Ná Joe Foster verlede jaar die groep ADAM verlaat het, het hy nog nie terug gekyk nie. Sy eerste solo-album, #Hartklank, is binnekort beskikbaar en hy het ’n paar minute afgestaan om met SARIE.com te gesels oor sy reis tot dusvêr.

Waar is jy die op jou gelukkigste: op die verhoog of agter die skerms?

Ek is die gelukkigste op die verhoog. Dis waar alles sin maak. Alles agter die skerm is elkgeval chaos!

Jy het ’n lang rits topverkoop-liedjies agter jou naam. Waar kom die inspirasie elke keer vandaan? 

Ek glo (en dis my persoonlike opinie) dat liedjies reeds bestaan in ’n bonatuurlike pot vol melodie en woorde, ek word net geseën met die vermoë om dit in liedjies te kan omskep. My groei as liedjieskrywer is om te leer hoe om dieper en dieper uit daardie pot te skep en vinniger by dit uit te kom. Ek is nog nie daar nie. Maar ek is baie geseënd om tot dusvêr die sukses te kon beleef waarop ek nou net kan bou. Dis ’n asemrowende gevoel.

Wat is die interessantste plek waar die liedjie-inspirasie jou al getref het?

Eendag toe ek in die see geswem het, het ’n liedjie net eensklaps na my toe gekom – ek gaan hom nog opneem en ek dink dit gaan ’n treffer wees...

Voel jy soms soos Robbie Williams of Ronan Keating wat ’n boyband verlaat het en dit suksesvol op jou eie gemaak het?

Nee nog nie... Ek is so besig om hierdie nuwe loopbaan op die regte manier op die been te bring, dat ek nog nie regtig alles ingeneem het nie. Ek het die ander dag vir ’n uur of wat op ’n strand gesit om alles in te neem en besef wat nou gebeur is magical en ek is so geseënd om dit te kan ervaar.

FOTO: Verskaf FOTO: Verskaf

Wat mis jy van jou dae in ADAM?

Ek het nog nie eens rerig so daaraan gedink nie. As mens ’n nuwe jassie aantrek en ’n nuwe fase van kunstenaar-wees ingaan, dan is dit soos ’n metamorfose. Ek so gelukkig om te wees wáár ek nou is en wíe ek nou is dat daar nie tyd was om dit wat was te mis nie. Ek het nou eers regtig stil geword in my kop en dit ingeneem. Ek mis die gemaksone van ’n groep so bietjie. Alles is nou nuut en uitdagend en gewaagd.

Het julle nog kontak met mekaar?

Ons sien mekaar by geleentheid, maar ons paaie het bietjie geskei. Ek dink dit is nodig vir beide my en ADAM om te fokus op die toekoms en vir hulle om tyd met hul nuwe lid te spandeer.

Wat het jou intussen laat besef dat jy die regte keuse gemaak het?

Ek noem dit my hartklank. Ek weet dit was die regte keuse, want my hart praat in sy taal met my. En as ek so ’n tevrede, hierdie-voel-reg-gevoel kry, dan weet ek dit is die regte besluit. Ek weet ook as mens in pas raak met God se plan dan het dinge ook net ’n manier om in plek te val.

Daar is geen einde aan God se seën in my lewe nie. Dis lekker om dit te kan sê!

Waaraan werk jy nou en waarna kan ons uitsien om volgende te luister?

Ek is heeltemal gefokus op my debuut-album, #Hartklank. Ek skryf en skryf en skryf, want ek wil nie sommer net nog ’n album uitgee nie. Ek het regtig tyd geneem om myself te laat ontwikkel in die kunstenaar wat ek nog altyd was. Dit is ook die rede waarom ek hierdie blad moes omslaan – om deur dié metamorfose te gaan!

Hoe gaan dit met die liefde, die familie en by die huis?

Dit gaan goed met ons almal. Dit was ’n groot jaar vir ons hele gesin. My susters het hulle besighede begin en ek is vol aan die gang met my nuwe loopbaan. Maar dit gaan goed met almal. Liefde is vir nou so bietjie stil. Ek gaan net vir eers ’n lone-ranger wees en fokus op die dinge wat nou belangrik is – my album en loopbaan. Maar ek sal definitief vir die liefde tyd maak as die oomblik reg is.

Vinnige 5

Gunsteling-kos: Enige iets in ’n pita! Vreemd, ek weet!

Fliek: August Rush

Sanger: John Mayer, Adam Lambert en Daughtry

Vakansieplek: Knysna

Geheime talent: Grafiese en web-ontwerp