Jy speel tans die ystervrou dr. Elana Bester in die kykNET-sepie Binnelanders. Het jy iets by haar geleer?

Sy is ’n sterk karakter en ek het al ’n paar lesse by haar geleer. Een van hulle is om te veg vir dít waarin jy glo. ’n Ander ... die lewe gaan oor meer as net oor jou loopbaan. Stop and smell the roses.

FOTO Instagram / Ilne Nienaber
FOTO Instagram / Ilne Nienaber

Verskil julle?

Ons is eintlik baie dieselfde, behalwe dat ek gelukkig getroud is en twee pragtige kinders het, terwyl Elana nie wil trou of kinders hê nie.

Sou jy ’n goeie dokter kon wees?

Ek dink ek sou eerder ’n goeie apteker gewees het. Ek is mal oor die chemiese aspekte van medisyne, watter stowwe saam gemeng word om ’n sekere reaksie te ontlok. Maar ’n dokter? O nee! Ek gril vir bloed, selfs vir die fake bloed op stel.

Het jy enige fobies?

Spinnekoppe! Maar dis al. Ek sal van ’n berg af spring of slakke eet of in ’n donker grot rondkruip. Maar plaas een klein spinnekoppie voor my en ek freak uit!

FOTO Instagram / Ilne Nienaber
FOTO Instagram / Ilne Nienaber

Jy het al in vier sepies gespeel. Dink jy die sepiewêreld het oor die jare verander?

Dis ’n bedryf op sy eie en vir my het dit die afgelope twintig jaar dieselfde gebly. Sodra jy dit onder die knie kry, is dit soos fietsry ... dit bly altyd by jou. Die uitsondering? Binnelanders is die beste cast en crew met wie ek al saamgewerk het.

Voor Binnelanders het jy vir ’n ruk uit die kollig verdwyn?

Ek het my kinders, Hugo (6) en Mila Gabriela (2), gehad en op my ander passie, skryf, gefokus. In daardie tyd het ek verhoogstukke vir skole geskryf en ook kinders vir die eisteddfod afgerig. Eintlik het ek gedink ek is klaar met die wêreld van sepies, maar ek was uitgeboul deur Binnelanders toe die oudisie oor my pad gekom het.

FOTO Instagram / Ilne Nienaber
FOTO Instagram / Ilne Nienaber

Hoe het ma-wees jou lewe verander?

Ek het grootgeword, geleer om geduldig te wees. My kinders het my ook gewys dat mense voluit die lewe moet geniet en in die oomblik lewe, dat jy elke oomblik ten volle moet ervaar en nie altyd strewe na die volgende avontuur of vakansie nie.

Hoe behou jy balans tussen jou gesinslewe en die lang ure op stel?

Dis die heel moeilikste ding tans. Buiten die lang ure en opofferings weg van my kinders beïnvloed die storielyn waarmee ek besig is my eie gemoed geweldig baie. Soms is dit bitter moeilik om af te skakel van die intense emosies wat ’n storielyn vereis. Maar albei my kinders en my loopbaan maak my ontsaglik gelukkig. Danksy my wonderlike man en my ondersteuningstelsel kan ek albei laat werk.

In 2009 is jy van jou eerste man geskei. Om deur ’n egskeiding te gaan is nooit maklik nie. Hoe het jy die stukke opgetel?

In my geval het ek en my eks ná die egskeiding glad nie kontak gemaak nie, want ons het geen kinders gehad nie. Ek dink dit het die hele proses om van voor te begin makliker gemaak. Die enigste raad wat ek vir vroue daarbuite het, is: If you have lost everything but God, you know God is enough.

FOTO Instagram / Ilne Nienaber
FOTO Instagram / Ilne Nienaber

Jy is nou gelukkig getroud met Marcus Benadie. Wat het jy by hom geleer?

My man is stunning, binne én buite. Ek leer daagliks by hom van uithouvermoë. Hy het my geleer as jy ’n doelwit vir jouself stel, maak dit nie saak watter hindernisse op jou pad is nie, hou vol en gaan groot tot jy jou doelwit bereik het.

As jy vir ’n jong Ilne kon raad gee, wat sou dit wees?

Moenie so vreeslik worry oor hoe jy lyk nie. Maer wees en die perfekte vel is nie wat jou deur die lewe trek nie. Integriteit en ’n liefde vir mense, alle mense, is wat jou eendag gaan laat uitstaan.

Jy kan met enigiemand oor ’n koppie koffie gesels. Wie sal dit wees en hoekom?

My man. Ek weet dis ’n cliché, en dit sou beter wees om eerder Oprah Winfrey of Madiba te sê. Maar ek en my man het min tyd alleen vir ’n koppie koffie. So ek sal regtig daardie een wens vir hom gebruik.

FOTO Instagram / Ilne Nienaber
FOTO Instagram / Ilne Nienaber

Gunsteling-kleur: Wit (tipies, ek is nooit “normaal” nie)

Gunsteling-bestemming: St. Francisbaai in die Oos-Kaap

Gunsteling-aktrise: Sandra Bullock

Gunsteling-akteur: Ryan Reynolds

Droomvakansie: Disneyland saam met my kinders

Die een gereg wat jy oor en oor sal eet: Soesji, soesji en nogmaals soesji. Enige soort, enige tyd