EK HOOP . . .

Afrikaans leef vir ewig. Dis my hartstaal. As jy droom en bid in jou taal, lewe dit. En as ’n ding lewe, dan stap dit ’n pad saam met jou. Ek glo dié taal wat in my grein lê, sal nooit verdwyn nie.

soos wat plaaslike rolprente nou nuwe lote stoot, só sal teater ook ’n bloeitydperk beleef. Ons is so vasgevang in ’n DVD-en-televisie-generasie. Ek hoop mense doen weer moeite om teaterkaartjies te koop en dit by te woon. Rou, eerlike teater.

die toneelstuk Labirint, waarin ek en die akteur Deon Lotz nou speel – ’n bittersoet lewensdrama oor ’n man en vrou wat moet sin maak uit sy afdanking – word landwyd goed ondersteun. Dis helende teater.

ons kan almal in hierdie mooi land van ons saamleef. Daar?ís ’n plek vir ons elkeen in die son. Ons moet leer om te leef?en te laat leef.

dat my kinders gelukkig sal wees, hul passie sal vind, altyd sal bly droom en voluit leef.

dat ek en my man, Gary, my beste vriend en sielsgenoot met wie ek al agttien jaar getroud is, nog ’n lang, gesonde pad saam sal stap. My ma, Mercia, sê Gary [’n bemarker en leefstylafrigter] is reguit van die hemel afgebid. Ons wil nog soveel dinge saam doen en droom daarvan om vir ons 20ste huweliksherdenking ’n twee weke lange pelgrimstog iewers in die wêreld aan te durf. Ons vertrou mekaar, gee mekaar ruimte en grasie.

om met eerlikheid, integriteit en gesondheid oud te word en myself altyd in die oë te kan kyk – en vrede met myself te hê.

om binne die volgende jaar of twee ’n luisterliedjie-CD uit te reik met rou, eerlike en eenvoudige musiek waar my stem met skoon klanke begelei word. My eerste solo-CD met kabaret-klanke, Die blou kafee, is in 2008 uitgereik. Dis weer tyd vir iets nuuts.

EK IS BANG . . .

dat iets met my geliefdes gebeur. My ouers is al in hul tagtigs en woon op ’n Bolandse wynplaas. Ek raak soms skrikkerig as ek aan hul veiligheid dink. En elke nou en dan gaan my kinders, Luke [15] en Matthew [11], op ’n skoolkamp en vra ek hul beskermengel om saam met hulle te stap. Dan gee ek hulle ’n groot druk en ’n groot glimlag en stuur hulle weg. Daarna gaan sit ek in ’n hoek en huil en hoop vir die beste . . .

dat ek dalk eendag in my liggaam vasgevang gaan wees wat nie meer kan of wil nie en dat ons land nie op ’n plek gaan wees waar jy self kan besluit oor genadedood nie.

dat ek vasgepen sal word in ’n klein kamertjie met ’n harige spinnekop of ’n slang. Dis bloot ’n grillerige gedagte waarmee ek nie gemaklik voel nie. Eintlik hou ek glad nie daarvan om té veel aan vrese te dink nie, want ek glo dán gee jy dit vlerke.  

WAT EK GELEER HET

In die sowat vyf jaar dat ek Isabelle Moolman in die SABC2-sepie 7de Laan gespeel het, het ek opnuut weer die genesende krag van lág saam met Hilda [Annelisa Weiland] ?en Ryno [Chris Vorster] ontdek.

In [Leon van Nierop se rolprent] Wolwedans in die skemer vertolk ek ’n kameerol, dié van die misterieuse, manipulerende Arista. Ons het lang, moeilike ure verfilm, maar dit was ’n besielende ervaring om met soveel nuwe, jong talent te werk.

As jy kraam, is daar geen handleiding nie. ’n Ma bid altyd en vra vir hulp en krag.

Ek het iewers gelees as jy kinders het, moet jy die kind grootmaak wat jy het, nie die kind wat jý was nie. Dis belangrik, want jy projekteer dikwels jou eie kindertyd-ervarings op hulle. Ma-wees bly vir my “a wing and a prayer”.

Kyk met sagte oë na jouself – ons is almal uniek. Ek kyk na my lyf en dink: Hierdie lyf is gesond en het twee kinders gebaar. As daar ekstra kurwes is, so what? Ek is gemaklik met wie ek is. Hoekom moet ons lyk soos die perfekte Hollywood-prentjie? Niemand wat daar is, lyk in elk geval natuurlik so nie!

Wees getrou aan jouself. As jy die laaste paar minute voor jy slaap vrede met jouself het, dán lê jy op ’n goeie plek.   

Ek het vrede gemaak daarmee dat ek in die verkeerde eeu gebore is. My oerritme vra vir minder, stadiger en eenvoudiger dinge. Ek gun myself tyd en stilte. Ek laat nie toe dat mense my stoomroller nie. Ek hou nog daarvan dat mense vir my briewe pos. Kitsdinge vang my onkant.

Hou altyd die groter prentjie in gedagte. Ek is ’n groot stapper. Noudat ek weer vryskut-aktrise is, stap ek elke oggend ’n uur lank. Ek fokus op die mooi dinge. Dis my genadetyd. Ek sien die seisoene verander, ignoreer die verkeer, haal diep asem. Dan lyk dinge anders en word ek nie vasgevang in die dolle gejaag van die wêreld nie . . .

Vat die lewe
met ’n knippie sout, ou Murphy wag altyd om?’n hoekie met ’n draaibal. Nes jy dink alles is reg, vang hy jou.?En dis ook oukei. Dit hou ons op ons tone.                             

* Wolwedans in die skemer is van 5 Oktober landwyd in fliekteaters te sien.