Dekades later wou hy vir hierdie dorp ’n kunstefees teruggee . . . en só is die Hessequa Harmonie gebore.

Watter kleintyd-herinneringe koester jy van jou geboortedorp, Heidelberg?

Ek onthou hoe lekker ek kon konsert hou in die Hansie en Grietjiespeelskool. Ek het ’n dorps- en ’n plaasouma gehad, wat my verskeie waardes geleer het. As plaaskind was ek van graad een af in die dorpskoshuis – dieselfde een waar my pa sy volle skoolloopbaan was. Ek het eendag histeries my ma met ’n vyfsentmuntstuk van die tiekieboks af gebel . . . ek het waterpokkies onder lede gehad en gedog ek gaan dood. Ek onthou: ’n Banana boat in die Wimpy, toast met tee en kinderkrans op ’n warm dag. Nou, op amper 40, herbesoek ek die dorp gereeld. Heidelberg is my heimat. Ek wend kultuur as kuur in die Hessequa-streek aan.

Drie jaar gelede het jy die fees Hessequa Harmonie op Heidelberg begin. Vanwaar die naam?

’n Naam is een van die twee dinge waaraan iemand of iets geken en onthou word. Die ander een is karakter. Hessequa is die naam van die Suid- Kaapse munisipaliteit en verwys na die inheemse Khoi-stam wat honderde jare gelede hier gewoon het: Die mense van die bome. Met die Europese dorpsnaam Heidelberg, die Khoi-woord Hessequa en die sosiaalwetenskaplike en musikale term Harmonie . . . hoe dan nou anders as die Hessequa Harmonie op Heidelberg?

Waarom het jy besluit om die fees in September in lewende lywe aan te pak en nie virtueel te laat plaasvind nie?

Mense het ’n behoefte aan behoort, aan uitkom, om te gesels, om iets moois saam te beleef . . . die mens is ’n groepsdier. Sonder inkomste kan die kunstenaar nie leef nie, maar sonder applous kan hulle nie oorleef nie.

Watter drie Suid-Afrikaanse kunstenaars bewonder jy die meeste en hoekom?

Die sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers. Hy is die meester van die Afrikaanse liedteks. Elna van der Merwe, ’n gevierde pianis, want haar musikaliteit is ongeëwenaard. En die skrywer Riana Scheepers vir haar skat van skryfkuns en inspirasie wat sy aan so baie kreatiewe siele bied.

SARIE se 2020-leuse is #JyIsGenoeg. Het jy ook eens in jou lewe geglo jy is nie goed genoeg nie, en hoe het jy dit oorkom?

Die kunstenaar wat glo dat hy of sy ten volle genoeg is, kan moontlik die drif om weer en weer te skep verloor. Die kunstenaar word juis gedryf deur die nood om beter te wees. Ek voel gereeld nie goed genoeg nie . . . dis hierdie effense onsekerheid wat die kuns binne die kunstenaar slyp.

As kunstenaar moes jy dikwels meer “nee” as “ja” hoor. Hoe het jy geleer om nie op te gee nie maar aan te hou? En wat as jou raad vir opkomende kunstenaars?

Luister baie mooi wanneer daar “nee” geuiter word . . . Maak doodseker of dit nyd of waarheid is. Om ’n kunstenaar te wees gaan nie oor die aanhouer wat wen nie; nie almal is kunstenaars nie. Daar moet ook mense wees wat dit net kan waardeer, en musikale predikante, kunstige huisvroue en Afrikaansonderwysers wat mooi verhale kan skryf. Jy sal weet as die verterende vuur van kreatiwiteit in jou brand. Slegs dan behoort jy werklik gehoor te gee. Slegs dan is die antwoord “ja”.

Watter liedjie roep onmiddellik nostalgie en herinneringe op?

Die stem van Gé Korsten. Bykans enige lied wat hy gesing het – vanaf sy enigmatiese vertolkings van operette tot by ligter musiek. Sy passie, sy stem, sy sjarme. En Richard Clayderman. My ouma het altyd vertel hoe ek as driejarige gepleit het: “Speel die classics!” My droom was aanvanklik om ’n klavierspeler en begeleier te word.

Stadig maar seker gaan ons weer begin reis. Watter drie plekke in ons eie land behoort alle Suid-Afrikaners in hul leeftyd te sien?

Die Tuinroete is van Augustus tot Desember beeldskoon, en al die klein hotelle en plaasgastehuise in die streek is ’n moet. Prins Albert se strate, restaurante, hotel, pannekoeke op ’n Saterdag, sit op die hotel se stoep, wyn, olywe, kuns . . . alles van dié Karoodorp is hemels. Matjiesfontein – daar loop partytjiegeeste en ander geeste saamsaam in die hotelgange rond.

Wat is die mooiste woord in Afrikaans?

Melancholie. Dis asof ek die woord melodie ook daarin hoor weerklink.

Oor die eeue heen het teater keer op keer terugslae beleef, die Covid-19-pandemie is geen uitsondering nie. Dink jy teater gaan soos ’n feniks uit die as opstaan, of is vernuwing van die model dringend nodig?

’n Konsertgees of die gees vir konserthou is onblusbaar.

En feeste – moet die resep verander?

Daar is niks fout om op die meer intieme te fokus nie. Size doesn’t matter. Ek glo dat ons nou op kleiner teatergebeurtenisse moet fokus. Daar is nie werklik ’n ander opsie nie. Maar ons sal sien in watter mate Suid-Afrikaners geestelik van die huidige skrikbewind gaan herstel. Dít sal die groot antwoord op feeste en die bywoning daarvan wees. Ons mense is bang. En dit moet sensitief reggestel en oorwin word.

Is daar ’n aanhaling wat jy as ’n lewensleuse toepas?

’n Frase uit die Amerikaanse liedjieskrywer Eden Ahbez se “Nature Boy”: “The greatest thing you’ll ever learn, is just to love and be loved in return.”

As jou lewensverhaal in ’n rolprent uitgebeeld word, wie moet die temalied skryf?

Die rolprent sal in Afrikaans wees, daarom sal ek vir Coenie de Villiers vra, sodat woord en musiek mekaar volmaak kan ontmoet.

Jy kan een gesprek met ’n kunstenaar uit die verlede voer. Wie sou dit wees?

Die oorlede Belgiese sanger Jacques Brel. Ek sou graag saam met hom ’n paar lang sigarette by ’n klein tafeltjie buite ’n straatkafee wou rook. Ek sou hom dan vra hoe hy geweet het wanneer hy die aand goed genoeg was.

Blitsvrae met Niël

GUNSTELINGKLEUR Geel

GUNSTELINGDAG IN DIE WEEK Maandag

GUNSTELINGGEREG Enigiets wat soet is

GUNSTELINGITEM IN JOU KLEREKAS Franse weermagbaadjie

GUNSTELINGSTAD IN DIE WÊRELD Amsterdam

GUNSTELINGKOMPONIS Rachmaninoff