Jeremy Mansfield, bekroonde radio- en TV-persoonlikheid en deesdae entrepreneur, is mal oor die karakter Abanazar wat hy in die pantomime Aladdin vertolk. Hy gesels oor kook, kanker, humor en sy liefde vir woorde . . .

Dit is jou eerste pantomime. Wat is die uitdagings van jou karakter?

Ek moet sing, dans [hy demonstreer die perfekte pointe] en toneelspeel. Dit is op verskillende vlakke uitdagend om die rol te vertolk. Volwassenes én kinders moet daarmee kan identifiseer. Ek moet byvoorbeeld aktuele sake in die teks verweef – soos wanneer Julius Malema iets simpels sê, en dít is omtrent altyd.

Min mense weet jy het al ’n Vita-toekenning vir toneelkuns ontvang. Dit was in 1985 vir jou spel in Môre is ’n lang dag . . .

Ja, die Afrikaanse universiteite was die donder in vir ons spul Engelsmanne wat met dié stuk van Deon Opperman die eerste ATKV-Kampustoneel gewen het. Ek het opleiding in drama en joernalistiek aan Rhodes gekry – die naaste wat ek kon kry aan ’n radioloopbaan.

Jy is 14 jaar agtereenvolgens deur Johannesburgers gekies as beste radiopersoonlikheid vir jou aanbieding van die ontbytprogram The Rude Awakening op 94.7. Hoekom het jy so goed “gewerk” op radio?

Die Oos-Kaap, waar ek grootgeword het, het ’n storievertel-kultuur, die Engelse ekwivalent van Spies en Plessis. Ek het die talent om stories in prentjies te skilder met woorde. My laaste radio-uitsending was op 12 Julie 2010, die dag ná die eindstryd van die Wêreldbekersokkertoernooi in Johannesburg. Ek mis dit glad nie. Ek het genoeg gehad van dié bedryf en wou dit op ’n hoogtepunt verlaat. Deesdae is ek ’n entrepreneur. Ek is onder meer ’n eiendomsontwikkelaar en belegger.

Jacqui, jou vrou, ’n voormalige wildbewaarder en skrywer, is glo die liefde van jou lewe . . .

Sy laat my lag en is pret. Ons is teenpole – ek die optimis, sy die pessimis. Dis ’n goeie ding, want sy temper my dikwels as ek oorhaastige besluite wil neem. Ons is ’n bietjie

yin en yang . . .

Wat onthou jy van Paassondag 2009?

Jacqui en ek was in die Seychelle met vakansie. Ek het teruggekom van ’n draffie en het koue koors gehad en sleg gevoel. Iets was net fout. Die volgende dag het ons teruggevlieg huis toe. Leukemie is Paasmaandag by my gediagnoseer. Dit was die ergste oomblik van my lewe. Jacqui was soos ’n rots. Sy is nie iemand wat faff of fuss nie. Sy is prakties, nooit paniekbevange nie en het ’n koel kop. Dit het my baie gehelp toe ek sowat ses maande lank chemoterapie gekry het.

Hoe het die kanker-ervaring jou lewe verander?

Ek het dadelik ophou rook. Dit is nie moeilik as jy weet jou gesondheid is op die spel nie. Ek het ook besef dat ek op my gelukkigste is as ek vir ander iets kan gee. Wanneer dinge in my eie lewe verkeerd is, sit ek terug en dink wat ek kan doen om ánder gelukkig te maak. Ek moes ook leer hoe om na my eie behoeftes te luister.

Was dit moeilik om die “stem” van die karakter Lifer in Disney se plaaslike uitreiking van die fliek Toy Story 3 te vertolk?

Ek was nog nooit onder soveel druk as om dié karakter – ’n Chatter-telefoon wat in ’n speelgoedboks by ’n kleuterskool woon – te speel nie. En ek werk al die afgelope 25 jaar met my stem. Ek was in een ateljee, met die stemregisseur wat my in ’n ander ateljee vertel het wat ek moet doen. Daar was min tyd. Boonop was al die ander karakters se stemme reeds opgeneem, so my stukkie moes presies inpas, met die régte intonasie en energie. Ek het ’n verblindende hoofpyn gehad daarna.

Waarom is jy en jou vrou so lief vir kook? Julle het immers ’n paar jaar gelede twee bekroonde kookboeke, Zhoozsh! en Zhoozsh! Faking it, die lig laat sien.

Jacqui sal nie ’n kombuis herken as dit haar tussen die oë slaan nie. Sy ken net ’n ketel. Sy het dit wel help skryf! Ek het grootgeword met ’n ma, Veronica – sy woon nou op Port Alfred in die Oos-Kaap – wat wonderlik kan kook. Ons huishulp, Agnes Zenani, het ook gesorg dat daar altyd iets aangegaan het in die kombuis. Daardie twee het my leer kook. My beste trooskos is bone en stampmielies. Ek ruik dit nou nog . . . Maar ek is geen bakker nie. Húlle gebruik maatlepels: 2 ml hiervan, 100 g daarvan. Kokke sê eerder ’n hand vol dit en ’n skeut dát. Nee, ek is ’n kók.

Hoe belangrik is dit vir jou om ’n verskil te maak?

As jy die aarde verlaat en jy het nie op een of ander manier ’n verskil gemaak nie, het jy nie verdien om hier te wees nie. Almal kan die aarde ’n beter plek maak. Vind net uit hóé. Ek kom van ’n klein gemeenskap waar mense na mekaar omgesien het. “Christmas Wish” was ’n jaarlikse liefdadigheidsveldtog op The Rude Awakening waar ons luisteraars, hoofsaaklik in Johannesburg, gevra het om mense met gesondheids- of geldelike probleme te help. Daaruit volg toe onder meer die Hear for Life Trust, wat gehelp het met die finansiering van kogleêre inplantings.

Gee Suid-Afrikaners genoeg om vir mekaar?

Madiba was ’n groot rolmodel. Deesdae lyk dit asof mense so bang is vir geweld en misdaad, dat hulle hulself afsonder in hul kokonne en nie meer wil gee of uitreik nie. Dit is hartseer. Politici is selfsugtig. Maar emeritusaartsbiskop dr. Desmond Tutu bly uitreik. Ek is bevoorreg om saam met hom ’n beskermheer van The Sunflower Fund te wees. Die stigting beywer hom om beenmurg-stamselskenkers te vind.

Vrot Jokes, jou boek oor Suid-Afrikaanse humor, was ook ’n topverkoper. Wat maak ons humor uniek en waarvoor lag jý?

Ons kan vir onsself lag – dít is ’n teken van ’n volwasse samelewing. Die Jode, wat net soos ons dikwels die “swartskape” van die wêreld is, het nét so ’n goeie humorsin. Politici en diere laat my lag. Ek is seker een van dié ergste mense om in ’n geselskap te hê omdat ek nie praat nie, maar luister. Dikwels kan een sin jou gedagtes op loop laat gaan

en wonderlike stories en grappe optower. Só het ek een keer by die Morningside Country Club in Sandton iets gehoor wat gelei het tot die denkbeeldige Zimbabwiese karakter Lovemore Sibanda. Ek het elke oggend op ontbytradio van hom en later sy hele gesin gepraat. Later is ’n CD, The Sibanda Files, oor dié denkbeeldige gesin uitgereik.

• Janice Honeyman se Aladdin word van 30 Oktober tot 29 Desember in die Joburg-teater opgevoer.

Foto’s geneem by die Joburg Theatre, 011 877 6800.