Lydia van der Merwe het haar Dindag by die Kruger Nasionale Park opgespoor. Wat gaan sy nou doen?

Jy was een van die eerste gesigte op plaaslike TV?
Ja, ek was onder meer kontinuïteitsaanbieder, het lank Uit en Tuis aangebied en het ook insetsels vervaardig vir onder meer 50/50 en Collage. Vir die kinderprogram Wielie Walie het ek alles gedoen: Stories en musiek geskryf en kamerawerk gedoen. Ek het só alles van TV-werk geleer.

En jou betrokkenheid by die eerste TV-program vir dowes?
Ek was uitvoerende regisseur vir Sign Hear, wat later Signature geword het met Pieter Cilliers as uitvoerende regisseur. Om dié program van die grond af te kry was een van die groot uitdagings in my loopbaan. Ek kon my later selfs bietjie in gebaretaal uitdruk, maar ek het dit intussen weer verleer. Ek het my destyds daarvoor beywer dat die TV-nuus met gebartetaal getolk word, soos wat dit nou op sekere bulletins gebeur.

Maar jy is in 1997 terug radio toe?
Ja, dit was lekker om weer radiowerk te doen. Spektrum word regstreeks uitgesaai en jy moet op jou voete kan dink. Verlede jaar het die helfte van die kabinet bedank – ons was sewe minute op die lug toe dit gebeur. My laaste program was Donderdag, toe die verkiesingsuitslae bekend gemaak is. Ek het in onderhoude met van die land se bekendste politieke leiers, soos mee. Helen Zille (DA), Jessie Duarte (ANC), Patricia de Lille (OD), Juli Kilian (Cope), mnr. Koos van der Merwe (IVP) en dr. Pieter Mulder (VF+) gevoer.

Jy het Vrydagaand 3 ATKVeertjies ontvang, een daarvan as beste radio-aanbieder. Was dit die kersie op die koek?
Ek het dit nie verwag nie, maar dit was lekker.

Wat gaan jy nou doen?
My man, Christo, het reeds verlede jaar afgetree en ons gaan Kaapstad toe trek. Ons het 28 jaar in ons huis in Northcliff, Johannesburg, gewoon en dit gaan omtrent ‘n groot gepak afgee. Ons wil reis, plaaslik en oorsee. Ek sien uit na die Kaap, want albei my kinders woon daar. Ronel was tot verlede jaar by Die Burger en is nou direkteur: kommunikasie by die Departement Omgewingsake en Toerisme. Jan doen voltyds sy MBL.

Gaan ons weer jou stem op die radio hoor?
Beslis. Ek is lus om dokumentêre programme te maak. Die tegnologie maak dit deesdae baie maklik. Mens moet jou kop oopmaak vir nuwe goed. En ek sal nie kan stilsit nie!