Vir 29 jaar het Johan Stemmet die musiekkennis van mense soos Daantjie (Dinamiet) Badenhorst en Zelda Meyer, later legendes uit eie reg, getoets. 

Vroeër vanjaar het die voormalige onderwyser met sy voorliefde vir kleurvolle onderbaadjies aangekondig dat hy en sy orkes, Die Musiekfabriek, die immergewilde SABC2-reeks groet.

Dis egter nie die einde van Noot vir Noot nie, het hy toe beloof. Die program gaan voort, maar met ’n nuwe aanbieder en (onder)baadjie. En die afgelope Vrydag is sy opvolger aangekondig: Niemand anders nie as die tall, dark en handsome Emo Adams. 

Johan het aan SARIE.com verklap hoekom Emo die perfekte keuse is.

Emo Adams is die nuwe aanbieder. FOTO Nelis Engelbrecht Photography

"Ons het iemand geteiken wat kan sing, goed beweeg, goed kan aanbied, 'n sin vir humor het, goeie musiekkennis het, ondervinding op TV, ondervinding op die verhoog, iemand wat professioneel en betroubaar is ten alle tye, iemand wat sy gehore respekteer en as gevolg daarvan deur sy gehore gerespekteer word."

Hulle wou juis iemand hê wat Noot vir Noot na nuwe hoogtes kan voer. 

"Daar is vir my net een persoon wat aan al hierdie vereistes voldoen en wie ek met die heel grootste vertroue as aanbieder van die nuwe Noot vir Noot wil verwelkom en dis Emo. Ek sien so geweldig daarna uit om vorentoe saam met hom te werk," het Johan, wat steeds agter die skerms betrokke gaan wees, gesê.

Noot vir Noot se grootkoppe Johan Stemmet en Johan van Rensburg. FOTO Facebook / Johan Stemmet

En watter raad het hy vir Emo?

1. Wees jouself en geniet wat jy doen.

2. As dit vir jou lekker is, sal dit vir jou kykers lekker wees. 

3. Kritiek sal daar altyd wees. Jy kan nooit almal tevrede stel nie. Sommige soms ... maar nooit almal altyd nie. Neem kennis van opbouende kritiek, want mens is nooit te oud om iets by te leer nie, maar verwerp en ignoreer afbrekende negatiewe kritiek. Diegene moet daar ook wees en wat hulle kwytraak moet jy maar vat van wie dit kom.

* Die nuwe seisoen met Emo aan die stuur word vanaf Augustus uitgesaai.