Frank as Hansie. Gee hom so een kyk, en jy weet: Dit gaan werk. Dié man het ’n manier met woorde, hy’t ’n innigheid en ’n iets wat grens aan brose intensheid - nes Hansie Cronjé gehad het. Dieselfde broeiende oë. Daardie middel-van-die-dag stoppelbaard . . .

Maar dis veel meer as net die fisieke ooreenkomste wat opval. “Dié rolprent oor Hansie gaan mense verras, ek weet dit net. Dat sy eie broer, Frans, die vervaardiger is, sê al iets van die aard van die fliek,”meen Frank. (Frank? Ons almal ken hom dan as Francois Rautenbach van 7de Laan? Hy is verkeerdelik Francois genoem in die kredietrol van dié gewilde sepie: “Almal wat my ken, noem my nog altyd Frankie.”)

Die fliek kyk grootliks na die lewe van die mán Hansie, nie net die krieketfenomeen of die sensasionele media-verhale rondom hom nie. Dit gaan spesifiek oor sy innerlike stryd, en die moeilike tyd ná sy “val”. Om ’n fliek te maak oor so ’n omstrede persoonlikheid kan maklik verkeerd loop. Maar met sy broer wat die leisels vashou, kan ’n mens ’n intiemer, warmer weergawe verwag. “Ons het Frank gekies, aan die een kant omdat hy bewys het dat hy dieselfde deursettingsvermoë as Hansie het. Aan die ander kant het hy die fisieke vermoëns om die rol te speel,” sê Frans Cronjé. “Hulle deel ook dieselfde wortels - sy pa en ons ma het albei in Winburg grootgeword, so, hy verstaan daardie deel van ons goed. Sedert Hansie se dood het Frank vir my persoonlik die een vriend geword met wie ek kan gesels soos met Hansie.”

Frans sê hy het baie vrede oor Hansie. “Ek moes sy lyk gaan uitken die dag ná sy dood, en toe kon ek sien: Sy gees is klaar weg, dis net die liggaam wat hier lê. Hy was maar soos enige ander ou se broer - ons het van kleins af geweet ons gaan albei sport speel en so goed as moontlik. So, die feit dat hy vir SA gespeel het, het nie as ’n te groot skok gekom nie! Dit was bedoel om so te gebeur. As persoon het veral sy vermoë om die beste uit mense te haal geblyk. Dít kom sterk uit in sy biografie - ons het sowat 40 mense uitgevra oor hul verhouding met Hansie. Dit was ook so as broer, familielid. Altyd lekker om saam met hom te wees, hy het ’n mens laat goed en belangrik voel. Hierdie ding wat ek nou aanpak, die fliek, is ’n groot geloofsaksie. Hansie het self die potensiaal daarvoor uitgelig.”

Verfilming begin in September. Intussen is daar ’n ander rolprent waaraan Frank en Frans, as vervaardiger, saamwerk Faith Like Potatoes. Die regisseur is Regardt van den Bergh. En ’n voorsmakie van 20 minute dáárvan het my aan die tjank gesit. Die geloof, ja. Die swaarkry en verlies, ja. Die storielyn, gegrond op ’n ware verhaal, absolúút, ja.

Dis die gesig van ’n donkerder Frank Rautenbach in die rol van Angus Buchan wat jou in die maag tref. Nou vertrek van woede (dié Angus was kwaad vir die wêreld), nou verruk in pyn (ná die verlies van sy broerskind), netnou verhewe in ’n bo-wêreldse geloofsbelewenis. “Dis ’n fliek oor bevryding en vernuwing, oor geloof - maar op ’n spirituele vlak eerder as ’n didaktiese vlak,” vertel Frank entoesiasties terwyl ek en fotograaf  Inge met groot oge in een van die kantore by Global Creative Studios in Kraaifontein, Kaapstad, aan sy woorde hang. “Baie soos Field of Dreams (’n 1989-rolprent), jy weet, die build it and they will come-beginsel.”

Of soos The Milagro Beanfield War (1988), gegrond op John Nichols se gelyknamige boek), klink dit my. Die storie van hoe mense uit hul benouende en arm omgewing kon ontsnap deur dinge in die grond te druk en dit met ’n diepe afwagting en geloof besproei.“Faith is die ware verhaal van ’n boer wat in die sewentigerjare uit Zambië Suid-Afrika toe gekom het - hy het alles verloor. Hy en sy vrou en hul drie kinders het in ’n woonwa op ’n braak stuk land gebly, die land wat later sy boerdery sou word.”

Hoe het dit gebeur dat jy die rol van Hansie gekry het?
Dit het maar met Faith Like Potatoes gebeur. Ek het baie gehou van die draaiboek - en ook van Frans en Regardt se aanslag. Niks word in jou keel afgedruk nie. Dis eerder ’n respekvolle kyk na die rol wat ware geloof in ’n mens se lewe kán speel. Hoe dit jou heel kan maak. Dus, toe Frans my vra om die rol van Hansie te speel het ek sonder om twee keer te dink, ja gesê.

Wie speel Bertha?
Die rol van Bertha is nog nie toegeken nie, maar dit sal ’n besonderse aktrise moet wees. Bertha is (en was, destyds) ’n baie spesiale vrou. Sy is deur hel saam met Hansie, en ook daarna met sy ongeluk. Dit sal ’n aktrise moet wees wat daardie geweldige innerlike krag, maar ook broosheid, natuurlik en met grasie sal kan oordra.

GUNSTELINGE

KOS: Sushi, Thai, filet met camembert-kaas, versuikerde vye en geroosterde kasjoeneute
DRANK: Goeie rooiwyn, veral die merlot van Thelema
PLEK: Hermanus
MUSIEK: U2 is heel bo-aan die lys, en ek luister deesdae na Kean. Opera ook - dis ’n manifestasie van passie
AKTEUR: Kate Winslet, Matt Damon
BOEK: Chronicles of Narnia deur C.S. Lewis (al 7)

Het jy vir Hansie geken?
Ja, toevallig. Frans was destyds die groot krieketspeler in die familie en hulle het naby ons in Oos-Londen kom krieket speel. Hy is deur ’n opslagbal getref en my pa was destyds die dokter op die dorp. Ek was nog klein, ’n tjokker. Só het dit gebeur dat ek en Hansie toe agter in die tuin krieket speel terwyl my pa na Frans omsien. Jare daarna, toe ek van oorsee terugkom, sien ek in die koerante die einste Hansie, toe reeds die groot ster aan die SA sporthemel. Ek en Hansie het mekaar nie weer ná daardie dag gesien nie. Ek het in 2005 vir die eerste keer met hulle kontak gemaak toe Frans my met ’n navraag gebel het. Ons het begin gesels, en hy vertel my toe die storie oor die foon en so maak ons toe weer vriende. Frans kon daardie dag in ons agtertuin goed onthou.

Op watter deel van sy lewe gaan die fliek fokus?

Die fokus gaan beslis val op die lewe van Hansie ná die King-kommissie. Daar is destyds so baie geskryf oor “die val van Hansie” en “wat verkeerd geloop het” en die sogenaamde wedstrydknoeiery . . .  Maar hy het in sy eie woorde nooit ’n wedstryd uitverkoop nie, hy was eenvoudig té mededingend. Maar hy het wel geld ontvang vir inligting, dit het hy erken. In elk geval, die fliek is, soos met  Faith, die verhaal van een man wat alles verloor het, en hoe hy weer opgestaan het. Homself gevind het, selfrespek teruggekry het, vrede gemaak het, herstel is. Dis maklik om menslik te wees, om foute te maak en te val. Veral as jy so in die openbare oog is soos hy was. Maar om weer op te staan, en weer betekenis te vind, gebeur min. En dis ’n deel van sy storie wat nog nie vertel is nie. Krieket was nie die somtotaal van die mens nie. Mense weet nie eintlik wat die laaste twee jaar van sy lewe gebeur het nie.

Hoe berei ’n mens voor vir so ’n rol?
Wel, die eerste ding wat van Hansie opgeval het, was dat hy fisiek die beste krieketspeler nóg wou wees. Dus is daar ’n sterk atletiese aspek by die rol betrokke. Ek gaan hard moet swoeg! En eet soos hy, niks gemorskos nie. Maar die ideaal is ook om in sy kop in te kom. Ek het met sy ouers, ook met Bertha en natuurlik met Frans gesels. Ek het ook die boek oor sy lewe gelees. Fassinerend. Ons het ook by sy alma mater (Grey Kollege in Bloemfontein) gaan kuier en met die skoolhoof, Johan (Vollies) Volsteedt, gepraat. Vir die Grey-manne is Hansie steeds ’n held. Vollies onthou homas ’n gewilde, standvastige en besonder gedrewe leerling. Daar is nog steeds ’n houtstoel in die skoolsaal met ’n koperplaatjie waarop sy naam staan. En hy is op die ererol, en sy foto op die skool se eremuur . . .

Ek het netnou opgewonde geluide in die gange gehoor? Wat gaan aan?
Ons het pas gehoor ons het ons groenkaarte gekry om in Amerika te mag werk en woon! Of ons dit gaan doen - en ons moet binne ses maande - sal ek en Leigh (sy vrou van tien jaar) nog sien.

(Ek maak sommetjies.) Dit beteken jy was maar so 24 toe julle getroud is?

Ja, as jy so jonk trou, is dit nogal ’n uitdaging. Albei van ons het geweldig ontwikkel en gegroei, nie noodwendig altyd in dieselfde rigting nie. Maar dit hou en dit wérk!

Jy was glo in Los Angeles. Vertel bietjie meer?
Wel, soos enige akteur wat vir ’n groter gehoor wil speel, het ek ook maar soontoe gegaan. Dis waar jy raak gesien word, en ’n mens probeer oral. Dis ’n tawwe lewe as jy (nog) nie jou stempel afgedruk het nie. Alhoewel, Suid-Afrikaners kry ’n al hoe hoër profiel daar, veral nou met die suksesse van ons rolprente en akteurs die afgelope paar jaar.

Wat sou jy doen as jy nie ’n akteur geword het nie?
Ek het aanvanklik sport gespeel, ek was juis vroeër jare in Frankryk om rugby te speel. Ek veronderstel ek sou by die sportwêreld betrokke gewees het. As ek jonger begin het, sou ek beslis veral gholf ’n kans gegee het . . . Maar ek het ook in die ekonomie gestudeer. Die akteurding het onverwags gekom. Het dit nie beplan nie, dis iets wat met my gebeur het.

Hoe?
Ná skool het ek by Rhodes gaan swot en is toe oorsee. In Londen het ek aanvanklik modelwerk gedoen - dis baie geld vir min werk, as ek nou eerlik moet wees. Terug in Suid-Afrika het ek in die Kaap aangegaan met modelwerk, het begin TV-advertensies doen en dis bietjie waar die gogga gebyt het. Ons het sowat 12 jaar gelede selfs internasionale advertensies gedoen. My agent was die eerste een wat my aangeraai het om aan akteurswerk te dink - ek het geweet dis iets wat ek sal kan doen en het in dit  “ingegroei”. Ek sou sê my eerste “hoofrol” was die Mentos-advertensie - een wat tot vandag toe nog in die VSA en elders gewys word. Dis op VH1 as een van die negentigs se “kultus”-advertensies aangewys. Dit was so onnatuurlik ordentlik tussen al die grunge wat destyds so die mode was! In 1993 het ek ’n kleinerige rolletjie as ’n gewese polisieman in Londen gespeel. Toe gebeur die rol van Tiaan in 7de Laan hier. Daarna het ek nog La’t Wiel! op kykNET aangebied en nou . . . wel, hier’s ek nou.

Is jy gelowig?
Ja, ek is. Maar nie op ’n selftevrede, veroordelende manier nie. Ek sien dit te veel onder Christene en ander geloofsgroepe. Georganiseerde religie is anders as geloof, glo ek. Diepe geloof is soos ’n karaktertrek, dis deel van jou. En dit beïnvloed absoluut elke sfeer van jou lewe. Dis waaroor die Hansie en die Faith-flieks ook gaan. Nie oor kerk en dogma en daai dinge nie. Oor dít wat binne-in jou leef, wat jou lewensuitkyk vir jou bepaal. Die dinge wat jou rigting gee.

Wat gee jou rigting, wat inspireer jou?

Mense wat potensiaal in jou sien, dit wat jyself nie sien nie - en dat hulle dit kan oordra. En natuurlik omgekeerd ook: Om potensiaal in iemand te sien en dit te ontgin. Dan is daar iets wat ek self geskryf het in ’n liedjie, onlangs, en ek glo só daaraan: Life goes by, in the blink of an eye, so love someone and make them smile . . .  Wat dit beteken, is: Maak jou gebroke verhoudinge eerder reg as weg. Sommige dinge kan jy nie meer red nie, ja. Maar daar is altyd ’n kans. Toe Nico (Panagiotopoulos) van 7de Laan se ma onlangs oorlede is, bel hy my, baie emosioneel, en sê: “Frankie, bel jou ma, nóú! Want ek kan nie meer my ma bel nie . . .  ”

Wat is jou slegste gewoonte?
Ek is ’n vreeslike emosionele fooitjie-geër - ek sal groot sakke geld uithaal vir goeie diens. My vrou is baie meer die een wat sommetjies maak as sy iemand ’n fooitjie gee.

       ***

Hollywood, maak dus gereed. Hier kom nóg ’n talentvolle Suid-Afrikaner. En hy is passievol. Hy laat selfs ou joernaliste tjank. En sy naam is Frank Rautenbach. Frankie, nie Francois nie.