Irene-Louise (Rienkie) van Wyk (17) het einde 2009 vir die eerste keer haar ma, Irene van Wyk, se laaste CD in haar hande gehou nadat Irene op 12 Oktober in ’n motorongeluk oorlede is. Irene-Louise kon egter nog nie die moed bymekaar skraap om na die CD te luister nie.

"Ek het in ons grootskerm-kamer gesit toe my broer, Vaughn, my roep om na die CD te kom kyk. Ek was meer bly as wat ek hartseer was toe ek dit sien, want ek het besef my ma se stem sal nooit stil wees nie.

Ek het nog nie daarna geluister nie en my pa (Louis van Wyk) en my broer kon dit ook nog nie regkry nie. Dis te erg. Ek het op Oprah gehoor as jy die stem hoor van iemand wat dood is, is dit ’n sneller wat jou laat huil. Ek het nou die dag by ’n optrede van Dozi begin huil. My ma was ’n agtergrondsanger vir hom en toe die CD met die agtergrondmusiek speel, het ek haar stem herken.

Dalk luister ek oor twee jaar na die CD en huil nog steeds. Ek weet wel hoe van die liedjies daarop klink, ek het hulle al gehoor, maar ander is nuut. My gunsteling-liedjie is ‘Wie’s die vrou in jou arms vanaand’. Steve Hofmeyr het dit vir my ma geskryf. Sy het dit met soveel passie en emosie gesing.

Sy’t dit een keer by ’n optrede van Steve by Carnival City gesing, ek dink dit was so twee jaar terug. Die saal was vol mense. Ek het van blydskap gehuil. Ek’t gedink: Wow, dis my ma! Ek was so trots op haar.

Ek en my pa het Kersfees nog altyd saam deurgebring. Dit was egter moeilik om nie nou vir my ma iets te kon koop of haar te kon bel nie. Ek mis soveel dinge van haar: haar stem, haar lag, ons geselsies . . . Tog voel ek rustig oor haar dood. Ek weet sy’s nie heeltemal weg nie. Ek kan haar nog by my voel.”