"'n Week voor ek uitgevind het ek is swanger (en tegnies eintlik rééds swanger was!), het 'n paar vriendinne by my kom eet. Hulle het vir my gevra wat ek sou doen as ek sou swanger raak. Ek het gesê ek sou beslis die baba hou."
 
"Toe ek drie maande gelede gehoor het ek is swanger, was dit aanvanklik bietjie van 'n skok. My ouers het ook aanvanklik bietjie tyd nodig gehad om daaraan gewoond te raak, maar hulle koop nou net babaklere en my pa gee geld-advies.

Ek het vir Zander gevra, wat gaan ek nou doen? Hy is 'n sagte mens en het gesê als gaan fine wees. Hy het dadelik vir my DVD’s begin koop oor hoe 'n baba in die ma se baarmoeder gevorm word. En hy het vir my corny CD’s gegee: walvisklanke in Hermanus en operamusiek. Hy sê solank 'n babatjie net baie liefde kry, sal als oukei wees."
 
Ná sy bietjie gaan dink het oor haar swangerskap, het sy besef sy is al nege jaar 'n model en het Europa en Amerika platgereis, was in Kuba, die Dominikaanse Republiek, Maleisië, Madagaskar, New York.

"New York is nie eens altyd lekker nie. Jy bly in 'n 'broodblik' en jaag jou net dood agter geld aan. Ek wou iets méér sinvol doen en nie net vir myself leef nie.

Jenna en Zander ken mekaar reeds vier jaar, maar het eers onlangs begin uitgaan. "Ek dink nie ons móét nou trou omdat daar 'n babatjie is nie. 'n Baba plaas reeds soveel druk op 'n verhouding. Hoekom nóg druk daarop plaas met 'n huwelik?

Ek neem nie trou ligtelik op nie. My ouers, wat woon in die Paarl, is al dertig jaar getroud. Ek gaan nie trou omdat die res van die wêreld dit verwag nie, maar as ék reg voel.”Hulle gaan nader aan die babatjie se geboorte saam in `n huis intrek.
 
Sy beplan nou om haar eie swemdrag-reeks te begin omdat sy reken daar is 'n groot gaping in die mark. "En ek wil beslis ook weer modelwerk doen. Zander het gesê as New York so 'n big deal is, sal hy my soontoe neem vir vakansie. Maar daar sal later, ná die babatjie se geboorte, dalk tye kom dat ek dalk vir twee dae na Hamburg toe gaan vir 'n shoot en Zander weet dit. My werk is net so belangrik soos syne."
 
Jenna sê sy is báie natuurlik ("geen tatoëermerke of inplants vir my nie!") en beplan om te borsvoed en natuurlik geboorte te skenk, afhangend van die grootte van die babatjie (waarskynlik einde Junie/begin Julie). "Ons gaan 20 Desember vir die groot scan om te bepaal of die baba se hartjie oukei is en als reg is en ons sal dan ook weet wat die geslag is. Dan sal ons ook beter weet wanneer die babatjie gebore gaan word.”
 
"Ek en Zander kom uit liefdevolle, Christelike huise. En ek het groot geword met kamp-vakansies regoor Afrika en is aan die natuur blootgestel. Ons sal dít ook vir ons kind wil leer,” sê Jenna.
 
Jenna was nog nie 'n dag naar tydens haar swangerskap nie, maar is baie moeg en gaan slaap vroeg saans. "Ek wil nou nie meer sosiaal wees saans nie, maar by die huis wees en sit met Swartkat, 'n wildekat, wat ek opgetel het toe hy maar net vier weke oud was.

My ouers, vriende en Zander is ongelooflik ondersteunend. Ek gim nog elke dag (behalwe naweke), sowat 'n uur, maar doen nie meer bikram joga (joga in 'n verhitte kamer!) nie, want dis nie goed vir die baba nie. En ek doen Vinjasa joga, die vloeiende bewegings hou mens soepel."
 
Sy het ook ingeteken op die webtuiste whattoexpect.com. "Ek copy & paste dit elke dag vir Zander, so hy weet presies wat in my uterus aangaan!"
 
Jenna het nog nie `n gram gewig aangesit nie en is 1,81 m lank en weeg 65 kg. "Maar ek gee glad nie om as ek vetter word nie. En ek het heelwat puisietjies bygekry met die swangerskap (weens hormoonveranderings), maar dis vir 'n goeie doel. Vir ons babatjie."
 
Sy gaan gedurende swangerskap mooi aantrek – kleefbroeke en mooi toppies. "Dis nie nodig om jou maag weg te steek en soos 'n tent te lyk nie.”

    •    Volg haar blog by followtheswollow.co.za
    •    Jack Parow het sy tweede album Eksie Ou onder sye eie platemaatskappy Parowphernalia vroeg in Desember vrygestel. Sy eerste album, Jack Parow, wat verlede Mei vrygestel is, het meer as 50 000 eksemplare verkoop.
    •    Die Parow Braaisous (van Jack) is einde November vrygestel by Checkers-winkels in die Wes-Kaap teen teen R17,99