Jy kan teruggaan in tyd en vir jou jonger self raad gee. Wat sou dit wees en hoekom?

Om mooi te kyk na die mense om my. ’n Ou besef dit nie altyd nie, maar jy maak mense rondom jou soms seer. Maar verder sou ek nie vir myself wou raad gee nie. My pad het my gebring tot die mens wat ek vandag is. Jy moet jou kop stamp, jy moet deur donker tye gaan. Jy moet sekere goed verloor om dit weer te kan waardeer. ’n Wyse man is ’n onwyse man wat twee keer sy toon gestamp het, en toe daaruit geleer het.

Elke kunstenaar het sy muse. Picasso s’n was Dora Maar, terwyl Gustav Klimt op sewe muses staatgemaak het. Wie is jou muse en sukkel jy soms om haar te vind?

’n Muse is maar ’n fickle ding. ’n Deel van die inspirasie of kreatiwiteit het vir  my iets te doen met ’n antwoord kry of ’n gevolgtrekking maak. Om êrens te kom, iets uit te pluis. Dit gaan ook maar om ’n kanaal oop te maak na iets groters as jy . . . om jou ego opsy te skuif. Iets te channel wat jy nie verstaan nie, maar weet daar is.

Jy is ’n uitgeknipte rocker, wat al dekades in die bedryf is. Hoekom het jy besluit om ook die skilderkwas op te tel?

Kuns was nog altyd deel van my. Ek het dit baie jare gedoen. Maar vir ’n groot deel was my fokus op skryf, op musiek . . . en dis ’n intense verhouding. Ek het net ’n paar jaar terug opnuut besef dis iets wat ek werklik mis en  net weer wou doen. Ek was gedryf om dit te doen. Dis ’n baie innerlike ding, ’n persoonlike ding . . . ’n manier om jouself uit te druk. Dis net ek, my esel, verf en die een ander “persoon” wat jy skep. Daar is geen plan nie, jy begin net. Musiek is weer ’n sosiale ding, wat ook nice is. Die kuns help my met balans, om tyd te maak om alleen te wees.

Kuns is subjektief. Was jy aanvanklik huiwerig om jouself op só ’n wyse bloot te stel aan kritiek?

Ek het in my lewe al soveel kritiek gekry, ’n ou raak so ’n klein bietjie immuun daarteen. Nie dat ek dit aflag nie, maar jy raak net hard daarteen. Jy fokus op die mense wat resoneer met jou kuns. En dis oukei . . . dis eintlik nice dat nie almal aanklank vind nie, dit wys die wêreld is anders, almal is uniek. Maar ek was aanvanklik huiwerig om ’n ding klaar te maak, om dit vir mense te wys. Ek het geleer om te vertrou . . . Gelukkig het ek goeie vriende, soos Lionel Smit en Ruhan Janse van Vuuren, regte, egte kunstenaars wat jou raad gee en met wie jy kan praat.

Waiting in olieverf deur Jan Blohm

Watter medium verkies jy vir jou werk en hoekom?

Ek het dit as ’n ambag begin aanpak, asof ek van voor af begin. Eers met ’n grys potlood en ’n stuk papier. Ek het net geteken, teken, teken. Toe is dit houtskool, pastel. Tans gebruik ek olieverf, en dis my gunstelingmedium. Ek is obsessief oor hoe verf werk, wat verf doen. En dan is my stokperdjie beeldhou, ek is mal daaroor om met klei te werk.

Glo jy nog in die toekoms van ons land?

Dis ’n bitter moeilike vraag om te beantwoord. Ek glo hoe ’n mens na ’n slegte toekoms beweeg, is as vrees jou baas raak. As vrees jou lei, word ’n ou eintlik beheer deur die mense wat jou bang maak. Ek glo in die toekoms van ons geskiedenis, ons is besig om ons geskiedenis te skryf. En oor 100 jaar van nou af gaan mense lees oor wat Afrikaanse mense in 2020 gedoen het – wit, bruin, swart. En ek glo in daai toekoms. Wat ons nou doen, tel. Dís waarop ons moet fokus. Word ons beheer omdat ons bang is? Word ons beheer oor ons dinge wil verander wat ons nie kan nie? Nou ... dis ál wat tel. Ons moet ’n mooi geskiedenis skryf vir toekomstige geslagte.

Ons het al almal terugslae en teleurstellings beleef. Watter raad het jy vir iemand wat sukkel om oor te begin en weer te probeer?

Dit hang af hoe jy daarna kyk. Die lewe het siklusse, maar die een ding wat konstant bly, is verandering en hoe jy kies om daarmee te cope. Dis wat ek ondervind het in my eie lewe. Dinge gaan verander, dinge kan nie dieselfde bly nie . . . jy moet dit besef. En hoe om op te staan? Daar is nie ’n ander opsie nie, daar is nie ’n opsie om te gaan lê nie. Om te lê is om te vergaan, op te hou leef. Enigiets wat leef, groei. En as jy ophou groei, is jy dood. Sukses in jou lewe word hierdeur bepaal: deur hoeveel pyn jy kan leef. Groei is nie maklik nie.

Wat bring die beste in jou uit – ’n leë skilderdoek of ’n gehoor?

Ek kyk altyd anders na daai vraag. Wat bring die beste in mense uit? En dís wat ek wil create. Dit gaan nie altyd oor wat die kuns uit my bring nie. Kuns is ’n ding wat jy daar buite sit. Ek kry dit nie altyd reg om myself uit die pad te skuif en op die mense te fokus nie. Maar dit hou my eerlik.

Elke musikant het sy eie kleedkamer-ritueel voor ’n konsert. Wat is joune en het dit oor die jare verander?

Ek het nie verskriklike ditjies en datjies nie. Ek probeer so min as moontlik voor die tyd te mingle. Ons het ’n gebed, die “Serenity Prayer”, wat ons doen voor ons op stage gaan. Dis die enigste ritueel.

SARIE se leuse is #JyIsGenoeg. As jy hierdie boodskap aan enige kunstenaar of musikant uit die verlede kon oordra, wie sou dit wees en hoekom?

Ek sou die leuse aan elke liewe kunstenaar wou oordra. Ek het nog nie ’n kunstenaar ontmoet wat nie op ’n stadium met daai leuse geworstel het nie. Eintlik worstel almal daarmee. Die belangrike ding is selfliefde, selfaanvaarding. Dis ’n persoonlike journey, jy kan dit nie in iemand se keelgat afdruk nie. Maar dis die reis van die lewe . . .

Hoekom is jy so lief vir Afrikaans?

Afrikaans is maar net wie ek is as mens. Party dae minder lief, party dae meer lief. Daar is ’n rede hoekom mense dit jou moedertaal noem, dis jou ma. Dis hoe jy gevorm is, dis hoe jou brein werk. Ek droom in Afrikaans. Ek is lief in Afrikaans. Jy praat met jouself in Afrikaans. Jy berispe jouself in Afrikaans. Jy troos jouself in Afrikaans. Dis eerder ek ís Afrikaans as wat ek lief is vir Afrikaans. Ons almal skryf aan die geskiedenis van Afrikaans.

Kan jy ’n oomblik herroep wat jou lewe handomkeer verander het? En het dit jou toe ook iets van jouself geleer?

Die geboorte van my dogtertjie, Simone. Sy het my lewe heeltemal verander. Ek het nooit besef wat onvoorwaardelike liefde is nie. Ek het ook nooit besef hoe selfsugtig ek was nie, tot ek haar gehad het. Dit gaan nie net oor myself nie, dit gaan oor meer as myself.

2020 het die wêreld tot stilstand gedwing. As jy die jaar in ’n lied kon vasvang, wat sou die eerste frase wees?

Ek mis jou so.

Het jy ’n mantra of leuse wat jy koester en aan vasklou?

Leef mooi.

Wat lê voor vir die nuwe jaar – enige opwindende projekte, albums of kunsuitstallings?

Wat Covid my geleer het, is om meer in die oomblik te wees. So vir nou het ek nie groot planne nie, ek wil die jaar net klaarmaak. Daar gaan optredes wees, kuns verkoop word en ook net mekaar geniet. Dalk kom 2021 en dan het ons meer energie en het ons geestelik gegroei. Maar vir nou wil ek net in die oomblik wees.

BLITSVRAE MET JAN

GUNSTELINGKLEUR: Magenta

GUNSTELINGITEM IN JOU KLEREKAS: Draftekkies

KUNSWERK WAT JOU ONTROER: Vincent van Gogh se Sterrenag

GUNSTELINGSEISOEN: Lente

DROOMVAKANSIE: Praag

LIED WAT NOSTALGIE OPROEP: Pussycat se “My Broken Souvenirs”

GUNSTELINGDIGTER OF -LIEDJIESKRYWER: Breyten Breytenbach