Lank en bruingebrand. ’n Gedugte teenstander wat gesag afdwing. Ferm, reguit. En, sê Hykie Berg noudat hy die TV-spel klaar gespeel het, hy was op Survivor SA Maldives altyd eerlik en getrou aan homself.

Byna vier jaar gelede het hy by ’n koffiewinkel in Melville aan SARIE vertel hoe dwelms sy lewe vernietig het. (SARIE, September 2007).

Sy belowende loopbaan het byna saam met hom in ’n dwelmhool in ’n agterbuurt in Johannesburg gesterf. Destyds het hy ontblotend eerlik herleef hoe hy die pad byster geraak het en weer moes opstaan.

Dis ’n ander Hykie wat vandag hier voor my sit. ’n Man met die hart en die moed wat van hom ’n Survivor maak, nie net op die kassie nie, maar ook in die werklike lewe. Jy kan maar sê van zero tot hero in vier jaar.

Hy kruis sy lang bene voor hom, want die straatkafee in Linden se tafels is veels te laag vir sy kniekoppe. Vrouebewonderaars by die tafel langsaan waai vir Binneland se “Conrad Bester” en Hykie waai hoflik terug. Dis kort ná sy terugkeer van die Maledive waar hy die Survivor-intriges heerlik geroer het.

Hy was vasberade en in your face. ’n Deelnemer wat kykers nie kan ignoreer nie.

In April was sy stem vir ’n maand stil gewees, want dokters het ’n groot poliep op sy stemband ontdek en dit  verwyder. “Ek kon ’n ruk lank glad nie praat nie sodat my stembande kon rus ná die operasie.

Later mag ek darem weer sag begin praat. Dit gaan nogal tough wees.”

Maar vandag gesels ons eers oor die geheime van die lewe wat hy meen hom gehelp het om so goed op die eiland te vaar. Beginsels wat hy toepas en wat hom help opstaan het uit sy dwelmverslawing.

“My pa, ’n liefdevolle en baie wyse man, het vir my gesê: As jy op Survivor die miljoen gaan wen met ’n scam, beteken dit niks nie. Wees die een wat die regte ding op die regte manier doen, nie die regte ding op die verkeerde manier nie. Dán beteken dit iets. Wees so versigtig soos die slange en so opreg soos die duiwe.”

Sy groot vriend Erik Holm (Rian Malherbe in Binneland) se pa, prof. Erik Holm, het ook raad gegee: “Dat ek eerlik moet wees, maar ook dat ek moet onthou om inligting van iemand te weerhou is nie óneerlik nie.”

Hykie en sy ouboet Nielen het al verslaaf geraak aan Survivor toe die eerste oorsese reeks in die vroeë negentigs op ons kassie gewys het.

“Ek het toe die boeke Games People Play van Eric Berne (Penguin Books) en Mark Rowlands se The Philosopher and the Wolf: Lessons from the Wild on Love, Death and Happiness (Mark Rowlands Books) verslind. Ek wou alles van die menslike spel agter die reeks weet. Toe ek die dag vir my eie Survivor-oudisie opdaag, het ek gevoel ek kan hulle ’n paar dinge van die teorieë agter die reeks vertel.”

Hy het dit weens ’n longinfeksie byna nie tot op die eiland gemaak nie en kon ses weke voor hy soontoe moes vertrek nie straf oefen nie. Hy het net daarop gekonsentreer om gesond te word. “Gelukkig was ek voor dit fiks. Ek boks tot vier keer per week, eet gesond en oefen met gewigte.”

Met ’n armbandjie van sy broer Nielen en ’n kamoefleerbroek van ’n vriend van Botswana, Reinhardt Haroldt (vir wie hy saam met Erik uitgekies het om eendag sy kis graf toe te begelei), het hy Survivor aangepak met ’n brose lyf en baie mensekennis.

Hy was sekerlik nie altyd die gewildste speler op die eiland nie, maar hy het tog as ’n soort leiersfiguur na vore gekom. “Uit Eric Berne se boek het ek geleer hoe om sosiale interaksies te interpreteer. Ek kon ook die sielkundige speletjies identifiseer wat mense gespeel het. Daar is voorspelbare reaksies op sekere interaksies.”

Danksy Marc Rowlands se boek het Hykie geweet dat wolwe en ape baie oor ons mensdom se reaksies verklap. “Die wolf is die eerlikste dier in die wêreld. Hy bly getrou aan homself. Jy sal nooit ’n wolf aan jou onderdanig kan maak nie, want hy behou altyd sy eie persoonlikheid.”

Hykie vergelyk ons (die mensdom) met ape, want ons beduiwel mekaar heeltyd. “Studies wys hoe ape ooreenkomste aangaan, mekaar in die rug steek, nuwe ooreenkomste vorm en weer dieselfde foute maak. Hulle verloor hulself in die warboel en weet later nie meer watter kant toe nie. ’n Aap leer nie ’n les nie.”

Sy boekekennis het hom geleer die aap wen nooit nie en die wolf kry altyd die prys. “Maar, jy moet ’n wolf in aapklere wees op die eiland. Jy moet voorkom asof jy ’n aap is, maar eintlik is jy ’n wolf. Jy moet baie cunning wees, want die spel sal jou pootjie as jy nie is nie.”

Baie van die deelnemers het nie verstaan dat die spel eintlik die spel van die lewe is nie.“Dis nie ’n game nie, dis die lewe gekonsentreer in ’n baie kort tydperk. As jy iemand daar gaan kroek vir ’n miljoen gaan jy dit buite ook doen. Ek is nie ’n kroek nie, gelukkig nie meer nie.” (lag)

Vir homself was gierigheid en ’n soort verwaandheid dikwels sy ondergang. “Maar ek het geweet as jy aan Survivor deelneem om die geld te wen gáán jy dit nie regkry nie.

Ek het ingegaan soos ek is. Ek wás daar om die geld te wen, maar die ervaring om deel te kon wees van so ’n wonderlike produksie was vir my baie kosbaarder. Ek het gesorg dat die geld my nie verblind nie en het op die pret gefokus. In die lewe werk dit ook so.

Die geld sal jou volg as jy die spel reg speel en geniet wat jy doen.” Een van sy geheime was dat hy probeer het om nederig te bly eerder as om arrogant oor te kom. “Ek het al geleer om myself te aanvaar soos ek is en ek straf myself nie as ek ’n fout maak nie.” Want foute het hy in sy lewe al baie gemaak.

“Ek het al in graad agt in die Hoërskool Wilgers met dwelms begin eksperimenteer en was ’n baie rebelse kind. Ek het op ’n manier darem matriek geslaag en het eers deur ’n tyd van abuse gegaan voor ek drama by Maties gaan studeer het. Ek was die drie jaar by Maties sober. Kan jy glo, ’n Matie-student wat nie eens ’n bier drink nie!”

Sober jare het vir hoogtepunte in sy loopbaan gesorg soos Plek van die Vleisvreters (2004) gevolg deur die sjarmante Darius du Buisson in Egoli tot 2005 (vir dié rol het hy ’n benoeming vir People Magazine se Crystal Awards gekry). In 2006 het die fliek Ouma se slim kind gevolg en daarna die SABC3-dramareeks One Way asook Jozi H op SABC2.

’n Hoogtepunt was toe hy in die verhoogproduksie Fiela se kind ingestaan het in die rol van Lukas van Rooyen/Benjamin Komoetie nadat sy vriend Erik in ’n fratsongeluk verlam is. “Ons is staande toegejuig! Dit was baie emosioneel en die beste teaterervaring van my lewe, al was ek baie hartseer oor Erik.”

Maar oor sy tydperk as Conrad in 7de Laan in 2007 voel hy nie trots nie. Dis hoekom hy in September 2007 sy hart teenoor SARIE uitgepraat het. Hy het bely dat hy ná agt jaar van soberheid sonder dwelms weer gevou het en sy lewe weer heeltemal verwoes het.

“Ek het nie my woorde onthou nie en hulle moes elke sin vir my voorsê. Dit was so erg dat ek en Pierre van Pletzen [Oubaas] tekste na mekaar gegooi het. Hulle het my dikwels huis toe gestuur. Ek kon nie perform nie. Dit was van my swakste werk. Die probleem is ek het gedink daar is nie meer iets wat ek kan leer nie. Ek was mak.” Sy kontrak by 7de Laan is nie hernu nie. ’n Paar jaar later het hy die uitvoerende vervaardiger, Danie Odendaal, verskoning gaan vra vir sy gedrag destyds.

Hy vertel hoe hy twee keer in sy lewe rock bottom getref het. “Die eerste keer was in Junie 1999 toe ek 19 jaar oud was. Ek was ’n volslae heroïenverslaafde en het drie dae in Hillbrow se crack houses gelê en by die dood omgedraai voor ek daai rots getref het. Verder as dit kon ek nie in die dieptes ingrawe nie.”

Toe kom 2007 en hy tref weer ’n laagtepunt. Vriende het hom in agterbuurtes in hole gaan soek en hom na ’n rehabilitasiesentrum geneem. “Ek het eers ’n week later wakker geword. My BMW het ek blykbaar iewers in Sandton afgeskryf. Nigeriërs wou my glo skiet oor ek net aanhoudend dwelms bestel het en dit nie kon betaal nie.”

Hy het besluit dis sy finale draaipunt. Hy het weer vir rehabilitasie gegaan en moes sy luukse dakwoonstel verkoop om die rekeninge te betaal. “Maar dis nou agter my. Ek gaan dit nie saamsleep nie. Ek wil eerder mense inspireer ná wat met my gebeur het. Ek het geleer ’n mens moet aan ’n Hoër Mag vashou, anders sink jy weer.”

’n Verslonste jong man struikel verby die koffiewinkel en dit ontstel Hykie duidelik baie. Hy wil onder jong mense werk en uit sy ervarings vir hulle hoop gee vir die toekoms. “Ek wil oor die hier en nou praat – die daar en dan is verby.” Hy skuif sy hempsmou op om die letsels van sy donker dae as heroïenslaaf te wys.

“Ek sal altyd daaraan herinner word. Elke keer as ek bloed skenk, kry ek daardie euforiese gevoel as ’n naald in my aar insink. Jy is nooit genees daarvan nie. Jy is altyd in die herstelfase.”

Hy het geleer om weg te bly van gevaarsones. “As ’n paartie elfuur rof raak, moet ek huis toe gaan. Ek drink glad nie. Ek eet nie eens kos met alkohol in nie. Ek is vreeslik bang om terug te gaan na waar ek was. Niks goeds kom van dwelms nie, NIKS!

My lewe werk net as ek sober is. Hoekom moet ek terugklim in die ring met Mike Tyson en dink dié keer gaan ek hom uitslaan? Ek weet mos ek gaan elke keer weer op die vloer beland.”

Dis hoekom sy deelname aan Survivor vir hom so ’n hoogtepunt was. Hy is self ’n survivor in die regte lewe. En hy glo almal hét dit in hulle om te oorleef. Hy het ongelooflik baie uit die reeks geleer. “Ek kon opregte vriendskappe sluit met mense en ek en Jacques Terre’Blanche kan nie wag dat ons weer met mekaar mag kontak maak as die slot-episode verby is nie.”

Hykie het sy liggaam al voorheen tot uiterstes beproef, soos toe hy by ’n geestelike sentrum tien dae op verdunde sap en water geleef het, maar die ervaring op die Maledive het hom werklik geleer waartoe sy lyf in staat is.

Hykie sê Survivor is ’n duplisering van die spel van die lewe. Dit hang van jouself af hoe jy die spel speel. “Van die uitdagings was die ergste goed wat ek in my lewe gedoen het en ek is trots daarop dat ek dit kon regkry. Ek is nou nogal ’n kampioenkokosneutkapper met ’n panga, hoor! Ek het seker ’n goeie 50 op die eiland verorber.” Met die kosskaarsste het hy ’n lewenswysheid toegepas wat sy vriend Reinhardt hom geleer het. “Hy het gesê: Gee jou laaste stukkie brood weg vir jou grootste vyand. En ek het dit gedoen. Dis ’n waardevolle les.”

In alleentye op die eiland kon hy ook die nabyheid van die Skepping ervaar. Vir hom is sy geloof nie ’n intellektuele begrip nie. “Ek glo geloof is nie iets wat mense jou kan oortuig om te hê nie. Dan kan iemand jou mos net so maklik oortuig om nié te glo nie? Ek het uit my ervarings geleer dat sekere dinge in my lewe moes gebeur het sodat ek God in die donkerste dieptes van my siel kon ontmoet. Ek glo dis net genade dat ek is waar ek myself vandag bevind.”

Hy skroom nie om te sê die kern van sy lewe is nie sy werk nie, maar soberheid. “As ek nie sober is nie, het ek nie vir God, my familie of ’n werk nie. Ek is mal oor Conrad Bester, my karakter in Binneland, en ek sal altyd dankbaar wees vir die ATKV mediaveertjie as beste akteur wat hy my in 2010 besorg het.”

En hy hoop hy hoef nooit weer terug te gaan na sy rock bottom-dae nie. “Survivor het weer aan my bewys ek is ’n wenner as ek getrou bly aan dít wat Hykie laat tiek.”