Jare terug het hy die poppe vir Mina Moo en Mannemarak geskep. As marionetmeester het hy ook lewe gegee aan Kwaaitjie Kabouter in Liewe Heksie en Wielie Walie se Sarel Seemonster. Op 51 speel Hansie Visagie steeds pop. Hy het gehelp om die poppe vir 7 van die programme op KOOWEE, die nuwe kinderkanaal, te skep. Jy móét 'n bietjie van 'n kind wees om 'n pop te kan maak, het Charis Labuschagne by die bekendstelling van KOOWEE uitgevind.

Hoe besluit ’n mens om poppe te maak?
Ek het in st. 4 (graad 6) na 'n poppekas by 'n kermis gekyk. Ek het tóé besluit ek wil poppe maak. Dit het my gefassineer. Ek het selfs op hoërskool die gordyne by 'n poppespel oop- en toegetrek.

Hoeveel poppe het jy vir KOOWEE gemaak?
Sjoe, te veel om te tel. Ek het saam met 'n span gewerk om poppe vir 7 programme te ontwerp en te maak. Ons het 18 poppe net vir Glub-Glub en Matilda gemaak! Ons het al 'n jaar terug begin.

Voel jy nog soos 'n kind?
Ja, dit voel of ek 14 is, hoewel ek nie meer so lyk nie. Ek het nog altyd gesukkel met “grootmens-kommunikasie”. Iemand het my een keer gevra of ek 'n escapist is. Die vraag het my onkant gevang, maar ek het besef ek ís een. Ek ontsnap van die werklikheid deur poppe.

Wat was jou gunsteling-pop oor die jare heen?
Niks kon my nog so opgewonde maak soos Knersus nie.

Wat doen jy behalwe om pop te speel?
Ek gee klas by City Varsity (media- en kreatiewe kunste-skool) in Kaapstad se kunsdepartement. Ek leer studente grotendeels oor beeldhou se gietprosesse.

*KOOWEE skop 4 April op DStv se kanaal 307 af. Besoek die webwerf by www.koowee.tv