bietjie magic in die wêreld.”

Dis waar ek hoort, ek is dood happy op die verhoog.

Vroeër vanjaar het Nataniël saam met ’n handvol kunstenaars in ’n retro-Kombi plattelandse dorpies ingevaar. Optog! is ’n gedekonstrueerde kunstefees versprei oor ’n paar maande. Die kunste kom dorp toe. Daar word in teaters, skoolsale en stadsale opgetree op dorpe soos Kathu, Malmesbury, Hermanus, Roodepoort, Colesberg, Welkom, Sasolburg, Ermelo, Kuruman en Tzaneen, om maar ’n paar te noem.

Nataniël bring gereeld die kunste na die platteland toe. “As daar iewers ’n klein Nataniëltjie sit op ’n dorp, dan is dit my plig om vir hom iets te vat.”

Dis vir hom belangrik om die plaaslike gemeenskap aan te moedig om die plattelandse dorpe se stadsale en fasiliteite in stand te hou. “As jy een mens kan inspireer en sê hoor hier dit gaan nie goed hier nie. Jy vat nou hier oor. Daar is fantastiese geboue en argitektuur, daar staan verwaarloosde vleuelklaviere. Ek probeer by elke dorp waar ek gaan om iemand te inspireer om te sê jy moet nou hierdie dorp onder jou vlerk neem. Jy moet die jeug inspireer. Dit is nie geld nie, dis ’n mop, ’n boks kerse en dan het jy ’n bietjie magic.”

Solank as wat die infrastruktuur daar is, sal die kunste dorp toe kom. Dis juis wat Optog! sover in geslaag het. "Ek is nie gebou om op ’n lapa te sing of op ’n skougrond nie. Ek wil sing in ’n saal, of ’n kerk of ’n stadsaal of ’n teater. Daar moet ’n magic plek op jou dorp wees, dit het my as kind gevorm. Ek was histeries as daar ’n poster op die dorp verskyn, vir ’n maand lank het ek nie geweet wat om my aangaan nie.” 

Daar is 12 vertonings van When Giants Waltz van die 4de tot die 27ste Oktober by Emperor's Palace. Kaartjies beskikbaar op Computicket.

Hier is ’n voorsmaak van dié produksie:

FOTO Bernard Brand
FOTO Bernard Brand
FOTO Bernard Brand