Saam-saam hou ek en die wasmasjienmense voor haar huis in ’n middelklasbuurt in Johannesburg stil. “Hallo jy,” groet Illse Roos. Die honde skarrel opgewonde. Ja, sepiesterre en kabaretsangers se wasmasjiene breek ook, en in die agterplaas wapper die wasgoed aan die draad. Illse, met haar blink bos rooibruin hare loop vooruit in gebleikte jeans, bruin seemsleerskoene en ’n wit T-hemp.

Sy beduie vir ’n vale. Dís nou deesdae Livia in 7de Laan, ’n “misterieuse” Mediterreense vrou . . . Latyns-Amerikaanse musiek en die tango speel glo nogal ’n rol in Livia se lewe. En Illse het die tango geleer vir haar rol! Die wasmasjien-probleme is eintlik haar man, Gary, s’n. Want naas haar nuwe sepie-rol, speel sy in die werklike lewe ook ’n nuwe rol - dié van broodwinner.

Gary was die skottelgoed, maak kos, ry Matthew (5) en Luke (9) aan skool toe, help met huiswerk. Hy restoureer ook die kinders se badkamer en het hom vir ’n reiki-kursus ingeskryf.

“Hy’s die perfekte huisman,” komplimenteer Illse. Vir Gary, voormalige bemarkingsdirekteur, is vanjaar ’n sabbatsjaar. Illse is dus die een wat vroeg opstaan vir brood en botter. Gary sê sy “Botticelli bombshell” gaan soggens halfsewe by die huis uit en is soms terug vir middagete. “Maar soms skiet ons tot saans sesuur op die stel van 7de Laan,” sê Illse.

Op 41 het haar lewe nou ’n sirkel geloop, verduidelik sy. “My kop en my lyf het bymekaar uitgekom. Gary en ek groei parallel. Ons het albei ’n behoefte aan spirituele groei en droom van ’n holistiese toevlugsoord naby water. Hathajoga het my geanker.”

Min van haar bewonderaars besef Illse se loopbaan het met kabaret afgeskop - maar hulle onthou daardie pragtige stem in die TV-reeks Amalia. Wat verlede jaar uitgeloop het op haar kabaret en gelyknamige CD Blou Kafee. Vir haar was dit soos ’n “tuiskoms” om sang en toneelspel te herenig. Illse het by Casper de Vries in die kabaret Hallo Suid-Afrika (1986) as student geleer hoe om op haar tone te dink.

“As hy eers begin ad lib (improviseer) op die verhoog, moes jy jou storie ken!” Oor Blou Kafee se luisterliedjie-blues, sê sy: “Die energie van die pianis André Kempen en Gian Groen op die kitaar is ongelooflik. Ek kan myself op ’n sekere punt net oorgee en begin vlieg. Ons gaan hopelik nog ’n lang pad saam stap.”

Dit was inderdaad vir Illse ’n lang pad sedert sy in die laat jare tagtig onervare in Johannesburg aangekom het, “met my motor, ’n tas klere, wyn en ’n klereraam”. Sy het nog nooit haar eie agent gehad nie. “Ek doen dinge op mý manier.” Soms vereis sy dat kontrakte in Afrikaans opgestel word. “Want kontrak-Engels is dikwels so moeilik, selfs die Queen sal dit nie verstaan nie!”

Haar eerste rol was in Franz Marx se TV-reeks Adam. Sy praat met lof van sy aandeel in haar akteursloopbaan. “Dit het afgespeel in die Robey Leibbrandt-tydperk. My karakter, Peggy, moes vreeslik optof. Ek het ’n lyf vir sulke klere. Borste, heupe en ’n middellyf.” In die volgende Marx-produksie, die fliek Agter Elke Man, was sy ’n onskuldige boerekind maar professionele terapeut wat deur Steve Hofmeyr se karakter, Bruce Beyers, “bevry” is. “Hy het hope seksuele energie uitgestraal,” onthou sy. “En Dulcie van den Bergh wás tannie Stienie. Ek kan haar nog so sien met die sigaret en die afgeloopte pantoffeltjies. ’n Mensch.” En in die rolprent Die Prince van Pretoria, nóg ’n Marxproduksie, gegrond op die waarheid, het haar karakter, ’n skakelbeampte, heeltemal op loop gegaan met die situasie. Die “prins” het die hele volk om sy pinkie gedraai . . .

 

My kop en lyf het bymekaar uitgekom. Gary en ek groei parallel

 

Maar dis eintlik oor haar eerste sepie, Egoli, waaroor Illse lank kan uitwei. En sy voeg vinnig by: “Moenie dink sepies is minderwaardige toneelspel nie. Dit was rasend opwindend. Ons het geweet Franz se sepie sal gehalte wees. Beter as die Amerikaanse goed. Ons het drie maande lank gerepeteer in ’n ou skool in Newlands, Johannesburg. Die tegniek is dieselfde as vir die verhoog, maar die proses is meer kompak. Jy het nie die luukse van weke repeteer nie. As jou hart daarin is, sal jy altyd iets leer. Dís die uitdaging. Jy moet die magic sóék.

“Ek was tien jaar by Egoli en ken die masjien. Lynette, my karakter, was ’n bal energie. Sy het vir alles kans gesien.” Maar ná tien jaar was haar “emosionele roomkan” leeg. Sy moes “niks-word-tye” beleef en stil word. Sy het dit gedoen met joga en mosaïekwerk. “Maar ek kon ook nie net stilsit by die huis nie. Ek het grootgeword op die familieplaas Mooiplaas tussen Kuilsrivier en Stellenbosch. Toe begin ek Mooiplaas se wyn bemark en wynproe-aande en gourmet-etes in Johannesburg reël.” Ná vyf jaar se rus was sy weer reg vir die kamera. Sy kon haar hart stort in die gewilde TV-reeks Amalia.

“Ek wou altyd saam met Chris Barnard en Katinka Heyns werk. Die Storie van Klara Viljee en hul ander werk het my aangegryp. Hulle het my uit die bloute gekontak en ek het ja gesê sonder om die draaiboek te sien. En nadat ek een paragraaf gelees het, het die karakter voor my gelê.”

Toe Chris aan Amalia II begin werk het, het hy Illse se “Liedjie vir jou” oor die radio gehoor. Dit het gelei tot sy lirieke vir Blou Kafee, wat Laurika Rauch later na toonsetters soos Chris Torr, Mynie Grové en Gian Groen gestuur het. Die CD was ’n natuurlike uitvloeisel van die TV-reeks. “Ek het toe Voetpad Produksies gestig om my CD te vervaardig.” Binne ’n week nadat sy en Gary besluit het om rolle om te ruil, het sy die 7de Laan-kontrak gesluit. “Ek glo nie aan toeval nie,” sê sy.

Mense wat haar ken, glo sý het self die grootste aandeel in haar sukses. Illse is deeglik in voeling met haarself: “Wie weet, eendag is ek dalk betrokke by regie. Ek sien dinge in prentjies, maar ek is nog nie heeltemal daar nie.” Kunsflieks soos The Piano en Immortal Beloved roer haar: “Dis heilig mooi en pynlik eerlik, sny ’n kortpad siel toe - magiese stilstaan-oomblikke.

“Antoinette Kellerman, op plaaslike bodem, sny diep en eerlik. Oorsese akteurs soos Jessica Lange en Cate Blanchett praat met my.”

Sy is vol planne. “Daar is ’n lekker ding in my kop waar ek rock en klassieke musiek bymekaar wil klap. Dalk volgende jaar by die KKNK. Ek glo nie in dinge ryp druk nie. Ek vertrou my
gut feeling. En tot dit soos ’n legkaart inmekaar pas, vertrou ek die kreatiewe proses.”

Hoe kom sy reg in haar rol as broodwinner? “Ons gesin het nie meer ’n huishulp nie. Die kinders is oud genoeg om hul eie kamers skoon te maak. Die kinders is ons grootste prioriteit. Ons ontspan saam met vriende, in die natuur, klim berg, kuier Kerstyd by my ma-hulle op Mooiplaas of by die see.

“Ek wou aanvanklik ons kinders tweetalig grootmaak, maar toe was Engels al vyf jaar my en Gary, ’n Engelsman, se huistaal. Ek het dalk die maklike weg gevolg. Ons huishulp was ook Engels. Maar Afrikaans lê in my grein. Dis die taal waarin ek bid en baklei. Die kinders se Afrikaans vorder mooi. Ons praat dit al hoe meer by die huis. Luke neem dit as vak op skool en Gary praat dit goed en leer die allermooiste Afrikaans by my pa.”

Illse is tradisievas en glo sterk aan gesinswaardes. “My kinders moet ook eendag aan ons huis dink as ’n plek vol liefde.

“Ma-wees maak mens weerloos. Daar kom nie ’n handleiding daarvoor nie. Sommige aande klim ek in die bed en hoop ek het my beste gedoen. Ek sien eienskappe van myself
in my kinders en dink ‘haai, hier is nóg ’n drama queen in die gesin’. Dalk is hulle óóremosioneel. Met wiskunde het ek agter in die ry gestaan en as ek hulle help huiswerk doen, dan slaan die klam sweet van angs op my uit, maar ek wil nooit mý bagasie na hulle oordra nie. Iewers het ek gelees: You must raise the kids you have, not the child you were.

“Ek wil nooit soos ’n heilige klink nie. Ek is geen Afrikaanse drama-ikoon nie. My kinders maal my soos ’n rivierklippie, maar ek is nog vol skerp punte . . .” Sy verklap ook: “Daar skuil nog altyd sigeunerbloed in my. Só wil ek oud word. Sensueel, met lang, grys, krullerige hare, goeie rooi wyn, funky juweliersware en gypsy-gewade.” Gary is die een wat ’n bord vars slaai, kraakbeskuitjies, kaas, mineraalwater en vrugtesap voor ons neersit . . .