Toe verras Jacinda die kykers van Survivor SA Panama en sy steel die kollig.

Goed, sy is pragtig. Sy was immers ’n finalis in ’n vorige Mej. Suid-Afrika-wedstryd. Sy het haar eie afrondingskool vir kinders. Sy is Flake se sensuele gesig met haar swart hare en asuurblou oë. Sy hou van haar handsakke, en haar gepunte slangleer stewels steek vernaam onder ’n baie grasieuse culotte uit. Maar moenie ’n fout maak nie. Jacinda Louw is nie een om op handsakke, skoene of haar groot oorbelle getakseer te word nie. Sy’s te slim. Te sterk. En wýs.

Emosioneel is sy vér voor die meeste mense van haar ouderdom - veral mense in die skoonheidsbedryf wat ’n bestaan daaruit maak om mooi te lyk. Sy is ’n toonbeeld van die “nuwe, sterk vrou”, maar sonder die stereotipiese ystervrou-gedaante. “Sterk” beteken nie “hard” nie, wys sy ons.

Jacinda doen van jongs af modelwerk en dis maklik om haar te stereotipeer. Gebeur dit baie? “Ek weet nie. Ek gee ook nie om nie. Die skoonheidsbedryf is nogal vol slaggate. ’n Mens kan baie maklik baie ydel raak. Ek het soveel uit my afrondingskool geleer.” (Haar kursus word by verskeie skole as ’n na-skoolse aktiwiteit aangebied.)

“Ek leer die kinders selfvertroue. Om gemaklik voor mense te praat. Om selfrespek te hê, want dit help jou om ander mense ook te respekteer. Dis absoluut nie om sterretjies van mooi kinders te maak nie - hoewel die ma’s veral druk op hul (mooi) kinders sit om aan skoonheidswedstryde en dies meer deel te neem. Dit gaan veel meer oor die innerlike skoonheid wat ontwikkel moet word. Die innerlike lesse leer jy jouself.”

Jacinda is die Survivor-stam Rana se verkose leier, en sy sê: “Survivor kan nou wel as ’n werklikheidsprogram bemark word,maar laat ek jou vertel . . . soveel werklikheid gaan binne die eerste drie dae verlore! In daardie drie dae moes ons span ons hut drie keer herbou,” vertel sy oor ’n stomende cappuccino, terug in die beskawing van Sandton se besige News Café. Fisiek was die eerste drie dae vir haar die ergste - maar daarná begin die emosies en die strategiespeletjies jou veral tref.

“Ons het aanvanklik besluit ons wil eers die eiland leer ken. Die eerste dag het ons ses uur lank rondgedwaal - en al wat ons kon terugbring kamp toe was ’n tros piesangs! Ek is nogal trots daarop dat ek gewoonlik baie vindingryk is - ek maak ’n plan met wat ek het, nog altyd. En dit het beslis tydens Survivor gehelp. Maar ek moet bely ons het daardie eerste paar dae gesukkel . . .”

Jacinda het wel uitgestaan as die een na wie haar hele span met graagte luister. In Rana was daar nie die agteraf gebytery, die kullery en die spelmatigheid wat so sterk aan die Survivor-reekse gekoppel word nie. “Ja, ons was - veral aanvanklik - ’n ware klein reënboognasietjie. Ons was demokraties tot op die punt dat ons nie eintlik ’n besluit kon neem nie! Ons het ons energie verkeerd gebruik.Ons het nie fokus gehad nie. Totdat ons een aand om ons vuurlose kampvuur sit en Lezel voorstel dat ons ’n segspersoon aanstel. Hulle het toe besluit dit moet ek wees. Ek verkies die woord ‘voorsitter’ eerder as ‘leier’.”

 

Jy het altyd ’n keuse hoe jy op enige situasie gaan reageer

 

Hoe het sy haar vir Survivor voorberei? “Wel, ek het die SAS-handboek (van die Britse spesiale magte) gelees. Ek het ook na vorige Survivor-programme gekyk. Fisiek het ek geswem en vreeslik gemorskos geëet, sjokolade en sulke goed. Ek het gesien hoe die omstandighede mense in die program verswak - fisiek - en ek het besluit ek wil soveel moontlik vet en koolhidrate vooraf inneem.”

Hoe vergelyk Survivor met die werklikhede “daar buite”? “Ek dink die Survivor-spel is so ’n klein bietjie ’n gekonsentreerde model van die werklike lewe. Ons eiland is net groter. Maar hoe jy jou lewenspel speel - hoe jy oorleef - het veel meer met innerlike fasette te doen as met uiterlike vermoëns. Elke situasie waarin jy jou in jou lewe bevind, is deel van die groter spel. Ek het maar net dit gedoen wat vir my natuurlik kom. My menslikheid op die eiland en my menslikheid hier in Bedfordview waar ons nou woon, is een en dieselfde.”

In ’n sekere sin het die lewe self haar voorberei op “die groter spel”. Haar leiereienskappe het ook dieper wortels. Sy was onder meer onderhoofmeisie van die Hoërskool Alberton. In dié tyd het sy geleer om die leiding te neem- om in moeilike omstandighede besluite te neem omdat die rolmodelle in haar lewe gestruikel het . . . Sy praat sonder terughouding daaroor.

“My pa was sy hele lewe lank ’n alkoholis. Hy was ’n wonderlike man, maar kon eenvoudig nie die drankduiwel onderkry nie. En my ouboet, Jaco, het in die laaste twee jaar van sy lewe geweldig met dwelms gesukkel. Jaco was absoluut pragtig. Hy was lank en atleties - het so goed rugby gespeel dat hy een jaar op skool agtergebly het net om te kan speel! En in daardie jaar het hy met vriende deurmekaar geraak wat hom aan dwelms voorgestel het.

“2001 en 2002 was twee verskriklike jare. Ek was in 2001 in Duitsland vir die Mej. Interkontinentaal-wedstryd - die Jaco wat ek agtergelaat het en die Jaco wat ek gekry het toe ek terugkom, was twee totaal verskillende mense. Hy het 25 kg verloor.

“Ons is ook op Oukersaand daardie jaar in ons oprit gekaap.My kêrel van vyf jaar - JC - is nou nog lugtig om by ons huis in te draai. Jaco het net agteruitgegaan. Hy het op 6 Februarie 2002 ’n oordosis geneem. Die finale en fatale keer. Dit het my pa geruk - hy het kort daarna in die hospitaal beland. Op 23 Maart 2002 is hy oorlede.”

Maar hoe is dit dat sy met soveel krag en selfstandigheid, erns en leierskap deur hierdie verskriklike tye gekom het? “Ek dink ’n mens het altyd ’n keuse hoe jy op enige situasie gaan reageer. Jy kan kies of jy die slagoffer of oorwinnaar wil wees. Ek het laasgenoemde gekies. Ek was in ’n mate nog altyd verplig om besluite in ons huis te neem. My ma is ’n sterk mens - maar sy is ook die ma van Jaco, en dit kon haar soms baie emosioneel maak. My pa was eenvoudig nie beskikbaar om leiding te neem nie. Jaco self was - veral in die laaste jare - verlore.

“Dus het ek nie eintlik ’n keuse gehad nie: Ek moes die lewe hanteer. En ek het dit gedoen. Dit het my gedwing om ’n nog sterker houvas op my eie lewe te hê - tot op die punt waar ek amper ’n beheervraat is! As al hierdie goed net een gevolg het - dat ek vir mense kan vertel wat dwelms en drank aan jou gesin en jou lewe kan doen - dan is dit al heeltemal genoeg.

Survivor was ’n ondervinding wat ’n mens nederig maak. Ek het daarna nie eintlik meer krag vir mense wat fiemies het met kos nie, byvoorbeeld. Dit was ’n enorme emosionele groeikans, en ek het dit aangegryp. As jy in harmonie leef met dié dinge wat jou kant toe gewerp word, dan groei jy.”