EK HOOP

om nog ’n oordadige musiekblyspel te skryf en te regisseer.

om eendag alle weergawes van Leonard Cohen se “Hallelujah” saam op een CD te sit – beginnende met Alison Krauss tot by Kurt Nilsen. Ek wil daarna luister op die Transsiberiese sneltrein tussen Moskou en Vladivostok. Saans terwyl ek uitkyk oor die ys, moet die noorderligte bo my speel. Dan kan ek maar die emmer skop.

die teatergode sal help dat ons As It Is in Heaven kan opvoer. Ek soek vreeslik hard geld daarvoor en is besig om die fliekteks in ’n drietalige musiekblyspel te verwerk.

almal (Afrikaanses inkluis) sal ophou om op individuele mishope te sit en kraai en sal besef ons is een “stam”: Suid-Afrikaans.

om koppe en harte los te maak. Ek kies nooit ’n stuk omdat ek dink die effek gaan sus of so wees nie – dit moet eers met my praat.

Ek is gelukkig om net te werk met produksies waaroor ek passievol is.

Ek is bang...

 
iemand dwing my om vir 14 dae na ’n spa te gaan met geen internet-toegang of BlackBerry-ontvangs nie.

vir pasgebore babas . . . hulle maak my senuweeagtig. Gee hulle liewers vir my as hulle rebelse tieners is, dit kan ek hanteer!

Nee, ek is nie bang my idees raak op nie. Ek is bevoorreg dat ek net soveel werk het as wat ek kan uitdink. As alles inmekaar stort, gaan ek met ’n lied in my hart terug onderwys toe.

om myself te moet oorgee aan die genade van ander mense. Ek is onafhanklik en hardkoppig en doen dinge liewers self. Om daardie voorreg te verloor sal my gek maak.

by die eerste vertoning van ’n nuwe produksie – dan sweet ek soos ’n ystervark in ’n Afrika-aandenkingswinkel!

Wat ek nou weet...

My reputasie is dat ek arrogant en moeilik is (en ek verkies dit so), maar ek is baie meer toeganklik as wat mense dink en ’n lojale vriend. Maar met werk stop die verantwoordelikheid by my – daar is ek dus nie baie demokraties nie.
  As ’n storie mense aan die hart gryp, loop hulle heelpad saam met jou. As jy hulle by die kop gryp, verloor hulle gou belangstelling. As jy albei doen, verander jy lewens.
  As kind het ek volwassenes geglo. Oor alles. Die dag toe ek agterkom die meeste van hul menings is tweedehands en ondeurdag, het my wêreld inmekaar getuimel, maar dit het my vasberade gemaak om nie só te lewe nie.

Miljuisende mense het miljuisende opinies. Vertrou op jou “gut”, al druis dit lynreg in teen al die opinies. Dinge sal goed uitwerk.

Geluk is nie soos ’n graad waarvoor jy swot en as jy die papier het, dan het jy hom nie. My lewe is ’n kreatiewe proses van leer, groei, en goeie vriende wat sorg dat ek heeltyd voel dat dit goed is om te lewe. En dat ek bly is oor waar ek myself bevind.

Ek is spyt dat ek die idees wat daagliks by my opkom, nie neerskryf en êrens liasseer nie. Ek vertrou dat die bestes in my onderbewussyn sal vasgroei.

Wat ander mense doen – hoewel dit jou soms raak – gaan 100% oor hulle en niks oor jou nie.
Daar is geen akteur op aarde wat oortuigend kan gaap on cue nie.

Ek lê groot klem op vriende se lojaliteit. Ek gee dan ook myne en maak hul geluk deel van my prioriteite.

Die mooiste woorde in Afrikaans is “knetter” en “baldadig” – ek hou van woorde wat klink soos hul betekenis.

As kind het boeke my lewe gered, en as volwassene is hulle altyd my metgeselle.

Daar is ’n baie stil, baie rustige stem wat altyd by my is en my oortuig ek sal oukei wees, wat ook al gebeur. Solank dit daar is, tiek ek.

Dit het al gebeur dat mense wat ek nie goed ken nie, vir my ’n grap of staaltjie vertel wat hulle êrens gehoor het. Dan kom dit uit een van my toneelstukke. Ek luister altyd geduldig, en reageer soos ek moet, maar sê niks nie. Dít skop!

Ek het ’n paar jaar gelede finaal besluit ek wil nie kinders hê nie, maar ek sien wel ’n belangrike rol in die lewe van die kinders om my. So ek werk sodat ek kan reis. As ons opstyg na een of ander kontinent, vergeet ek van my rekenaar, my skedules . . .

Ek het geen begeerte om bekend te wees nie. Ek verkies dat mense die produksies onthou, nie vir my nie.