As jy een woord moet kies om Hykie Berg te beskryf, som “kleurryk” dit raak op. Ook veelsydig. Aanpasbaar. Van sy loopbaan as akteur tot sy sakebedrywighede en selfs sy persoonlike lewe, herskep hy homself gedurig.

Hy het al alles van stofsuiers tot begrafnispolisse verkoop, SMS-kodes en faks-na-e-pos-lyne versprei, ondernemings bedryf wat betrokke was by enigiets van sonkrag tot slimfoon-toepassings, en hy was selfs ’n ruk lank ’n verbandmakelaar. Dis nou buiten die TV-, teater- en filmwerk wat hy steeds as akteur gedoen het. Hiervoor is hy al met ’n ATKV Media-veertjie as beste akteur bekroon, en verlede jaar het hy met die Tempo-toekenning vir beste sepie-akteur vir sy rol in kykNET se gewilde Binnelanders weggestap.

Dalk is dit omdat hy ’n middelkind is, wonder hy hardop tydens die onderhoud by die Binnelanders-ateljee in Johannesburg. Hy vat ’n trek aan sy elektroniese sigaret, haal sy skouers op: “Middelkinders soek mos gewoonlik aandag?” – ’n vraag, eerder as ’n stelling.

Dié man met die gespierde skouers en lagplooie wat vroue so laat swymel, is ’n diep denker, kom jy sommer vinnig agter. Hy sê dis te danke aan al die selfhelpboeke wat hy lees, want sy lewensdoel is aanhoudende selfverbetering – veral vandat hy tien jaar gelede finaal die dwelmgebruik gestaak het waaroor al so baie in die media berig is.

“Nee, ek is net baie ADHD,” sê hy. “Dit maak dat ek maklik verveeld raak. Ek begin goed met vreeslik baie passie, en dan raak ek moeg daarvoor.”

Tog vertolk hy nou al vyf jaar lank die rol van dr. Conrad Bester in Binnelanders – al was dit aan en af. “Kyk, ek speel hom nou al so lank, ek ken hom van voor tot agter. As ek by die ateljee instap, word ek Conrad. Hy is ’n bliksem, soms. Hy is baie ernstig, kwaai. Ek en hy is glad nie dieselfde nie ...”

Daar is gerugte dat jy weggaan by Binnelanders. Is dit waar?

Ek gaan glad nie weg nie, nee! Maar in 2019 gaan Conrad nie so gereeld gesien word nie. Ek het steeds storielyne, net minder. Dis omdat ek nou baie ander projekte het. Ek wil weer vryskutwerk kan doen, soos flieks en TV-reekse, my boektoere neem baie tyd in beslag, ek doen byna elke naweek motiveringspraatjies wat daarop gebaseer is, ek wil ’n nuwe boek skryf, en dan het ek nog ’n groot entrepreneursprojek ook.

Jy is nou omtrent bedrywig. En dan is daar ook ’n nuwe liefde ...

Sy is super cool en amazing. Dis nou maar ’n paar maande, maar dis sover ’n absolute fees. Ons het in die gim ontmoet. Sy was op die trapmeul, druppend van sweet, en ek het steeds gedink sy is beeldskoon. Nou lag ons daaroor, want sy sê toe sy my sien aangestap kom, het sy die Here gevra om Jona se walvis te stuur om haar in te sluk. Jy lyk mos nie op jou beste in ’n gim nie. Ek is verlede jaar geskei en al is ek nou baie besig, het ek dáár [in sy vorige verhouding] geleer dat ek dié keer meer tyd met my liefie wil deurbring. Dit gaan nie noodwendig oor die hoeveelheid tyd nie, maar oor die gehalte. Ek sal my foon afsit, net by haar wees, in die oomblik.

Jou eerste boek, Hykie Berg: My storie van hoop (2017, CUM), was uiters suksesvol. Hoe vorder die tweede een?

Dit was in ’n stadium die nommereen-verkoper in die land en byna 14 000 eksemplare is al verkoop. Ek kan dit skaars glo, dis ongelooflik vir ’n Afrikaanse boek! Dit is ook in 2018 in Engels vertaal as Ultimate Survivor. Ek het my uitgewers vroeg vanjaar gesien en my tweede boek sal in 2020 verskyn. Hopelik, want dit het my ses jaar gevat om die eerste een te voltooi! Maar ek het baie geleer in die proses en ek glo ek kan die tweede een betyds klaarmaak.

Dit gaan oor aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (ADHD), waarmee ek gediagnoseer is, en gaan ’n bietjie kontroversieel wees. Ek wil skryf oor die voor- en nadele van die medisinale behandeling daarvan, en oplossings buite die medisyneboks waarvan mense nie weet nie. Die medikasie is geweldig verslawend vir mense wat neig na verslawingsversteuring, soos ek. Oorsee is daar rehabilitasieklinieke spesifiek vir Concerta- en Ritalin-verslawing, maar dit word aan soveel kinders voorgeskryf.

Ek sal nooit sê iemand moet hul medikasie net staak nie, en vir party kinders maak dit ’n groot verskil – maar mense moet daarvan bewus wees dat dit nie jou enigste opsie is nie; dat dit dikwels onnodig voorgeskryf word. Ek gesels met spesialiste wat dieselfde uitkyk as ek het vir hulp met van die feite. Die boek gaan ’n kombinasie van baie navorsing en my persoonlike ervaring wees.

Jy het al gesê jou ADHD-diagnose was jou grootste gawe. Hoe so?

Dit het my geleer dis oukei om nie in te pas nie. Kinders met aandag-afleibaarheid is intelligent en kreatief, hulle moet net hul nis vind. Maar op skool word visse geleer om boom te klim en apies geleer om te swem, en dis nie oukei om anders te wees nie.

Die meeste mense wat al met dwelmverslawing gesukkel het, praat daarvan, hoe hulle van kleins af nie gevoel het hulle pas in nie; iets is anders, iets is fout. Selfs tussen jou vriende. Dan doen jy stoute goed om aandag te kry, en verwyt jouself in die proses. Dan doen jy erger dinge om daai gevoelens toe te smeer, en so hou dit aan. Naderhand dink jy jy’s so sleg, niks kan jou anders oortuig nie. Dit word jou identiteit. Ek was ’n terror op skool. En toe kom die dwelms ...

Jy het al baie gesels oor jou heroïenverslawing. Is dit waaroor jou motiveringspraatjies gaan? 

Die praatjies is gebaseer op my boek, op my lewe, op al die hulp wat ek al gekry het en lesse wat ek geleer het. Kyk, ek is die laaste mens wat hier moet sit vandag. Ek was hoeveel keer op my sterfbed. Ek het in Hillbrow se strate geleef, myself vrot ingespuit met dwelms. As ek iets van my lewe kan maak, kan enigiemand dit doen. Dís my boodskap.

En dit gaan natuurlik nie net oor dwelms nie. Jy kan verslaaf wees aan soveel dinge: aan kos, aan selfbejammering, aan aandag. Of ’n achilleshiel van ’n ander soort hê wat jou terughou – egskeiding, familieprobleme, finansiële probleme. My boodskap is dat jou omstandighede nie hoef te bepaal waar jy môre gaan uitkom nie. Die oomblik dat jy besef jou toekoms is in jou hande, verander dinge. Maar dis ’n groot verantwoordelikheid en daarom glo ons dit nie. Ons het almal soveel krag in ons, meer as wat ons besef.

Hoe reageer die gehoor by ’n vroueoggend as jy byvoorbeeld vertel hoe jy tydens ’n dwelmpsigose kaal oor die Botswana-grens gehardloop, in jou hand ‘getjorts’ en dit na die polisie gegooi het?

O, ons lag lekker saam. Die oë rek eers, maar dan lag hulle. Ek was toe juis hooked op Ritalin en Concerta en het bottels van die goed uitgedrink. Ek het dié dag ’n manies-psigotiese episode as gevolg daarvan gehad en geglo ek is die messias. Ek het gedink die president hou my dop want ek het diamante oor die grens gesmokkel.

Ek het op Johnny Clegg gedans en oor die doringdraadgrens probeer klim. Uiteindelik is ek in ’n psigiatriese hospitaal opgesluit en vir drie dae in ’n straitjacket gesit. Kort daarna het ek drie maande in Weskoppies se hoësekerheid-eenheid deurgebring en dit het baie dinge vir my begin verander. Dít en my ma se gebede het my gekry waar ek vandag is.

Jy is nou al tien jaar skoon. Wat hou jou op die reguit pad?

Ek moet myself steeds oppas, versigtig wees. Die obsessie om dwelms te gebruik los jou naderhand. Maar hulle sê mos if you’re a drunken horse thief who loses the alcohol, you’re still a horse thief. Dit is so. Ek moet aanhou om die dinge te doen wat my skoon hou. My geloof uitoefen. My emosies verwerk sodat dit nie opbou nie, myself nie isoleer nie, gereeld en gesond eet, genoeg slaap en nie myself oorwerk nie. Ek gee ook nie om as mense voor my drink nie, maar as die gekuier só raak dat dit my ongemaklik maak, dan verskoon ek myself en gaan.

Ek drink miskien een maal ’n maand ’n alkoholvrye bier, maar dis dit. My verslawing is nie aan alkohol nie, maar dit lei tot die res. Ek het hoeveel keer gedink ek kan dié slag net alkohol drink en dit sal dít wees. Elke keer is dit soos om met Mike Tyson in die kryt te klim en te dink dié keer gaan jy wen. Jy gaan nie en jy moet dit aanvaar. Darem gebeur die groot kuiers deesdae nie meer gereeld nie, want jou belangstellings verander mos soos jy ouer word. Nou, op 40, is ek liewer vir teater, tuinmaak en projekkies in die huis. Of om met my drie schnauzer-honde, Rupert, Cupcake en Rory, te gaan stap.

Dit klink of jou lewe deesdae baie meer roetine het as vroeër jare.

Ek moes myself, met baie selfdissipline, dwing om roetine in my lewe te skep. Ek staan elke oggend kwart voor vyf op, gaan gim, bring tyd met die Here deur, kyk na my dream board met prentjies van alles wat ek wil bereik. Mense met ADHD floreer op ’n nuwe uitdaging, op vernuwing, en vermy gewoonlik roetine.

Ek moes deur die jare leer om nie agter elke balletjie aan te hardloop wat na hierdie Jack Russelltjie toe gegooi word nie. Steeds doen ek dinge vir gemiddeld twee jaar – ek was twee jaar by Egoli, minder as twee by 7de Laan, twee by Binnelanders, toe is ek weg, en nou is ek al drie jaar hier. Dit was nodig, want ons het ’n huis gekoop en baie verantwoordelikhede gehad, maar nou wil ek myself weer uitdaag. Ek is lief vir Binnelanders se mense, dis ’n lekker plek om te werk, maar die balans tussen roetine en nuwe uitdagings is belangrik.

Waaraan werk jy nog?

My hart op die oomblik is om mense wat vasgevang is in die 40/40/40-vervloeking, waar jy 40 uur per week werk vir 40 jaar en dan aftree met 40% minder geld as wat jy nodig het om jou leefstyl te behou, daar uit te kry. Die meeste mense haat wat hulle vir ’n lewe doen, maar jy word van kleins af geleer dis hoe die lewe werk. Kry die vaste werk met die voordele, bly daar vir die res van jou lewe. Dan vergeet jy maar jou drome en maak daai betaalstrokie jou droom.

Ons bemagtig mense om ’n passiewe inkomste op te bou deur ’n direkte aanlyn verspreider van gesondheidsaanvullings te word. Ons leer jou alles. Dit verg hárde werk in die begin, maar as jy dit doen, sal jy suksesvol wees. In ons land het jy ’n tweede of derde inkomstebron nodig. Dis nie die enigste manier nie, maar dis ’n goeie manier vir die gemiddelde mens om iewers uit te kom. Ons het byvoorbeeld al ’n vrou gehelp wat in ’n motorhuis gewoon het, met ’n laken wat haar en haar kind se ‘kamers’ skei, om op haar voete te kom. Vandag het sy al vir haarself ’n huis en ’n kar gekoop. Sulke stories maak my opgewonde.

Dit klink byna te goed om waar te wees! Is dit dikwels die reaksie wat jy teëkom?

Dikwels! Mense is bang dis ’n piramideskema of iets soortgelyks, maar dit is glad nie. Dis aanlyn gedrewe en [die sakereus] Warren Buffett het byvoorbeeld dié direkte verspreiding-sakemodel die model van die toekoms genoem. En jy gaan in die begin hard werk. Ek het self sewentien maande se hárde werk ingesit, maar nou is ek finansieel vry.

Jy het in 2011 die R1 miljoen-prysgeld in Survivor gewen. Is die entrepreneur-saadjie daar geplant?

Dit het beslis my oë oopgemaak. Ek het die prysgeld weggesit vir die eerste ruk, want almal het natuurlik op my neergedaal en geld gevra. Ná belasting het ek maandeliks R5 200 se rente uitgekry. Ek het my byna doodgeskrik. Hoe spaar jy dan genoeg om ná aftrede te oorleef as ’n miljoen rand net soveel rente lewer?

Kyk, ek was ook al daar waar ek net swart koffie wou drink en droë brood eet en as teater-akteur werk. Jy dink jy’s vreeslik kunstig. Maar dan verander jou prioriteite. Jy sien hoe jou portuurgroep genoeg geld begin maak om oorsee vakansie te hou. Jy wil trou en begin dink aan kinders. En jy besef die akteursbedryf gaan nie op jou oudag vir jou sorg nie. Toe het ek eerder ’n klomp entrepreneursprojekte met my prysgeld aangepak. Min het gewerk, want ek moes baie leer. En toe het ek by die direkte verspreiding betrokke geraak. Nou is my drome baie groter, en ek wil ander mense help om ook daar te kom.

Wat is nog op jou emmerskoplysie?

Ek wil Afrikaanse films vervaardig. Dis my droom vir my loopbaan. Ek het twee films in die pyplyn, maar ek kan nog nie veel meer sê nie, buiten dat dit dramas is wat op regte stories gebaseer is. En dan het ek baie oorsese reise wat ek wil aanpak. Ek wil weer Israel toe gaan, die noorderligte sien, die MotoGP deur die wêreld volg, die Sewe Wonders beleef. Ek wil nog ’n boek skryf. En ek wil kinders hê, veral ’n dogtertjie. Gróót drome, ja!

* Bespreek Hykie as motiveringspreker by irene@musicprofile.co.za