Blake en akteur Ryan Reynolds (haar medester in die fliek, Green Lantern) het presies 'n week ná SARIE haar in die pragtige Venesië tydens die bekendstelling van die Gucci Première-parfuum ontmoet het, in 'n intieme en baie private seremonie getrou.

Op die oomblik lyk dit asof alles net eenvoudig reg uitwerk vir Blake: Sy het roem verwerf met haar rol as Serena van der Woodsen in die gewilde TV-reeks Gossip Girl en uitgeblink in rolprente soos The Sisterhood of the Traveling Pants,? The Town, The Private Lives of Pippa Lee en Green Lantern, wat gedeeltelik in Suid-Afrika verfilm is.

Haar klerestyl het haar boonop verlede jaar ’n plek op die nuus-tydskrif Time se gesogte lys van 100 invloedrykste mense besorg.

Jy kan nie anders nie as om te wonder hoe sy dit regkry om die skielike bekendheid te verwerk.

“Dis vreemd om nie anoniem te wees nie,” vertel Blake borrelend, en haar persoonlikheid doen beslis haar van, Lively, gestand. “Soos wanneer jy by ’n restaurant is en iemand neem ’n foto op die presiese oomblik dat jy ’n hap van jou kos vat. Of mense sal vir jou sê ‘haai, jy het dit gesê’, terwyl jy dit nooit gesê het nie. Of ‘jy het met so-en-so uitgegaan’, terwyl jy die mens nog nooit ontmoet het nie.     

Die persepsie wat mense van jou het, is ’n uitdaging, want jy wil nie hê ?jou familie moet iets hoor wat nie waar is nie. Dis die negatiewe kant van bekend wees. Maar die positiewe deel is dat ek hier in Venesië kan sit en gesels en mooi klere kan dra!”

Sy glo dit help om jouself nie te ernstig op te neem nie. “Elkeen van ons voel sekere dae goed en ander dae sleg, jy weet. Maar my ma het ons gehelp om dit op ’n positiewe manier te oorkom, want die fokus was nooit op hoe jy lyk of wat jy dra nie, maar eerder op wat jou in die algemeen goed laat voel. As jy byvoorbeeld vir iemand anders iets doen en jy kan dié persoon se dag beter maak, voel jy ook sommer goed.”

Hoewel dit duidelik is hoekom baie mense Blake bewonder, het sy self nie net een held nie. Sy sê sy put liewer inspirasie uit ál die mense om haar wie se sukses sy bewonder – van haar ouers tot bekende sjefs en ontwerpers. “Dis belangrik om mense te hê wat jou inspireer, maar ek dink dis gevaarlik om net een persoon uit te sonder en te besluit jou lewe moet presies soos daardie een s’n wees. Ek kyk liewer na wat my van verskillende mense inspireer en neem dan daardie bestanddele om my eie lewensresep ?te maak.”

En dit doen sy beslis, sonder om te veel van haar wenresep te verklap.

Wat haar klerestyl betref, verduidelik sy dat dit alles gaan oor hoe sy voel. “My klerestyl is alles wat ek wil wees as vrou: die sterk bemagtigde vrou wat haar eie sakeonderneming het, die vrou wat net in die kombuis bestaan, die 50’s-vrou, die 40’s-vrou, die vrou van vandag, die vrou van die toekoms. Daar is soveel weergawes van vrouwees, en ek wil hulle almal wees! Daarom bevat my klerekas al hierdie elemente en elke dag is anders.

“My raad is dus om altyd net jouself te wees.”   

BLAKE, VENESIË EN DIE GEUR

VenesiëVenesië

Venesië met sy tydlose skoonheid en romantiese waterweë bekoor al eeue lank besoekers, reisigers en kunstenaars. Die digter lord Byron het dit beskryf as die “feetjiestad van die hart” en vele kunstenaars het van die vroegste tye af daartoe bygedra om dié Italiaanse stad te omskep in die kuns-skatkis wat dit vandag is.

Die glorieryke tuiste van romantiese gondels was daarom die natuurlike keuse vir die bekendstelling van die Italiaanse modehuis Gucci se nuutste geur, Gucci Première.

“Hierdie parfuum is ’n uitnodiging om jou eie rooitapyt-oomblik te vier,” verduidelik Gucci se kreatiewe direkteur, Frida Giannini.

Die geur is ’n uitvloeisel van Gucci se Première Couture-klerereeks, wat in 2010 die lig gesien het. Vir Frida was die aktrise Blake Lively die ideale keuse as gesig van die parfuum: “Sy het die glans en charisma van die ikoniese vroue uit Hollywood se goue era,” verduidelik Frida.

Gucci Première (R835 vir 50 ml EDP) word beskyf as ’n gesofistikeerde hout-en-muskus-sensasie. Die parfuum ruik aanvanklik na sjampanje, waarna vars geure van bergamot en lemoenbloeisel na vore kom. In die hart is note van wit blomme en moderne muskus. Note van rokerige leer en balsemhout rond die geur af.

Die verpakking verras ook: Die bottel lyk aanvanklik goudkleurig, maar vanuit sekere hoeke is dit deursigtig.

Blake Lively is die gesig van Gucci PremièreGucci Première

BLAKE OOR SUID-AFRIKA

“Een van die dinge in Suid-Afrika wat my die meeste geïnspireer het, was die Bombay Bicycle Club-restaurant in Kaapstad. Hulle maak ’n fantastiese filet wat met sjokolade bedek is!

Die eienaar besit ’n paar restaurante en ek was by almal. Ek het elke stukkie detail afgeneem, want ek was so gefassineer deur hierdie restaurante se unieke dekor wat lyk soos iets uit Moulin Rouge. Hulle het my tot toegelaat om in die kombuis te kook!

Ek is mal oor restaurante, daarom was dit vir my so inspirerend. Terwyl ek in Suid-Afrika was, het ek ook stoksielalleen op safari gegaan. Dit was nogal vreesaanjaend, want ek het op my eie gebly en daar was geen slotte aan die deure nie. Ek was bang iemand vergeet waar hulle woon en kom sommer by my deur ingestap! Maar dit was bevrydend om dit te kan doen.

Ek het ook 2 dae by ’n weeshuis deurgebring. My tyd in Suid-Afrika was besonder vervullend. Dink net, om see toe te gaan en saam met pikkewyne te swem – dit voel nie soos die regte lewe nie, dis net ongelooflik.”