Hy en sy karakter in die kykNET-familiedrama Alles Malan verskil soos dag en nag, erken akteur Ivan Zimmermann. “Dis die karakter wat nog die verste van my verwyderd is. Frik Malan is konserwatief, ek is baie meer van ’n vrygees.”

Maar, sê hy, daar is twee ooreenkomste: “My liefde vir kinders en aandrang op geregtigheid.”

Die reeks van 13 episodes, met Corné van Rooyen en sy vrou, René, as draaiboekskrywers en regisseurs, het Dinsdagaand begin. Die storie speel af in die Paarl en handel oor die doen en late van die Malan-familie. Aan die hoof van die tafel sit Derik (Albert Maritz), met vroulief Brenda (Elsabé Daneel) sy regterhand. Hulle het twee volwasse seuns, Frik en Nico (Sean Marco Vorster). Frik is getroud met Tessa (Nadia Valvekens) en hulle het ’n dogter, Elani (Greteli Fincham), en aangenome seun, Freek (Matheo Olivier). Die reeks begin waar Frik en sy gesin ná agt jaar in Engeland terugkeer Suid-Afrika toe. Broer Nico staan op trou met die onderwyseres Lee-Ann (Nicole Fortuin). 

Alle kykers sal kan aanklank vind by die reeks, meen Ivan. “Elke karakter in Alles Malan het ’n uitdaging wat relevant is vir families in Suid-Afrika.” 

Die akteurs van ‘Alles Malan’. FOTO Instagram / Filmnarratief

Daar is baie druk op Frik, wat droom van die perfekte gesin, sê Ivan. “Daar is nie ruimte vir foute maak nie.” Hy worstel met sy Calvinistiese opvoeding, die bron van konflik met sy pa. “Maar familie is alles vir Frik, en hy sal alles doen om hulle te beskerm.”

Volgens Ivan staan die Afrikaanse gemeenskap se Calvinistiese wortels nog baie sterk, iets wat dikwels druk op die oudste seun plaas. “Almal se oë is op Frik, hy moet ’n sukses maak van al die verantwoordelikhede wat op hom rus.”

En dis veral sy pa wat druk op hom plaas. “Dis steeds tipies in baie Afrikaanse huise.”

Sy “kinders”, Greteli en Matheo, is jong opkomende sterre en twee akteurs by wie Ivan baie geleer het. “Eerlike talent lê in ’n onskuldige benadering. Ons sal nog baie van Greteli en Matheo op die verhoog en in rolprente sien.”

Frik (Ivan Zimmerman), Tessa (Nadia Valvekens) en hul kinders Elani (Greteli Fincham) en Freek (Matheo Olivier). FOTO Instagram / Greteli Fincham

Vir Ivan was die Paarl die perfekte agtergrond vir die reeks. “Dis so mooi en romanties. Dit was heerlik om elke dag in so ’n mooi en rustige omgewing te kon werk.” 

Die Paarliete was toeganklik, behulpsaam en vriendelik, sê hy. Net so die mense van Wellington, waar die skooltonele geskiet is.

Lees meer

Van spookhuis tot familiedrama

Greteli Fincham: Stellenbosse skoolkind nou TV-ster

Nina Swart lankal nie meer Wilmien