Dit wil byna lyk asof die heelal saamgespan het om Donnalee Roberts en Ivan Botha se jongste film, Stroomop, nóú die lig te laat sien.

Toe die idee vir die film drie jaar gelede gebore is, sou hulle nooit kon voorspel dat vroue wêreldwyd vanjaar só sou saamstaan, stroomop swem, en op ’n ontdekkingsreis gaan nes die vroue in hul fliek nie.

Dít was natuurlik voor hulle self ’n amptelike paartjie was. Nou sit die twee langs mekaar in ’n koffiewinkel in Johannesburg en gesels opgewonde oor die projek – nie meer net as vennote nie, maar ook verloofdes ... Hulle glimlag groot wanneer hulle praat oor Stroomop – en wanneer hulle tydens SARIE se onderhoud vir mekaar kyk.

“Ná ons eerste twee rolprente [die romantiese avontuur-flieks Pad na jou hart en Vir Altyd] het ons besluit om ’n film te maak waar ’n vrou nie iemand nodig het om haar te red nie – sy is die heldin in haar eie storie,” vertel Donnalee.

“En noudat die fliek uitkom, swem vroue wêreldwyd stroomop om hul eie stem te ontdek. Hulle staan op teen ongeregtigheid met veldtogte soos #MeToo. En skop teen die verwagtinge van wat ’n vrou kan doen, hoeveel sy kan verdien, wie sy is. Dié kwessies was nog altyd daar, maar die volumeknoppie is nou oper gedraai: Ons sê kliphard ons gaan onsself nie meer verloor in wat ander mense van ons verwag nie, ons gaan nie verdrink in universele persepsies oor wat vrouwees is nie.”

FOTO: Marijke Willems

Dan draai sy na Ivan: “Vertel nou jóú storie daaroor!” ... En hy weet dadelik waar om die draad van die gesprek op te tel. “Ons het gevoel ons is op die regte plek, op die regte tyd, om die regte redes. Toe ons by Onseepkans aankom [’n Noord-Kaapse nedersetting aan die oewer van die Oranjerivier waar die grootste deel van die fliek verfilm is], was daar tegelykertyd die ongelooflikste sonsondergang en maanopkoms, asof die natuur ons verwelkom. Die hele maand het die son elke dag geskyn.

“Maar op die laaste dag, net toe ons die laaste tonele skiet, het die wolke begin saampak. Daardie middag het dit begin reën en drie dae en nagte aangehou – in ’n deel van die land wat byna nooit reën kry nie. Dit het regtig gevoel asof hierdie plek vir ons sê, dankie, julle het gedoen wat julle moes, en dit is nou klaar.

“Die mense van Onseepkans het kom sê die omgewing huil omdat ons weggaan, maar dat die reën ons projek sal seën.” Dit was die uitdagendste projek wat hulle nog aangepak het, voeg Donnalee by. Bloot omdat iets reg voel, beteken dit nie dis maklik nie. Dié dor, droë en verlate deel van die land is ongenaakbaar.

Die filmspan het vier weke langs die Oranjerivier gekampeer. “Dis ’n deel van die land waar daar nog min voetspore getrap is. Daar was geen selfoonsein, elektrisiteit of geriewe nie, en ons moes ’n maatskappy inkry om vir ons ’n tentedorp op te rig.

“Met geen toegang tot die rivier by ons kampplek nie, moes ons elke dag met 4x4’s ry tot by ’n sekere punt, dan met die filmtoerusting op bootjies stroomop vaar en daarna nog ’n uur stap om by die deel uit te kom waar ons verfilm het. Van die karre is afgeskryf, dit was rof, en ons moes alles in hitte van tot 46 °C doen. Deur stroomversnellings roei en swem, swaar goed ronddra, en dit saans alles weer na die kampplek terugneem. Dit was fisiek en emosioneel uitmergelend.”

Donnalee sê hulle wou wegdoen met die tipiese glansbeeld van vroue in baie flieks. “Die aktrises het almal hul eie stunts gedoen en was régtig vol kneusplekke, vol stof, natgesweet.”

Sy en Ivan het geweet dit gaan hárd wees, en dis juis hoekom hulle dié plek gekies het. “Ons wou kykers saamneem op ’n oorlewingsreis. Ander is jou niks verskuldig nie en hoef nie die geld waarvoor hulle hard werk op jou fliekkaartjie uit te gee nie. As mense hul geld en tyd gee, is dit ons verantwoordelikheid om hulle op ’n avontuur te vat, maar om ook iets in hul hart saam te gee om huis toe te vat.”

FOTO: Marijke Willems

Gelykheid en vroueregte is iets wat hulle albei na aan die hart lê, sê dié twee, wat ook as lewensmaats in ’n 50/50-verhouding is. Hulle is ’n gedugte span. Dié dat hulle ’n film oor sterk vroue wou maak.

Die grondslag vir hul verhouding is al jare terug gelê. Eers as mede-akteurs op die stel van die sepie 7de Laan en toe as vennote in die filmbedryf. “Ons was nog altyd ’n span, beste vriende, maar het eers in November 2016 begin uitgaan,” sê Donnalee.

“Vir jare het mense gesê hoekom probeer julle nie net nie, vat haar net op ’n date. Maar dit was vir lank net nie in ons harte nie, en toe dit eindelik wakker gemaak word, was die tyd ook reg daarvoor. Verhoudings groei op verskillende maniere.”

Tog verstaan hulle, sê Donnalee, hoekom daar so dikwels oor hul verhouding bespiegel is. “Mense het Pad na jou hart, met ons in die romantiese hoofrolle, gesien en hulle soek die gelukkige einde in die regte lewe. Ekself is ’n hopeless romantic, so ek het begrip daarvoor.”

Boonop het hul karakters destyds in 7de Laan getrou, toe hulle die rolle van Annelie en Pieter tot en met 2012 vertolk het. Dis juis dáár waar hulle Pad na jou hart begin skryf het, onthou Donnalee met ’n glimlag. “Ons het dit tussen tonele deur op stel geskryf. Daardie tyd het ons al gekliek en besef: hier is iemand wat my visie en werksetiek verstaan.”

Toe vertolk Ivan en Donnalee die hoofrolle in Pad na jou hart in 2014, en daarna ook in Vir Altyd in 2016. En nou dat hulle wél ’n paartjie is, het hul rolle verskuif – Donnalee voor die kamera en Ivan daaragter, as regisseur.

Dit was ’n groot verantwoordelikheid, vertel hy. “Ek is self ’n feminis; ek het gevoel ek mag as man hierdie storie ’n stem gee. Almal wat glo in gelyke regte, mans en vroue, staan op vir ’n gemeenskaplike doel. En mans sal die film net so geniet. Daar is ’n lekker avontuur-element en, wel, hopelik sal dit hulle help om vroue vir so ’n uur en ’n half ’n bietjie beter te verstaan.

“Ek het baie daaroor nagedink, want ek moes vroue se stem kon oordra in die storie. Daarom het ek myself met sterk vroue omring. Die span was so 70% vroue, in alle afdelings. Ek het myself oopgemaak vir die span en saam met die karakters hierdie emosionele reis aangepak.”

Met soveel vroue was die dinamiek op stel baie anders as op ander stelle waar hy al betrokke was. “Ego het eenvoudig nie ’n rol gespeel nie. Waar mans se ego soms sal reageer as probleme opduik, sal vroue dit vanuit ’n emosionele hoek benader om by ’n oplossing te kom.”

Donnalee knik instemmend. “Ons was ’n span. Ek het nog nooit so ’n gevoel van kameraderie beleef nie. Almal het gelag, gehuil, verlang en gewerk. Geslag was eintlik irrelevant.”

Dit sê soveel van Ivan se vermoëns as regisseur, meen sy. “Ek dink hy het hiermee tot sy volle reg in die filmbedryf gekom. Hy’s gebore om regie te doen, al is hy ’n fenomenale skrywer, vervaardiger en akteur. Hy werk ook harder as enigiemand wat ek ken en hy bly koel en kalm onder druk. Ek is ontsettend trots op hom.” Wanneer sy liggies aan sy arm vat, glimlag hy skamerig: “Ag, nee ...”

FOTO: Marijke Willems

Waar Ivan en Donnalee betrokke is, gebeur dinge. Vir Altyd het in die eerste vier weke by die kaartjieskantoor meer geld verdien as die vorige rekordhouers vir Afrikaanse flieks, Liefling en Pad na jou hart – en laasgenoemde was óók natuurlik hulle s’n.

Die uitdaging nou is nie meer om ’n naam in die rolprentbedryf te maak nie, maar eerder om as suksesvolle vennote ’n balans te vind tussen werk en ontspan. “Want so wonderlik soos dit is om saam te werk en verloof te wees, so moeilik kan dit ook wees. Omdat ons so dieselfde is, sal ons maklik 24 uur ’n dag werk en uitbrand, want daar’s niemand wat sê stop nie. Ons moes leer om ’n balans te handhaaf,” sê Donnalee.

Is dit die geheim tot hul sukses? “Dis nie net een ding nie,” meen Ivan. “Dis ’n kombinasie van harde werk, oor baie jare, en passie. Mense sien jou sukses raak, maar weet nie hoe lank jy al aan jou drome werk nie. Akteur-wees was my voet in die deur, maar ek wou altyd agter die skerms uitkom en skeppend wees. As klein seuntjie het ek al met die videokamera in die huis rondgehardloop en flieks gemaak. As akteur sou ek altyd tussen tonele by die regisseur en kameraspan sit en leer.”

Donnalee het dieselfde drome gehad. “Ek was vyf jaar oud toe ek al weet ek wil ’n rolprentaktrise word. Maar eers tien jaar ná skool het ek die rol in die film Klein Karoo gekry, en toe maak ons Pad na jou hart. So dit was eintlik ’n lang pad voor ek daarby uitgekom het. Daar was harde werk en baie om te leer. Dit was jare se voorbereiding.”

Wanneer hul films klaar is, werk dié twee ook hard om dit te bemark deur toere en praatjies – ’n nuwe benadering wat só goed werk dat bemarkingstoere deesdae die standaard in die Suid-Afrikaanse bedryf is. Vir Stroomop doen hulle toere waar hulle by vrouegeleenthede en skole gesels, en vroue en meisies aanmoedig om mekaar se lewe te vier.

“Ons bemarking hou altyd die groter doel in gedagte – daardie teruggee-element. Om by ’n geleentheid op te daag en mense van jou film te vertel is wonderlik, maar ons probeer altyd daardie emosionele aanklank vind. Ons wil hê vroue en meisies moet opstaan vir mekaar, en die terugvoering tot dusver is ongelooflik. Meisies het al groepe op Instagram begin waar hulle oor dié kwessies gesels,” sê Ivan.

Hul volgende groot planne? Om Stroomop nog tot einde vanjaar te bemark, wanneer die DVD uitkom, dan Kaap toe te verhuis – en iewers ook tyd te maak om hul troue te beplan.

“Die Kaap spreek tot ons harte en dit was nog altyd vir ons, afsonderlik en nou saam, ’n droom om daar te bly. Ons is boonop reg vir ’n nuwe avontuur,” sê Donnalee.

Ivan se dogtertjie, Amélie, trek ook soontoe saam met haar ouers en jonger sussie en die twee gesinne wil naby mekaar wees. “En natuurlik wil ons óns kinders eendag daar grootmaak. “Twee, nè babe?” knipoog hy vir Donnalee.

WEN! Vir die kans om ’n Stroomop-avontuur op die Oranjerivier vir jou en vier vriendinne te wen, klik hier.

Waaroor gaan Stroomop?

In die film ontmoet kykers vyf vroue wat hulle om verskillende redes by ’n selfhelpgroep bevind, almal besig om te “verdrink” in hul realiteite.

Die groep bied hulle ’n geleentheid om op ’n avontuurterapie-reis te gaan en dié vreemdelinge pak dit saam aan. Die vyf vroue lyk dalk heel van buite, maar is gebroke aan die binnekant. Sodra hul reis begin, word hul boot omgegooi, die gids kry seer en spoel weg. Hulle moet dan self oorleef. En hoe meer hulle van buite afgebreek word, hoe meer heel word hulle binne.

Gaan ook na www.stroomopfilm.co.za.

Lees meer oor die rolprent – onderhoude en agtergrond-inligting – by www.sarie.com/bekendes/stroomop.

SARIE is net soos met Vir Altyd en Pad na jou hart die mediavennoot van Stroomop.