Tannie Rietha Kruger se parfuum het altyd in die lug gehang. Wanneer ?sy verby hom gestap het, het die ?eksotiese speserygeur van naeltjie en sandelhout haar soos ’n skaduwee agtervolg. Vandag nog voer die reuk van Estée Lauder se Cinnabar hom terug na sy grootword-dorp Vryburg in Noordwes; na die ballet-ateljee waar die vrou met die warm, borrelende persoonlikheid hom geleer plié en pirouette het.

En glo dit of nie, maar voordat hy ?ballet ontdek het, was Hannon Bothma – vandag bekend as die stylvolle, keurige en flambojante Glam Guru – ’n baie mededingende Cravenweek-rugbyspelertjie. Hy het met oorgawe deelgeneem (soos hy alles doen), en “behoorlik woes en rof” gelyk ná ’n wedstryd, “veral as jou kop so ’n paar keer tussen twee stutte ingedruk was!”

. . .

“Op laerskool was ek altyd min of meer die langste en die sterkste van die seuns. In ’n losgemaal kon ek elke bal kry. Ek kon nooit goed skop nie, maar ek was my span se troefkaart in lynstane. Ek kon hoër spring as enigiemand anders om die bal te vang, dalk danksy ballet.”

Toe hy die Cravenweekspan haal, was dit ’n groot ding in die familie, ?sê hy.

Een van sy trotsste oomblikke was in standerd vyf, toe hy een middag teen ’n nabye dorp, Schweizer-Reneke, gespeel het. “Een van my neefs was in die opposisiespan. Daardie middag het ek vier drieë gedruk en die familie (wat seker maar agter hul hande gepraat het van die ballet-enetjie van die familie) was daar om dit te sien.”

* In die Maart-uitgawe van SARIE (vanaf 13 Februarie 2012 op straat) vertel hy hoe sy pa oor sy ballet gevoel het, hoe 'n "verfynde siel" deur skool gekom het en hoe hy sy sakeryk opgebou het.