Heinz Winckler, wenner van die eerste Idols-reeks in Suid-Afrika, wat ook die vierde plek in die World Idols gewen het (en hy het boonop in die treffer- Broadway-musiekblyspel RENT in Amerika gespeel), bied binnekort 'n werksessie (30, 31 Julie by die Black Eagle Gastehuis in Roodepoort) vir aspirant-sangers aan. Wie weet beter as hy? Heinz het al vier suksesvolle albums en 'n lewendige DVD agter die blad.

Wat wil jy met dié werksessie bereik?
Ek wil sowat tien mense onder my vlerk neem. Die grootste leemte is die gebrek aan kennis oor hoe die besigheid werk en wat jy nodig het as sanger om dit te laat werk in die bedryf. Ek gaan aandag gee aan talent, passie, doelwitte, die X-faktor en sake-riglyne soos hoe jy die platemaatskappy, agente, bestuurder, kontrakte in plek moet kry om jou loopbaan te laat vlot.

Hoekom het jy besluit om dié projek aan te pak?
Die afgelope twee jaar het ouers van jong mense met 'n passie en talent vir sang wat dit wil maak in die bedryf my gereeld om raad gevra. Ek het gedink dit is 'n goeie idee om dié werksessie gereeld aan te bied om sulke mense te help.

Hoe gaan dit met Lian Theo Winckler, jul 5 week oue babatjie?
Dit gaan baie goed met hom en met ons. Ons slaap natuurlik heelwat minder en het hierdie nuwe, groot verantwoordelikheid, maar ons geniet hom baie en is só dankbaar dat hy mooi gesond is.

Hoe geniet jy dit om pa te wees?
Wonderlik! Dis 'n lekker, oorweldigende gevoel van liefde wat jou lewe verryk.

En jou vrou, Alette?
Sy doen baie goed. Sy is maar lekker moeg, want sy borsvoed en slaap nog minder as ek. Maar ek is baie trots op haar vir haar liefde, geduld en moedershart.

Watter oulike goedjies begin jul kleintjie doen?
Hy het al 'n paar keer gelyk of hy glimlag en dis verskriklik oulik. Hy maak oulike geluide wanneer hy regtig honger is en wanneer hy gevoed word. En Lian is dol op moedersmelk. . .

Wat is die moeilikste aanpassings van 'n babatjie in 'n mens se lewe?
Om jou tyd reg te bestuur. Ek en Alette werk albei vir onsself en van die huis af. So 'n mens se werkspatroon moet nou aanpas sodat beide van ons tyd het vir werk, die baba en natuurlik vir mekaar. Dis belangrik vir ons om ons huwelik eerste te plaas en dit verg werk. Maar ons leer elke dag meer en sal hopelik geleidelik meer ritme vind.

Wanneer kan ons 'n nuwe album van jou verwag?
Ek werk aan liedjies vir my volgende Afrikaanse album, maar dit sal waarskynlik eers die lig sien begin 2011. Binnekort is ek te sien in die TV-reeks Getroud met Rugby, wat middel Julie begin.

Beplan julle al aan 'n volgende babatjie?
Ons sal sien wat gebeur, maar dink aan 'n twee-jaar-gaping tussen die twee.

* Om jou plek te bespreek vir Heinz se werksessies, skakel 072 645 8581/e-pos heinzwincklerworkshop@gmail.com