As wêreldwye bemarkingsdirekteur van die Sage Foundation, die liefdadigheidstigting van die sagtewarereus Sage, het Joanne van der Walt die perfekte persoonlikheid vir die soort werk wat sy moet doen – gedissiplineerd, en sy vat eenvoudig nie nee vir ’n antwoord nie.

Dit beteken sy kan werklik ’n verskil maak in mense se lewe deur Sage se verskeie liefdadigheids- en bemagtigingsprogramme. “Ek is nogal baasspelerig en mense wil nie vir my nee sê nie!” lag sy. “Maar dit kom my goed te staan. Ek voel bevoorreg dat ek betaal kan word om my droomwerk te doen: om ander te kan help.”

Die projek waarop sy die trotsste is, is een van Sage se nuutste: die app rAInbow. Dit span kunsmatige intelligensie (AI) in en het al byna 18 000 mishandelde vroue gehelp sedert dit twee jaar gelede bekend gestel is. “Dis ’n chatbot wat oor Facebook Messenger vroue ondersteun, hulle raad gee en verwys na organisasies wat verder kan help. Ons het van die begin af geweet dit kan nie álles doen nie, dit kan nie ’n vrou red nie, maar dit kan haar ondersteun. Daar is soveel skaamte by vroue wat mishandel word en hulle sukkel dikwels om die moed bymekaar te skraap om met iemand daaroor te gesels. ’n Robot oordeel nie. Dis boonop baie diskreet, want die Messenger-gesprek word ná die tyd uitgewis.”

Hoe meer mense die app gebruik, hoe slimmer word dit en ná meer as 820 000 gesprekke kan die app ál beter raad gee. Tydens die inperking het gebruik met 103% gestyg. “Kan jy jou indink om in ’n woonstel vasgekeer te wees met die persoon wat jou mishandel? Baie gebruikers het hartroerende boodskappe direk aan ons gestuur om ons te bedank, en vertel dat die app hulle moed gegee het om uit die situasie te kom.”

Selfs in haar persoonlike hoedanigheid doen Joanne wat sy kan om ’n verskil te maak. Sy het nou al die Comrades en die Twee Oseane-marathon vier keer gehardloop en só geld ingesamel vir verskeie organisasies, onder meer die Choc-kinderkankervereniging, Hillcrest-vigssentrum, World Vision-hulporganisasie en Wildlands-bewaringstrust. “Ek is elke oggend vieruur op om te oefen, maar is mal daaroor. Dit hou dinge vir my in perspektief wanneer ek ander mense kan help, dit gee my lewe ’n doel.”

– Delia du Toit | FOTO verskaf