Hennie Jacobs, beter bekend aan TV-kykers as Diederik in 7de Laan, het gisteraand sy tweede solo-album uitgereik. Dit is die land bevat van Hennie se vorige treffers, maar ook vier nuwe liedjies. Hy gesels met SARIE.com oor sy oulike gesin en sy besige loopbaan.

Wat is vir jou die hoogtepunt van Dit is die land?

Die vier nuwe liedjies is vir my die hoogtepunt, veral die titelsnit "Dit is die land". Enigeen wat in Suid-Afrika gebore is, sal daarby aanklank vind. Dit het ’n baie nostalgiese gevoel. En ek is ook trots op al die tegniese werk wat agter die skerms vir dié lied plaasgevind het.

Hoe was jou ervaring by KKNK?

Ek was in drie toneelstukke: Boeing, Boeing (’n klug), Die buite-egtelike oupa en Kysbriewe saam met Diaan Lawrenson (ook ’n 7de Laan-ster).

Die KKNK was ’n ongelooflike proses. Ons het baie hard gewerk en ’n maand voor KKNK het ons net die heeltyd repeteer. Dis baie intens, want ek het maar min tyd by die huis gehad. Maar ek was baie tevrede met die ervaring.

Hennie en Diaan was saam op die verhoog by vanjaar se KKNK FOTO: Twitter Hennie en Diaan was saam op die verhoog by vanjaar se KKNK
FOTO: Twitter

Eksklusiewe FOTO's: Diaan Lawrenson se droomtroue

Wat hou die res van die jaar vir jou in?

Boeing, Boeing gaan by Inniebos-kunstefees in Nelspruit ook speel. Ek sing ook daar. Dis moeilik om vertonings te reël, want 7de Laan hou my ook nogal besig. Maar ek is heeltyd opgewonde - oor werk, sang én om by die huis te wees.

... en vir Diederik?

Ons is besig met ’n baie interessante storielyn vir Diederik - jy kan verwag om te lag. Maar met hom kan jy mos maar nie anders as om te lag nie.

Wat doen jou dogters, Nua (4) en Tali (1), as jy op die TV is?

Nua was bietjie klein toe sy my die eerste keer op die TV gesien het. Ek dink dit was vir haar bietjie confusing om my op die TV te sien as ek dan langs haar sit.

Op die ou end dink ek hulle weet maar net ek en hul ma, Marissa, gaan werk in die dag, hulle weet nie regtig wat jy doen as jy by die werk is nie.

Hulle het my ook laat besef dat wat ek doen vir ’n lewe, net ’n werk is. Dis my gesin wat belangrik is.

Hennie by Tali (links) en Nua (regs). FOTO: Twitter Hennie by Tali (links) en Nua (regs). FOTO: Twitter

Dié prinsesse het Hennie se lewe verander

As jy moet kies tussen toneelspel en musiek, wat sal dit wees?

Uhm ... ek sal my vrou, Marissa, kies!

Hennie en sy vrou Melissa. Hoewel sy vir SASOL werk, het sy ook drama by Tuks studeer FOTO: Twitter Hennie en sy vrou Marissa. Hoewel sy vir SASOL werk, het sy ook drama by Tukkies studeer
FOTO: Twitter