Hannes Muller sê in 'n verklaring hy en die verlamde sanger is goeie vriende en het al baie saam gholf gespeel.

“Ek en Frans Swart, vervaardiger van Grotman, het vinnig koppe bymekaar gesit en dadelik besluit dat ons graag ‘n konsert vir Mathys wil reël om te help met sy groot mediese uitgawes. Dis werklik die minste wat ons as kunstenaars vir mekaar kan doen en ons vra al die mense om hierdie spesiale konsert van Grotman te kom ondersteun.”

Frans Swart, promotor en ook besturende direkteur van Lefra Produksies, sê dit was vir hom ‘n baie groot skok toe Oos-Rand Stereo hom by die KKNK geskakel het om die nuus van Mathys se ongeluk te vertel.

"Ek en Mathys loop werklik so ‘n lang pad. Ek dink aan ‘n eerste konsert wat ons van hom as jong kunstenaar by die Grahamstadse Kunstefees gaan bywoon het. Hy was in ‘n horrible klein venuetjie en die show het eers ná elf die aand begin. Dit was sy Leonard Cohen-show. Daardie gehoor het hom so vasgehou en ondersteun en wou hom glad nie laat gaan nie. In tipiese Mathys-styl het hy ná die soveelste encore gesê al sy Leonard Cohen-liedjies is nou klaar, maar hy ken Koos du Plessis-liedjies. En toe doen hy vir ons sy hele Koos du Plessis-show. Ons het konsert saam met Mathys gehou tot die son opgekom het en daar het ek hom sommer vir sy eerste teater-show by die Springs Stadsteater bespreek. Ons het daarna wonderlike konserte saam gedoen en ons was ook bevoorreg dat Mathys by ons troue opgetree het,” sê Swart. "Mathys is ‘n vasbyter. As ek sien hoe hy vasgebyt het om uiteindelik as professionele sanger te slaag, glo ek dat hy ook gaan vasbyt om volkome te herstel – al is dit as parapleeg. Ons gebede en gedagtes gaan uit na Mathys en sy familie en ons wens hulle almal baie sterkte toe.” Besprekings kan gedoen word by Computicket, 083 915 8000 of www.computicket.com. Groepe van meer as 10, skakel Cecile Kleyn by 011)815 3000 of besoek www.grotman.com of www.lefra.co.za.

Mense wat geld wil inbetaal in die Mathys Roets Trust kan dit doen in die volgende bankrekening:

Beukes – Sikhala Prokureurstrustrekening
Nedbank
Rekeningnommer 1468 137 824
Takkode 146805

BAIE BELANGRIK:
Die verwysing “MATHYS ROETS” moet op alle deposito-strokies of elektroniese oorbetaling aangedui word

Dokters het gister bevestig dat die Suid-Afrikaanse sanger Mathys Roets verlam is ná sy motorfietsongeluk 'n week gelede, berig Die Burger. Hy het 2 rugwerwels gebreek

Die hele land dink steeds aan Mathys Roets en sy familie nadat 'n neurochirurg, dr. Daniël Hugo, gister ná verskeie toetse bevestig het dat hy verlam is. Boodskappe van bemoediging het gister ingestroom, veral op Facebook.

Lucas Maree het op Facebook geskryf: "Om parapleeg te wees beteken dat die verlamming in die onderlyf is. Die goeie nuus is dat hy nie die gebruik van sy arms, skouers, nek en bolyf verloor het nie. Hy mag dalk nie dadelik lus voel daarvoor nie, maar hy sál kitaar kan speel en hy sál kan sing." (Bron: Die Burger)

Mathys is ook 'n ywerige natuurfotograaf. Voor sy ongeluk het hy vir SARIE 'n paar foto's gestuur: "Ek kan nou weer tyd spandeer aan my groot liefde – natuurfotografie. Dis mos maar ‘n alleen-stokperdjie. Toe ek getroud was, het ek verkies om ander goed saam met my gesin te doen.”