Die afgelope vier jaar al woon die aktrise Jana Strydom onder die hange van ’n berg naby Simonstad in die Kaap. En met die see se geure wat die ruimtes van haar huis daagliks binnekom en haar drie kinders, Ohan, Luka en Anouk, se klokhelder laggies wat die vertrekke vul, het sy baie geleer. Die Kaap doen haar goed.

“Ek het geleer daar is net twee daadwerklike kragte in die lewe: Liefde en vrees. Alles spruit uit daai twee pole. Dit verander alles, as jy dit eers besef.”

Jana Strydom vertolk die rol van Debbie in die kykNET-gruwelreeks 'Die Spreeus' FOTO Verskaf

Die donkerkop-skoonheid gaan die langnaweek Jan Tuisbly se karretjie ry. “Dis familietyd. Ons gaan waarskynlik vir Ohan en Luka ’n Paaseierjag reël. Anouk is nog baie klein, maar jong, sy wil als saam doen! Sy is gereed gebore,” skerts sy.

Jana en haar sielkundige-man, Hannes Kruger, se liefde blom al 25 jaar lank. Sy het hom reeds op 15-jarige ouderdom ontmoet.

Tussen ma-wees en al haar ander werk as vryskut-aktrise het Jana ook tyd gemaak vir ’n episode van die kykNET-gruwelreeks Die Spreeus.

Die reeks handel oor twee speurders, Bas Koorts (Chris Vorster) en Beatrice Mack (Monique Rockman), wat verby die gordyne van die hier en nou gaan om misdade met bonatuurlike elemente op te los. Elke episode is deur ’n Suid-Afrikaanse spookstorie, mite of fabel geïnspireer.

Die aktrise Denise Newman speel teenoor Jana. FOTO Die Spreeus / kykNET

Volgende Dinsdag (23 April) gaan Jana te sien wees in die rol van Debra, ’n ambisieuse eiendomsontwikkelaar wat enigiets sal doen om sukses te behaal. Maar dan begin iets by haar spook en haar hele lewe verander handomkeer.

Sowel Monique as aktrise Lea Vivier, wat in die eerste twee episodes as Emmie te sien was, het iets vreemds op stel ervaar. “Dit was ’n koue, vreemde gevoel en ek het dit aanvanklik as niks afgemaak,” het Monique aan SARIE.com vertel.

Gelukkig het Jana niks beleef nie. “Nee, niks nie ... Dit was net ’n doodgewone stel, met ’n ongelooflike span mense,” lag sy.

Maar glo sy in die bonatuurlike? “Absoluut, ja! Ek glo dat die fisieke bloot ’n manifestasie is van die spirituele. Ek glo alles is energie, of dit nou materie is of woorde of gedagtes of emosies ... alles is energie. En alle energie vibreer in frekwensies. En deur jou keuses wat jy maak in die lewe en jou gedagtes wat jy het, die emosies wat jy voel ... bepaal jy jou eie frekwensie en jy is in staat om dit te beheer, en te verander. Jy bepaal wat in jou lewe manifesteer.”

Sy wil nie veel verklap wat die res van haar jaar gaan inhou nie. “Dit wat in die pyplyn is, is nog te vroeg om te deel. In hierdie stadium is ek ’n gelukkige ma wat dan en wan in projekte speel.”

Jana en manlief, Hannes, se drie kinders, Ohan (agter), Luka (links) en Anouk. FOTO Instagram / Jana Strydom

* Die Spreeus speel elke Dinsdag om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en op Showmax.