Jana Strydom Kruger, sepie-liefling van Egoli, Villa Rosa, Binnelanders en 7de Laan, maak nou ook ’n draai in Suidooster.

In dié Kaapse sepie vertolk sy die rol van Vivienne Venter, ’n vrou wat moet kies tussen twee mans in haar lewe. Hulle verskil totaal en haar keuse het groot gevolge …

Jana is opgewonde oor Suidooster, en sê soos die meeste sepies is dit ’n goed geoliede masjien. “Maar omdat dit so jonk is, is daar ’n opregte entoesiasme en vriendelikheid.”

Sy reken dit werk lekker omdat dit “real” is en Suid-Afrikaanse stories met universele temas vertel. “Dit word ‘naturalisties’ verfilm en die dialoog is maklik.” Mense vind die Afrikaans ook toeganklik, meen sy. En sy hou veral van Vivienne se klerestyl. “Nie noodwendig die keuses wat sy in haar lewe uitoefen nie,” lag sy.

Jana Kruger en haar jongste, Anouk FOTO Salomien Smal

Sepies was haar eerste genre voor die kamera. “Om Marcelle Crafford in M-Net se Egoli te speel het my die geleentheid gegun om myself daagliks tegnies touwys te maak en toneelspeel-vaardighede in te oefen. As jy sepies outentiek kan weergee, kan jy waarskynlik enige tipe toneelspel aanpak.”

Jana het einde 2016 onbepland swanger geword met haar derde kind, haar “skat uit die hemel”. Voor haar swangerskap het sy ’n rol in die tweede reeks van Die Boekklub op kykNET losgeslaan, maar sy moes dit laat vaar toe sy uitvind sy is swanger.

Boonop het sy in daardie tyd hard gewerk aan SABC2 se Erfsondes en was bang sy het nie genoeg tyd vir haar gesin nie. Haar dogtertjie, Anouk, is verlede September gebore. Jana is getroud met die sielkundige Hannes Kruger en hulle het nog twee kinders, Ohan (8), Luka (6).

Jana en Hannes se drie kinders: Luka (links), Anouk en Ohan. FOTO Instagram/ Jana Strydom

Met Suidooster se werksverpligtinge is daar heelwat uitdagings vir die gesin. “Ons bespreek my werksaanbiedinge in die gesin, want hulle kom eerste. As ’n projek nie by ons waardes inpas nie, staan dit oor. Ek weet daar sal altyd later weer iets na my kant toe kom.”

Sy beskryf Hannes as ’n wonderlike pa en man. “Toe ek die Suidooster-kontrak aanvaar het, moes hy op kort kennisgewing vir werk na Colorado reis. My skoonma het kom hand bysit by die huis. Dit was boonop skoolvakansie. So vergesel my hele entourage – ouma en drie kinders – my na die stel. Die span was baie inskiklik en die vloerbestuurder het toegelaat dat hulle in die ateljee sit terwyl daar verfilm word. Hulle het dit geniet om mamma by die werk te sien.

Jana speel die rol van Vivienne in die gewilde sepie Suidooster. FOTO Instagram/ Jana Strydom

“Dit was vir my moeilik. Ek was oorgestimuleer, moes baie beplanning vooraf doen – daar moes genoeg wees om die kinders te vermaak terwyl hulle wag, ek moes kos saamneem … maar ons het almal oorleef.”

Die Krugers woon die afgelope drie jaar dolgelukkig in hul huis in Simonstad waar alles oop en lig is. Hulle reken dit was ’n goeie besluit om te trek uit Johannesburg ... Wie wil nou nie soggens uitkyk op die branders en die see ruik nie?

Hannes, Jana en hul jongste. FOTO Instagram/ Jana Strydom