Arnold Vosloo het huis toe gekom. Hy het kom kuier by sy mense in Johannesburg.

Ons blaai deur plakboeke wat sy ma, Joyce, oor die jare bymekaar gemaak het. Uitknipsels van stories en onderhoude met Arnold uit koerante en tydskrifte; selfs ’n SARIE-voorblad en ’n modesessie. Daar’s ’n foto van hom en aktrise en TV-aanbieder Janie du Plessis.

“Ek het vir Janie in die Kaap gesien toe haar seuns nog klein was. Hulle was tien of twaalf jaar oud. Hoe gaan dit met haar? Weet jy?” vra Arnold. As jong akteurs het hulle saam gespeel in die fliek Boetie gaan Border toe!, wat hom oornag in Suid-Afrika bekend gemaak het. Was hy ooit verlief op haar, sou mens wonder? “Nee, nie regtig nie, al het ek baie van Janie gehou. Ek het soort van instinktief geweet dit sal nie kan werk nie,” vertel hy.

FOTO: Phyllis Green

Arnold was ’n ster nog lank voor sy Hollywood-roem. Plaaslik was hy veral bekend vir die twee Boetie-flieks (Boetie op manoeuvres het ’n jaar ná die een in 1984 gevolg) en Circles in a Forest (1989). Ook die 1984-TV-drama Meisie van Suidwes. In die plakboeke is daar ook foto’s van Arnold en Anneline Kriel en iemand wat lyk soos ’n jong Brümilda van Rensburg. “Dis nie Brümilda nie. Dit is die girl met wie ek getroud was; die Amerikaanse aktrise Nancy Mulford. My eerste vrou. Ek het haar hier in Suid-Afrika op ’n fliekstel ontmoet.” Nadat die twee getroud is, is hulle Amerika toe, waar Arnold met flieks soos The Mummy (1999) en The Mummy Returns (2001) die roem behaal het waarna soveel akteurs hunker.

En tog is daar geen filmster-fieterjasies by hom nie. Geen pretensie, geen arrogansie nie ... Hy’t die onmiskenbare energie van ’n suksesvolle akteur, maar jy voel nooit geïntimideer as jy saam met hom is nie. Dit op sigself sê reeds baie.

Hy het genoeg geld gemaak, sê hy, en hoef nie te werk nie. Daar is iets aan Arnold Vosloo. Sy gesig is gelyktydig manlik en weerloos. Sy kakebeen sterk en sy wangbene hoog. Sy mond sag, sy oë goedhartig. En op 55 is hy nog net so goed gebou soos toe hy jonk was.

Hy kuier by sy ma waar sy by Nadia, sy ouer suster, woon. Dis hier waar ons ontmoet vir die onderhoud en fotosessie – sommerso in die voortuin van ’n netjiese huis in Alberton in die suide van Johannesburg. Hy gaan nie tuis in die Saxon of Westcliff, hotelle bekend vir hul beroemde gaste, nie. “Ek kan nie probeer spoggerig wees en iets wees wat ek nie is nie.”

Hy verkies om by Nadia te bly wanneer hy in Suid-Afrika is, hier waar hy grootgeword het. Haar bure se huis is toevallig waar ’n vriend van Arnold gewoon het toe hulle 14 jaar oud was, vertel hy. “Daar was omtrent ses van ons. Dit was die eerste keer dat ons ’n rugbyspan gehaal het. Ons was in die D-span, want ons was nie goeie spelers nie. Toe sny ons almal ons hare borselkop in daai buitekamer,” vertel hy en beduie na die huis langsaan.

“Ek onthou dit so goed soos gister.”

Sy herinneringe is diep gewortel in Suid-Afrika. “Ek het in die begin kwaai geworstel met die verlange huis toe en het lang ure in Los Angeles rondgestap, blind van trane. As ek dan my oë later van moegheid toegemaak het, kon ek in my geestesoog die Afrika-sonsondergang sien en die hadedas hoor skreeu. ’n Deel van ’n mens sal seker altyd wens jy het hier gebly ...”

Was dit jou droom om in Amerika te bly en daar as akteur te werk?

Ek wou, maar dit was nie ’n droom of ’n begeerte nie. Dit het soort van net gebeur. Ek het gedink: Laat ek dit probeer en kyk of dit werk. In daardie stadium wou ek gaan omdat Nancy my aangemoedig het. Toe sê ek orraait, ek sal gaan en kyk wat gaan daar aan. Ek het taamlik vinnig werk gekry.

Wat was daardie eerste werk?

’n Verhoogstuk, [Barney Simon se] Born in the RSA, wat in San Francisco, Seattle en Chicago opgevoer is. Terwyl ons die toneelstuk doen, het ’n agent my raakgesien en gevra of hulle my kan verteenwoordig. Hulle wou hê ek moes vir ’n oudisie gaan vir die aksiefliek Hard Target. Toe kry ek die job. Dit was saam met Jean-Claude van Damme. Die regisseur was John Woo. Hy is ’n soort kultusfiguur. Almal in Hollywood het die fliek gaan kyk omdat hy die regie gedoen het, en as gevolg daarvan my raakgesien.

Was jy en Nancy toe nog bymekaar?

Die huwelik was toe al in die moeilikheid. Ek het nie geweet of ek gaan aanbly of nie. My ouers het my aangemoedig om te bly. Ek het huis toe verlang ... ’n ou wil terugkom en ek was heeltemal op my eie. Ek besluit toe om te bly totdat ek ophou werk kry en dan terug te kom. Dit was 28 of wat jaar gelede, dis nou om en by 60 flieks later.

Die fliek The Mummy is jou grootste kommersiële sukses tot dusver?

Albei The Mummy-flieks was ’n moerse sukses. Ek was voor dit nog nooit in ’n groot kommersiële film nie. Om bekend te wees in Suid-Afrika is een ding, maar om daardie vlak van roem in Amerika te ervaar is net weird. Dit het my geskok en ’n bietjie bang gemaak. Jy word bekruip en fans gaan deur jou klerekas en steel jou onderbroek en gaan deur jou vullis. Ek hoor ’n rumour dat akteur Nicolas Cage destyds belanggestel het in my rol.

En jy nie hoef nie weer te werk nie?

My agente was baie slim gewees, God bless them. Ek is lid van die Screen Actors Guild wat omsien na akteurs se belange. Hulle is baie streng wat die vergoeding van akteurs betref. Ek het ’n fooi gekry vir die maak van die eerste fliek asook royalties. As ’n fliek meer as 100 miljoen dollar maak by die loket, verdien jy tantième én jy kry ’n tjek vir elke keer wanneer die fliek waar ook al in die wêreld gewys word. Die eerste Mummy het 415 miljoen dollar gemaak. Die tweede een het nóg beter gevaar.

En toe? Wat maak jy met al die geld?

Ek het ’n boot gekoop. Eendag het ek met my fiets gaan ry, toe kom ek by ’n hawe aan met sportbote en besluit om een te koop. Groot genoeg vir een ou. Ek het vir ’n jaar op die boot gebly. Ná my ma-hulle vir die eerste keer kom kuier het, het ek ’n woonstel in Santa Monica gekoop. Ek woon nou al seker 20 jaar of langer daar.

Is jy weer getroud?

’n Suid-Afrikaanse vriend van my se meisie het gesien hoe ek gereeld saans op my eie in my kombuis sit en musiek luister. Sy besluit toe ek moet ’n meisie kry. Ek het geprotesteer. To cut a long story short ... ná net een aand uit saam met hulle het ek vir Sylvia [Ahí] ontmoet. Sy is ’n rekenmeester. Ná twee weke se afsprake het ek geweet ons gaan trou. ’n Jaar later was ons getroud. Sy is drie jaar ouer as ek en het ’n seun.

Hoe kry jy dit reg dat jul huwelik hou terwyl die groter tendens in Hollywood egskeiding is?

Ek weet nie hoekom ons huwelik hou nie. Ek kan net sê dat daar iets is wat ons altyd na mekaar trek. En dat ek by haar wíl wees. Ek wil nie rondmors nie en ek wil haar nooit teleurstel nie. Ek stel haar eerste. Altyd.

Het jy kinders van jou eie?

Nee. Sylvia se seun, Anthony, het al ’n seuntjie van sy eie. Ek het oupa geword, dis vir my nogal moerse nice. Ek is nie spyt dat ek nie kinders van my eie gehad het nie ... Partykeer kyk ek na Sylvia en wens dat daar ’n vlees-en-bloed-manifestasie van ons liefde rondloop. In my fantasie is sy ’n vierjarige vettie met pikswart hare en sy glimlag wanneer sy na haar pappa kyk.

Is dit waar dat jy en Charlize Theron ge-date het?

Dis ’n urban legend. Sy het my gebel. Ek het haar toe saam met my na ’n paar geleenthede geneem. Een was na ’n partytjie wat die Suid-Afrikaanse ambassade in Los Angeles gehou het. Ek onthou ek het nog vir haar gesê, jy moet ordentlik aantrek, ons gaan ambassade toe. Ek het haar gaan haal met my motorfiets. Charlize was ’n nice girl, ek het van haar gehou. Ek was net nie aangetrokke tot haar nie. Sy het my later na haar 21ste verjaardagpartytjie genooi. Haar ma, Gerda, en ’n klomp van haar vriende was daar, almal jonger as ek. Toe tel Charlize ’n paar kastanjette op, gaan staan voor die vuur en dans daarmee. Ek dink toe by myself, f*k dit, hierdie meisiekind het my nie nodig nie. Sy is orraait, ek hoef my nie te kwel oor haar nie. Toe vat ek my helmet en loop by die deur uit. Dit was die laaste keer dat ek haar gesien het.

Hoe is die mense in Hollywood regtig?

Baie is nice. Jy sal geskok wees as jy weet die meeste van hulle is op ’n manier damaged goods. Ek verkies om ’n lae profiel te hou. Ek is nie lus vir die roem-ding nie. Daar is ’n paar akteurs wat ek as ware kunstenaars beskou. Leonardo [DiCaprio, saam met wie hy in Blood Diamond te sien was] en Al Pacino [hulle was saam in die Broadway-stuk Salome] is van hulle. Die meeste van die jongmense wat in Hollywood instrompel, het nie talent nie en wil net beroemd wees. Jy voel wanneer hulle van die bus afklim, wil jy vir hulle ’n kaartjie koop en sê gaan terug huis toe.

Die slegte kant van Hollywood?

Mense gaan advantage vat van jou. Die hele Hollywood-masjien doen dit. Van die mense met wie ek al saamgewerk het, is nie nice mense nie. Hulle is boos en lelik en jaloers.

Het Hollywood geweet van Harvey Weinstein en sy seksuele misdrywe?

Almal moes geweet het. Ek het hom nooit ontmoet en nooit vir hom gewerk nie, maar een van my vriende wat nie in die bedryf is nie, het al vyf jaar terug vir my gesê hy is bad news.

Ondersteun jy die #MeToo-veldtog?

Definitief. Ek het een keer ’n fliek gedoen waar die regisseur my genooi het om by sekere van die keurings in te sit. ’n Aktrise het ingekom om ’n oudisie af te lê voor die regisseur, vervaardiger en nog ’n paar ander mans. Die meisie doen haar ding, sê haar woorde en loop uit. Dan bespreek hulle haar: ‘Wat het jy gedink? Was sy goed? Would you sleep with her?’ Ek het net gedink, dis nie my scene nie. Doen julle ding en bel my as julle reg is. Net die manier waarop hulle oor mense praat, dit was rof. Dit gebeur op alle vlakke.

Sal jy Suid-Afrikaanse akteurs aanraai om hul heil in Hollywood te gaan soek?

As ek dit kon oordoen, sou ek nie gegaan het nie. Jy wen baie en verloor baie. Ek het roem, ek kan na enige plek in die wêreld gaan, of dit Tokio of Sydney is, as ek in ’n kroeg instap, gaan iemand vir my ’n bier koop omdat ek in ’n simpel fliek was. Maar ek is weg van my ma, my pa [hy is 14 jaar gelede oorlede], Nadia en my vriende. Ek is eerstens Afrikaans. Ek kan eerlik sê, as ek nie getroud was met Sylvia nie en ons het nie so ’n goeie verhouding gehad nie, sou ek nie vandag meer in Los Angeles gebly het nie.

Is daar iets spesifieks wat jy nog sal wil doen?

Ek wil graag terugkom Suid-Afrika toe en spesifiek in Afrikaans werk. Dis my eerste droom. Ek sal in Engels ook werk, maar dit moet ’n Suid-Afrikaanse projek wees. Ek is al ’n paar goed aangebied. As dit nie gebeur nie, dan gebeur dit nie, maar ek stel myself beskikbaar daarvoor. Ek wil my loopbaan eindig waar ek dit begin het. Daar is ’n moontlikheid van ’n rolprent oor die Boereoorlog. Ek wou nog altyd ’n fliek daaroor doen.

Volg jy nuus uit SA? Kyk jy rugby of ander sport?

Ja, ek volg die nuus en kyk baie graag rugby, spesifiek sewesrugby. Ek’s mal daaroor. Ek volg politieke nuus uit Suid-Afrika glad nie, dis vir my ’n moerse turn-off.

Wat is dit wat jou anders maak? Wat is die ding wat jy het wat ek nie kan peil nie?

Jou krag lê in jou andersheid. Die ding waaroor die kinders op skool jou terg. Ek was klein en maer en die ouens het gesê ek lyk soos ’n meisie met my dik lippe. Hulle wou my moer, want die meisies het van my gehou. Of dit disleksie is of net ’n sosiale ongemaklikheid en ongewoonheid, dís waar jou krag lê. Dit is wat jou laat uitstaan. Daai ding wat jy dink jou negatiewe is, is jou positiewe. Dit is wat vir jou sukses bring.

***

Ons word dikwels soos die plek waar ons woon. Dit het ons al gehoor. Dalk is dit daardie iets van Arnold Vosloo. Dit wat van hom ’n ster sou maak. Wat hom vandag fassinerend maak. Die onwaarskynlike pasmaats van ’n bietjie Hollywood en ’n stewige klap Alberton.

* Arnold is tans op Amazon se internetvideodiens Prime Video te sien in die tweede seisoen van die gewilde TV-aksiereeks Jack Ryan.

"Ek sou nie gegaan het nie ... Ek is weg van my ma, my pa, Nadia en my vriende"