TOE:

“Ek is steeds lief vir Dozi en verlang na hom. Jy hou nie sommer van een dag tot die volgende op om lief te wees vir iemand nie. Ek het verlief geraak op sy aura.” (SARIE, Maart 2009)

NOU:

“Die lewe eindig nie ná egskeiding nie. Ek het ’n harde les geleer ná my ervaring met Dozi, maar ek het beslis weer vertroue in die liefde.”

Dié fyn blondine van Moorreesburg in die Swartland het in Maart 2009 in ’n onderhoud met SARIE vertel van haar egskeiding van die sanger Dozi. Nadat sy haar trouring afgehaal het, het sy met net ’n tas klere en haar motor uit die huwelik van ’n jaar gestap.

Maar Muriël se oë blink weer. In Julie 2011 het sy Jannie Visser, ’n sakeman van Wolseley, op ’n troue ontmoet.

“Hy is tipies Boerseun: plat op die aarde, verskriklik snaaks, hy het die mooiste groen oë, ’n praglyf van kroon tot toon, hy laat my lag, hy bederf my deur die manier waarop hy na my kyk en gee my bottervliegies in my maag.”

Sy het al sy ouers ontmoet en hulle hou almal van mekaar. En vandag is sy baie dankbaar haar lewe het só uitgewerk. “Die lewe saam met Dozi was nie vir my nie. My lewe as spysenier op Moorreesburg, waar die mense my aanvaar soos wat ek is – ’n malkoppie – is iets wat woorde nie kan beskryf nie. Die plattelanders was só goed vir my? ná die egskeiding, dat ek soms byna vergeet het ek is geskei.”

Sy vertel sy het Dozi onlangs by Skouspel by Sun City vlugtig in ’n kroeg gesien sit, maar hulle het nie gepraat nie. “Ons het geen kontak nie. Ek het my skoolgeld betaal, maar ek is nie kwaad vir Dozi nie. Ek besef nou weer hoe lekker dit is om verlief te wees – en ek het iemand gekry wat my baie spesiaal laat voel.”