Janine Habana, vrou van die Springbok-rugbyvleuel Bryan, is verlede week deur mode-ontwerper Simon Rademan aangewys as een van Suid-Afrika se besgeklede vroue. Marguerite van Wyk het met haar gesels. . .

Hoe het jy gevoel toe jy dié lys gehaal het?
Dit was 'n groot kompliment. Ek is glad nie kompeterend nie en gaan beslis nie uit my pad uit om lysies te haal nie. 'n Mens probeer altyd mooi lyk vir jouself.

Beskryf jou klerestyl.
As sportwetenskaplike dra ek daagliks gimnasium-drag. Ek mis dit om gereeld mooi aan te trek. Wanneer ek die geleentheid kry, geniet ek dit baie. Ek glo minder is beter. Eenvoudige, klassieke lyne werk vir my. En ek glo aan soliede klere. Niks bont nie. Wit en swart en dalk 'n titsel rooi. Ek is eerder stylvol as wat ek 'n modeslaaf is.

Dra jy graag hoë hakke?
Ja, dis vroulik en sexy. Dit vertoon 'n mens mooi. Ons bly mos maar meisies . . .

Is daar 'n sekere tipe klerestyl wat Bryan verkies aan jou?
Hy is so lief vir my, hy gee glad nie om nie. Maar hy hou daarvan as ek rokkies dra. Skemerkelk-rokke werk vir hom. En iets waarin ek lekker kan dans.

Hou jy van mooi onderklere?
Ja, mooi lingerie laat my baie goed voel.

Het jy al sedert kindertyd gehou van mooi klere?
Oee, ja. Ek was maar altyd 'n dogtertjie-dogtertjie. Al daai rokkies waarin jy kon ronddraai en dan maak dit so 'n sirkel om jou. Dít was my gunstelinge.

Help jy Bryan om klere uit te kies?
Hy het baie goeie smaak. Hy het nie juis my hulp nodig nie.

Wat is jou gunsteling-uitrusting in jou klerekas?
My trourok. Maar ek sal dit nie weer kan dra nie. Dis net so 'n sprokiesrok. Ek het verlief geraak daarop. Ek dink my dogtertjie sal eendag daarin kan speel. 'n Mens droom mos al van kleintyd van jou trourok.

Dink jy Suid-Afrikaanse vroue is stylvol?
Hulle raak al hoe meer in voeling met hul lywe en meer mense doen moeite met hulself. Jy kan nie mooi lyk as jy nie mooi voel oor 'n lyf sonder klere nie. Jy moet voel jy verdien om goed te lyk. Dit gaan als oor 'n goeie selfbeeld.

Wat is die grootste foute wat vroue wat swak aantrek, maak?
Vroue is soms mode-slagoffers. Hulle weet gewoon nie wat by hulle pas nie. Baie vroue verstaan ook nie watter tipe klere by hul figure pas nie. En sommige vroue weet nie hoe om bykomstighede reg in te span nie.

Hoe kan 'n mens verseker dat jy altyd goed lyk?
Versorg jouself - ook jou lyf! - goed en werk aan 'n goeie selfbeeld. Dán sal jy daardie innerlikie selfvertroue uitstraal.

Is dit lekker om getroud te wees?
Die lekkerste ding ooit. Ek en Bryan is op 20 Januarie vier maande getroud en kan nie glo ons het so lank gewag nie (ons het vier jaar uitgegaan voor ons verloof geraak het!). Ons is so 'n lekker eenheid en lag en deel lekker. Dit gaan oor die gewone dingetjies in die lewe wat dit so besonders maak.

Hoekom werk jul verhouding?
Die Here is baie goed vir ons. Ons was bedoel vir mekaar en is baie lief vir mekaar. Ons verstaan mekaar.

Beplan julle kinders?
Ja, maar nog nie nou nie. Ek is wel 27, maar voel 23. As ek 30 is, sal ek begin. Bryan sal 'n fantastiese pa wees. Hy is mal oor kinders en tel hulle altyd op en gooi hulle in die lug op. Ek dink hy kan eintlik nie wag om te begin nie, maar wag ter wille van my. Ek dink ons sal twee of drie kinders wil hê.

Simon Rademan se volledige lys van bes- en swaksgeklede vroue