Hulle is ons eerste twee Idols-wenners, Anke Pietrangeli en Heinz Winckler.
En hulle weet hoe dit voel om agter daardie mikrofoon – en voor daardie beoordelaars – in te
skuif. Is hulle nog aan die gang?

Heinz Winckler en Anke Pietrangeli …
Ooreenkomste:
Hulle is albei Afrikaans. Hulle het albei Idols gewen, hy in 2002 en sy in 2003.
Hulle het albei hul studie onderbreek om deel te neem – hy in die regte en sy sportbestuur – en sedertdien nie weer teruggekyk nie. Albei is blond. Hulle het albei Duitse bloed in hul are. Albei het buite die grootstad grootgeword – Heinz op Stellenbosch en Anke op Kimberley. Noem net hul voorname en almal weet van wie jy praat.
Verskille:
Wel, manlik en vroulik. Hy lank en sy ’n kortetjie. Hy is beredeneerd en kalm, en sy is ’n borrelende, spontane platjie. “Rabbedoe” is daardie mooi woord wat onwillekeurig by my opkom. Hy is nogal waaksaam; sy praat voordat sy dink. En hulle is groot vriende.
Benewens dié twee het die Idols-kompetisie heelparty voltydse kunstenaars opgelewer: Melanie Lowe, Brandon October, Ezra, Bianca le Grange, hartebreker Jacques Terre’blanche en die skone Ayanda Nlangothi, wat op pad Broadway toe is.
Vanjaar is die afsny-ouderdom verhoog tot 30 (teenoor 24 vroeër). Met die derde kompetisie in Suid-Afrika nou amper verby, het die kollig weer op die eerste twee wenners geval.

ANKE
Anke het pas van die vliegtuig afgeklim en haar na die hotel gehaas waar ons mekaar ontmoet. Bietjie windverwaai en sonder enige grimering.
“Ek haat grimering. Maar as ek optree, moet ek dit dra, want ek het dié scar ...” Sy wys na die sny onder haar oog. “En ek is baie trots daarop! ’n Hokkiebal het my daar getref. Maar, guys like girls with scars,” giggel sy.
En sy het sproete, beduie sy terwyl sy so een-een op hulle tik.
Sy bel ’n vriendin en nooi haar om oor te kom. Verduidelik dat sy ook nie van hotelle hou nie. Hotelle, grimering en alleen-wees, dis haar drie grootste gruwels.
Voorverlede jaar tydens die Idols-kompetisie was sy van die begin af een van
die oorweldigende gunstelinge. Haar varsheid, en die kombinasie van ’n ryk stem en haar selfvertroue, het die harte van die kykers en keurders gesteel.
Haar eerste solo-liedjie, “Silver Lining”, het haar verdere sterstatus besorg en so ook haar CD-debuut, By Heart, in 2004.
“Ek kyk hierdie jaar vir die eerste keer Idols en wonder: Jis, het ons ook só gelyk?
So jonk en nervous en ongeskool? Dalk het ons!”
Sy bestel ’n Southern Comfort en limonade. Vertel entoesiasties van haar nuwe huis in Durbanville, Kaapstad, wat sy met haar vriend, Tommy, deel.
“Ek is mal oor die Kaap! Almal het vir my gesê ek moet hier, in Johannesburg, kom
woon, want dis mos waar die kern van die bedryf is. Maar my hart is dan in die Kaap?
“So, ek het soontoe getrek. Maar ek is darem dikwels hier bo vir optredes.”
Benewens die Duitse bloed, het sy ook Italiaanse bloed. Vandaar die van: Pietrangeli.
“Ek het Afrikaans grootgeword – my ma is Afrikaans – maar het beslis Duitse
bloed in my are. Vandaar die deursettingsvermoë.”
En die Italiaanse bloed sorg beslis vir die lewenslus en entoesiasme.

Het Idols jou lewe verander?
Verskriklik baie. Ek dink ek het binne ’n jaar grootgeword. Dit was aanvanklik baie
rof, soms met tot 15 optredes per maand. En my stem was toe nog nie so geoefen nie. Toe besluit ek: Hokaai! Kom ons bekyk die hele storie en beplan beter. Nou tree ek minder op, gee aandag aan die res van my lewe en werk in die ateljee aan opnames.
Ek het aanvanklik baie swaar gekry onder al die druk. Dit was tough. My lewe het uit rondvlieg en hotelle bestaan. Eers toe ek self beheer geneem het, en besluit het wat ék wil doen, het dit verbeter. En ek het die bedryf leer ken, wat mens ’n groter gevoel van veiligheid gee.
Mense dink ek wil nie sing nie, maar dis nie so nie! Ek sing nog baie. Ek kies net versigtiger waar en hoe.

Hoekom het jy jou vir Idols ingeskryf?
Wel, dit was ’n uitdaging. Ek wou kyk of ek dit kan doen. Dis soos toe ek hoërskool toe gegaan en vir die eerste keer hokkie gesien het. Ek móés speel! Dit was iets nuuts en iets om jouself aan te meet. Ek het nooit kon droom dat ek sal wen nie.

Wat dink jy van Heinz?
Ek hou van hom. Ons is vriende. Hy werk hard en is baie gefokus, en gaan nog ver kom.

Is Idols gesond?
In ’n mate, ja. Veral vir jong mense. Dit gee jong kunstenaars die geleentheid om vinnig blootstelling te kry, en ervaring op te doen. Ek dink wel ons is nog nie heeltemal op internasionale peil nie. Maar ek sien die kompetisie word al hoe jonger. Daar is nou omtrent net tieners wat deelneem. Toe Heinz deelgeneem het, was die gemiddelde ouderdom baie hoër. Die deelnemers moet net besef dis baie straf. Jou hele leefstyl word aangepas. En
wat my die meeste geskok het, is dat van die mense om jou verander. As ek en my
vriende byvoorbeeld nou vassit, sal hulle maklik sê: “O, jy is mos nou famous”, en dit voor my kop gooi. Ons kon in die verlede verskil sonder dat na ‘n rede gesoek is.

Hoe het jy die kompetisie self ervaar?
Sjoe, dit was hard. Nege weke lank het ek my familie net twee uur oor ’n naweek
gesien, en dit was baie moeilik. Die dissipline en die pas is ook straf. Sesuur op in
die oggend, rehearsals, media, klere- en grimeersessies … Dis nie ’n grap nie.

Vertel meer van jou familie?
Ek het ’n ouer broer, Sven. Hy het die Italiaanse looks gekry. Lank en donker.
Hy het ingenieurswese in Bloemfontein gestudeer. My ma en pa het ons streng
grootgemaak. Ons is nog gelooi as ons stout was. My familie is baie heg. My ouers is vreeslik trots op die Idols-ding, maar steeds my ouers. Die Pietrangeli’s is ’n spul wat weet wat hulle wil hê, hoor.

En jou lewe nou?
Wel, ek en Tommy woon in Durbanville met twee Jack Russells, Maxi en Lexus.
Ek het hom in Bloemfontein ontmoet – hy was my persoonlike afrigter in die gym waarheen ek gegaan het. Ek het van die begin af van hom gehou, maar nee, hy was mos vrééslik professioneel en het sy afstand gehou! Hy kon dit egter later nie uithou nie, en ons het
begin uitgaan.
Ek speel weer hokkie, vir die Northlink College. Ek is ’n skakel, ek móét die heeltyd by die bal wees. Ek sal nooit in ’n posisie soos vleuel kan speel, wat vooruit moet hardloop en vir die bal moet wag, nie.
En ek het my studies hervat – het net die fokus bietjie verander, doen nou sportmedisyne.
Ons leef gesond en oefen baie. Ek glo ’n vrou moet spiere hê. Sy moenie brandmaer
wees nie. My pa sê altyd “jy moet ’n tjoppie wees”. Baie vleis en bietjie vet.
En ja, ek sal graag eendag wil trou – maar nie voor oor seker drie jaar nie. En kinders
kry. Ek sal hulle graag wil hê voordat ek 30 word, want dan is mens nog jonk genoeg
om saam met hulle te speel en te swem.
(Sy word op 16 November 24.)
***
Haar vriendin, Deandra, kom aan. Druk haar stewig vas en noem haar “Petrelsj”. Hulle het mekaar tydens Idols ontmoet, toe Deandra se vriend een van die persoonlike oppassers vir die deelnemers was. Die vliegtuig vlieg oor en elkeen bestel nog ’n drankie.
Die geselskap is vrolik en lig, nes Anke.

ANKE SE GUNSTELINGE
Kos: Pasta
Drank: Southern Comfort
Kleur: Blou/pers
Musiek: Rock ’n roll!
Akteur/aktrise: Bruce Willis
Reuk: Hugo Boss


HEINZ
Ek ontmoet hom in ’n koffiewinkel in Johannesburg. Hanlie Schoch, sy “bestuurder/agent/slawedrywer”, sit saam en gesels.
Hul vriendskap kom van ver af – hulle het saam gestudeer en, sê sy, hy is glad nie moeilik om mee saam te werk nie. “Met hom is daar geen grys gebiede nie. Jy weet presies waar jy met hom staan en wat hy van jou verwag,” beduie sy.
Haar foon lui die heeltyd met navrae oor Heinz vir optredes.
Hy is netjies, net sy hare is deurmekaar ge-jel op die kenmerkende manier, en hy antwoord slegs as daar vrae gevra word.
Heinz was die eerste wenner in die Idols-kompetisie, drie jaar gelede.
Sy eerste solo-nommer, “Once in a lifetime”, het binne enkele weke platinumstatus
bereik, en later dubbel-platinum. Sy debuut-album, One step closer, het net so goed gevaar. ’n Jaar later het hy aan die internasionale Idols-kompetisie in Londen deelgeneem en die kritici se monde gesnoer toe hy die vierde plek uit elf deelnemers gehaal het.
Daarna is hy gevra om die eindliedjie, “Chasing Shadows”, vir die Disney-rolprent Treasure Planet te sing.
Vroeër vanjaar is hy ook gekies as voor-optrede vir die supergroep Westlife se Suid-Afrikaanse toer.
Hy is besig, veral met sy sangloopbaan, en opgewonde daaroor dat hy vroeg volgende
jaar Amerika toe gaan om dalk sy volgende album daar op te neem.
“Ek was vroeër vanjaar oorkant toe, en het ’n hele klomp mense in die bedryf ontmoet. Veral in Nashville. En dit lyk of hulle belang stel. Indien dit gebeur, sal ek beslis vir ’n paar jaar daar wil gaan werk. Die mark is net soveel groter.”

Hoe is dit om ’n Idols-wenner te wees?
Dis moeilik én dis lekker. Idols het vir my baie deure oopgemaak. Ek het op Stellenbosch amper vier jaar lank in ’n groep gespeel en dit was beslis altyd in my agterkop om ’n heeltydse musikant te word. Ek het regte gestudeer, en sal dit graag eendag wil klaarmaak, maar tans is musiek my lewe. Idols was vir my net die begin.

Kan ’n mens ’n bestaan maak uit Idols?
Wel, ek het die krag van TV gesien. Maar ek moes nog steeds baie hard werk. In ’n mate het ek bietjie alleen in die woestyn gevoel ná die kompetisie verby was.
Die Idols-sukses was bietjie van ’n Catch 22-situasie. Jy kan op geen manier al daardie TV-hype tot sy reg laat kom nie, al werk jy hoe hard. Daar is veral ’n groot verskil tussen televisie-kykers en mense wat na vertonings kom. Maar ás ’n mens hard werk, sal jy sukses behaal. Kyk maar na Zama … Sy is ongelooflik!

Wat is jou toekomsplanne?
Ek wil ’n suksesvolle, internasionale opname-kunstenaar wees. My styl is tans breë popmusiek en akoestiese rock – radiovriendelike musiek, maar die volgende album gaan bietjie swaarder wees, met meer rock-nommers op. Joe Niemand het heelparty van die liedjies geskryf. Ook Dean Heart en Quin Delport.
Ek sing tans net Engelse liedjies, ek wil nie graag die fokus verloor nie. En daar is heelparty geleenthede oorsee wat ek graag wil ondersoek.
Ek het die eerste vier maande van 2006 oopgehou vir my Amerikaanse besoek, en sal maar kyk wat daaruit voortspruit.

Wat dink jy van Afrikaanse musiek?
Dis beslis die mark wat die vinnigste groei. Afrikaanse luisteraars is baie lojaal. Dit wil egter nie sê dat alle musiek wat nou uitkom, van goeie gehalte is nie. Dis soveel makliker om deesdae jou eie CD op te neem. Elke Jan Rap en sy maat spring op die karretjie, maar sukses is veel meer as net ’n CD maak. Mense soos Dozi en Kurt moes lank en hard werk om te kom waar hulle is.

Wat dink jy van Anke?
Ons is vriende. Ek dink mense is onnodig krities teenoor haar. Sy doen die ding op haar eie manier en ek het baie respek daarvoor. Ek bedoel, sy het ’n hele klomp treffers op die radio, sy neem op, sy sing … Sy is net nie soveel in die openbare oog nie. Elkeen het mos sy eie persoonlikheid, en hare vereis privaatheid.

Watter musiek luister jy self?
Live, Creed, Matchbox 20, Christina Aguilera … Robbie Williams, Sheryl Crow.
En gospel! Veral Steven Curtis Chapman. Plaaslik hou ek van musiek wat ’n Afrika-klank het, soos Freshly Ground en Thandiswa. Daar is ook goeie rockgroepe soos Prime Circle en Watershed. Ek dink Louise Carver doen baie goed op die oomblik. En natuurlik veral Joe Niemand, wat ’n paar van my liedjies geskryf het. Hy is ongelooflik musikaal.

Wat is die vreemdste versoek wat jy al gekry het?
Wel, ek het al versoeke gehad om my handtekening op vreemde liggaamsdele te teken. Soos byvoorbeeld op ’n swanger vrou se maag. En natuurlik is ek al deur totaal onbekende mense gevra om hulle na hul matriekafskeid te vergesel. ’n Paar mense het my ook al gevra of hulle my BMW M3 (afslaandak) kan leen vir ’n matriekafskeid of dat ek die seun en sy metgesel soontoe sal aanry! Maar ek sou sê die vreemdste was toe ’n ouma my bel en vra of ek saam
met haar kleindogter sal inloop by haar matriekafskeid – nie saam met haar afskeid toe gaan nie, net inloop! Haar metgesel sou binne vir haar wag. Die arme ou …

Wat doen jy om te ontspan?
Ek is mal oor die see. Ons het ’n huis op Bettysbaai en dis heerlik om daar body boarding te doen. Ek draf en gym ook gereeld. En kyk baie flieks en DVD’s. Ek het ’n groot versameling, ook musiek-DVD’s.

Wat weet ons nie van jou nie?
Ek het ’n bruin gordel in karate.

Kry jy baie versoeke vir liefdadigheidsoptredes?
Ja, baie. Maar ek het een instansie gekies wat ek ondersteun. Dis die Thembalitsha-organisasie wat onder meer in Kruispad en Devon Valley in die Kaap werk. Die woord beteken “nuwe hoop”. Hulle kyk veral na vigswesies en help mense om hulself te help.
Hul voorskoolse program help kinders om hulle skoolgereed te kry. Hulle het ook ’n kliniek wat na kinders met MIV/vigs omsien. In hul werkwinkel word klere, geskenke en toerisme-items gemaak. Dis wonderlik om te sien hoe die kinders ontwikkel en groei.
***
’n Paar van Heinz se vriende sluit by ons aan vir middagete. Koffiedrinkers, die
lot van hulle. Hy ontspan. Duidelik tussen die mense wat hy vertrou.

HEINZ SE GUNSTELINGE
Kos: Pizza (regina met feta, pynappel en avokadopeer) of filet
Drank: Rooiwyn (shiraz), Hunter’s Dry
Kleur: Blou
Musiek: Akoestiese pop/rock (U2, Lifehouse, Bon Jovi, John Mayer, Sting, Rob Thomas), hip-hop/dans (Justin T, Usher)
Boek: Losing my Virginity (Richard Branson), The Firm (John Grisham)
Akteur/aktrise: Tom Cruise, Angelina Jolie
Reuk: Die see
Mens: Meer as een
Tydverdryf: Fliek, branderry (body boarding), dan