Maart is Oscar-tyd. Wanneer ons saam met die res van die wêreld gons oor watter van ons gunsteling-sterre vereer gaan word. Dis net ’n kwessie van tyd, meen dié wat weet, voor meer van ons land se éie akteurs, nes Charlize Theron, oorsee bekend raak.

Omdat Suid-Afrika vinnig besig is om ’n mekka te word vir die verfilming van internasionale  rolprente, word ál meer plaaslike gesigte deesdae in Hollywood-flieks en TV-reekse gesien.

Internasionale lokettreffers soos Elysium, Invictus, Hotel Rwanda en Blood Diamond is plaaslik geskiet. Ook Mandela: Long Walk to Freedom, wat ’n Golden Globe gewen het vir beste oorspronklike lied, is deels in SA verfilm en spog met plaaslike akteurs. (Die lied, Ordinary Love, is ook vir ’n Oscar benoem.)

En die Oscar gaan aan...

En dis nie net Hollywood wat belangstel nie. Ook vervaardigers van Duitsland, Engeland, Kanada, Italië, Nieu-Seeland, Australië, Frankryk en Ierland skiet graag hier. Net in 2009 is meer as 70 internasionale rolprente,  onder meer The Bang Bang Club en District 9, hier verfilm, Aldus die filmnuuswebblad Screen Africa.

“Sowat 50 internasionale flieks en TV-reekse is in 2012 en 2013 hier gemaak,” vertel Martie Bester van Screen Africa. “Van hulle is The Giver met Meryl Streep, Taylor Swift en Katie Holmes, Safe House met Ryan Reynolds en Denzel Washington, Kite met Samuel L. Jackson en Chappie met Hugh Jackman en Sharlto  Copley. Dis ’n baie opwindende tyd vir ons bedryf.”

SA-ster wen internasionale modelkompetisie in Amerika

G’n wonder nie dat die Nasionale Rolprent-en-Video-stigting (NFVF) onlangs ’n reuse-rolprent-ateljee van R500 miljoen naby Somerset-Wes gebou het om die filmbedryf in veral Kaapstad selfs meer aanloklik vir oorsese vervaardigers te maak.

Dis ’n sigbare teken dat Hollywood ons talente raaksien én daaruit munt slaan, sê Martie. Van ons eie akteurs wat al op Hollywood-stelle gewerk het, stem saam…

Gys de Villiers

Gys de Villiers FOTO: Verskaf Gys de Villiers
FOTO: Verskaf

‘Jy voel die respek’

Dié veteraan-akteur het oudpres. FW de Klerk in Mandela: Long Walk to Freedom vertolk, teenoor die Hollywood-akteur Idris Alba (Mandela). Hy was verlede jaar in Vehicle 19 saam met wyle Paul Walker  van Fast and Furious-faam te sien.

“Ons land het ongelooflike talent. Nie net ons akteurs nie, maar ook agter die skerms: die kameramense, kuns- en kostuumdepartemente, almal,” beklemtoon hy. “Dis net ’n jammerte ons kan nie dieselfde finansiering kry vir plaaslike rolprente nie. Die werk bly dieselfde, maar die een groot verskil is die begroting en hoe jy as akteur behandel word.”

Met Long Walk to Freedom, die grootste Afrika-produksie nog, het hy ’n voorsmakie gekry van hoe dit voel om soos ’n Hollywood-akteur behandel te word.

Gys en SA-akteur Deon Lotz in Long walk to freedom FOTO: verskaf Gys en SA-akteur Deon Lotz in Long walk to freedom
FOTO: verskaf

Deon Lotz praat oor SA-akteurs se kaliber

“Elkeen het sy eie aantrekkamer gehad met ’n badkamer en ’n bed. Ek is op die hande gedra. Teen die tyd dat jy op stel kom, kan jy net daarop fokus om jou beste te lewer. Jy vóél die respek. In Suid-Afrika moet jy sommige mense nog oortuig wat jy doen, is nie speletjies nie. Ná 32 jaar in die bedryf het ek op stel gevoel ek’s ’n  waardige akteur. Dit was ’n wonderlike ondervinding, ook om deel te wees van Mandela se verhaal. Wanneer ons op stel opgedaag het, was Idris Alba al vier uur lank in die grimeerstoel en diep in karakter. Hy was so  gefokus. Dit was soos om teenoor ’n goeie tennisspeler te speel – dit maak van jóú ’n beter speler. Ek het dit geniet om by die afsluitingspartytjie en première met hom te gesels en besef hy’s ook maar net ’n mens.”

Hy meen die meeste groot sterre is baie toeganklik. “Ek het wel een keer saam met die Amerikaner Ice-T  gewerk en hy’t nie met ons gemeng nie.”

Paul Walker, wat verlede jaar in ’n motorongeluk dood is, was ’n fantastiese mens, onthou Gys. “Ek was geskok oor sy dood. Ons akteurs voel maar soos familie. Ons werk ontbloot ons, ons verstaan wat dit verg om voor ’n kamera te staan. Dis altyd hartseer wanneer een van die ‘akteursfamilie’ sterf,” sê hy.

Tessa Jubber

Tessa Jubber FOTO: verskaf Tessa Jubber
FOTO: verskaf

‘Ons akteurs is kamera-fiks’

Dié voormalige Binnelandaktrise het onlangs die rol van die joernalis Christina Lamb vertolk in Diana. Naomi Watts was prinses Diana. Tessa, wat in November vir die eerste keer ma geword het, was  onder meer al te sien in Proteus, Stander en Winnie Mandela.

“Die lekkerste van ’n Hollywoodfliek is die reuse-begroting wat jou toegang gee tot dinge wat jou help om ’n beter akrise te wees, soos aksent-afrigters. Op stel van Diana het Naomi haar aksent-afrigter met my gedeel. Hy het gekyk hoe my tonele verfilm word om seker te maak ek doen dit reg!”

Op stel in Mosambiek, wat moes “diens doen” as Angola en Pakistan, is sy soos ’n groot ster behandel. “Dit was ’n hoogtepunt om Naomi en die regisseur, Oliver Hirschbiegel, te kon ontmoet. Ek het saam met hulle in ’n hotel gebly en baie spesiaal gevoel. Naomi is ’n liefie, plat op die aarde. Waar bekendes gewoonlik spesiale etes kry, het sy saans saam met ons by die restaurantjies gaan eet. Ook op stel was sy baie betrokke.

“Ná die tyd, toe ek haar groet voor my vlug huis toe, het ek so simpel gevoel: Sy’t my ’n drukkie gegee en sterkte toegewens. Toe antwoord ek: Sterkte vir jou ook!” glimlag Tessa skugter. “So asof sy enige sterkte in haar loopbaan nodig het!”

Ná dié fliek het Tessa nuwe respek vir hoe hard Hollywood-sterre eintlik werk. “Naomi was elke oggend vieruur al wakker vir stilering en grimering.”

Suid-Afrikaanse akteurs raak ál meer in aanvraag vanweë hul ervaring. “Ons akteurs is kamera-fiks, want ons kry baie oefening. Ons speel dalk nie in soveel rolprente nie, maar ons doen baie TV en teater. En ons filmspanne is van internasionale gehalte.”