Die eertydse supermodel en deesdae fotograaf en beoordelaar van die werklikheidsreeks Sharp Shooter (tot onlangs op M-Net) sê hoekom groepe mooi, ryk mense haar bang maak en hoe sy voel oor prinses Di se broer.

EK HOOP ...

* ek kan nog eendag goed leer klavier speel.

* om te leer om net die oomblik te geniet, en nie te fokus op die verlede of die toekoms nie.

* ek bly ’n werkende fotograaf en dat ek altyd vorendag sal kom met nuwe, vars idees wat ek ook uitvoer.

* my drie kinders het ’n gesonde, ryk, gelukkige lewe sonder te veel hartseer.

* meer mense sal hul troeteldiere liefhê en koester, en dat wilde diere in vrede kan bestaan. Ek was die fotograaf van die African Tails-kalender vir 2011. Dis ten bate van ’n veldtog om honde van misbruik en verwaarlosing te red deur massasterilisering, voer- en opvoedingsprogramme in sekere Wes- Kaapse townships. Dis my manier om terug te gee – deur my tyd, eerder as geld.

* ons land skrik wakker. En ek hoop die radiostasie Cape Talk se Lead SA-inisiatief kan ons nasie vuur en vlam maak sodat ons die regte ding doen vir mekaar en onsself. Maar ja, ek besef dis ’n idealistiese uitgangspunt.

EK IS BANG ...

* om te vlieg . . . Die grootste risiko wat ek ooit neem, is om op ’n vliegtuig te klim.

* in die geselskap van beeldskone, ryk, laggende mense, hulle freak my uit! Ek is heel uit my gemaksone.

* vir en hoop nie ek sal pyn of vrees ervaar as ek sterf nie. En ek hoop dat my kinders langer as ek sal leef.

WAT EK GELEER HET

* Ek was nie ’n baie goeie model nie, maar om een of ander rede het mense gehou van my voorkoms, wat vir my fantasties was. Dit was ’n heerlike manier om te reis en die wêreld te sien.

* Baie beroemdes het my pad gekruis. Onbekende mense is baie interessanter om mee te gesels, hulle is so oop. Bekendes is so bang dat iemand hulle werklik gaan leer ken dat hulle ’n muur om hulle bou en eintlik heel vervelig raak. Dis maar ’n valse storie van hul ware self. Maar ek is mal oor mense, hulle is fassinerend en siek en weird en wonderlik.

* My man, Langley [Kirkwood, die akteur], is ’n great ou, en hy het baie hooi op sy vurk, maar hy doen steeds sy deel as eggenoot en pa. Dit werk net vir ons.

* Daar is baie redes hoekom mense bymekaar bly in ’n huwelik – liefde, kinders, gerief . . . Maar vir my is die vraag: Is dit regtig nodig om te trou? En as dit vir die derde of vierde keer is, waaroor gaan dit dan? Eienaarskap, dink ek.

* Fotografie is soos rook, dit gee my iets om te doen tussen ’n groep mense, so ek hoef nie rond te sit en met enigiemand te gesels nie.

* Ek hou veral daarvan om regte mense af te neem, regte velle, plooie, hande, swart en wit . . . Dit was ook ’n lekker ondervinding om ’n beoordelaar te wees op Sharp Shooter [waarin 15 fotograwe, van huisvroue tot beroepsfotograwe, meegeding het].

* Ek is spyt ek het nooit Japan toe gegaan nie, ek het genoeg werk in Europa en Amerika gehad. Ek hou van die Japannese kultuur, die kos, die geskiedenis.

* Die beste raad wat ek ooit gekry het, is om nie in die openbaar te baklei nie. Ek hou nie daarvan as mense hul vuil wasgoed in die openbaar was nie.

* Ek het meer as tien jaar in New York gewoon. Dit was ’n ongelooflike tyd, reg in die middel van die totale malheid wat New York toe was. Maar nou het alles verander, dis so skoon en bling en daar’s heeltemal te veel geld. Ek is bly ek is hier in SA.

* Ek het niks geleer uit my verhouding jare gelede met Charles Spencer nie. Hy was nie werklik ’n belangrike persoon in my lewe nie, maar hy was belangrik vir die media. Hy was net nog ’n man wie se pad myne gekruis het, en daar is nie juis iets interessants of ongeloofliks aan hom nie, behalwe dat hy prinses Diana se broer was. Roem deur assosiasie . . . aargh, dis die ergste soort roem! Ek is jammer vir hom.

 

Ek is bly ek is hier in Suid-Afrika!

 

* Ek kon my voete op die grond hou in die internasionale modelwêreld, want ek het nooit regtig in myself of in die hype van daai wêreld geglo nie.

* My lewensfilosofie is: Hou net aan en probeer om dit te geniet.

* My raad aan my kinders:Moenie dwelms gebruik of onder die invloed bestuur nie. En: Môre is nog ’n dag.

* Die grootste wanopvattingwat mense van my het, is dat ek beroemd is.

* As my man iets aan my sou verander, sal dit dalk wees dat ek minder baasspelerig moet wees.

* Die lewe is die beste ding wat nog met my gebeur het.

HIER IS DIE AFRICAN TAILS-KALENDER SE BEKENDSTELLING

* UIT HAAR BOEK: Josie het self dié pragfoto's agter die skerms van talle modevertonings geneem en in haar boek, Josie You & Me, gepubliseer.

Josie Borain se boek, Josie You & Me