Hulle is daar in hul honderde en duisende . . . hulle gil en skree vir Juanita du Plessis in die Huisgenoot-tent by 2009 se KKNK. Sy’s een van net 5 SA kunstenaars wat al meer as ’n miljoen albums kon verkoop – en die enigste vrou op daardie lysie! Fanie Cronjé het met haar gesels by die fees. (“En sy's selfs mooier as toe ek haar laas gesien het.”)

Vir hoeveel jaar kom jy nou al KKNK toe?
Joe, ek is al hier van 2001 af. Dit was juis daardie jaar dat “Skarumba” kaboem! gemaak het.

Moet jy dit nog steeds sing?
Ja, nog steeds!

Ek kan dit nie glo nie, ná al die jare?
Ja, dit gebeur bitter min dat ek nie gevra word om dit te sing by ’n optrede nie. Ek sing deesdae net ’n stukkie daarvan aan die einde van elke optrede.

Wat is jou gunsteling-Juanita-liedjie?
Ek weet nie. Almal is vir my spesiaal, dis soos my kinders.

Wat van “Ek vlieg hoog”? Raak die mense nie mal as hulle dit hoor nie?
Aaaa, “Ek vlieg hoog”, ja. Dis ’n baie spesiale liedjie.

Terwyl ons nou van jou kinders praat, is daar ’n sanger onder hulle?
Ja, Ruan. Hy is ’n baie goeie sanger en akteur. Hy is ’n regte performer. Hy het die ATKV-Skoletoneel gewen as beste akteur in ’n ondersteunende rol. Al my kinders is talentvol. Franja en Mario, die tweeling, ook. Ruan werk nou as promoter vir Juanita Records. En jy? Nog steeds by SARIE?

Ja. Steeds.
Ek het nog altyd baie van SARIE gehou. Julle is altyd stylvol en gebalanseerd. En alles lyk so mooi. Ek lees ook graag Nataniël en André le Roux.

Dan moet jy Op die vrou af 2 gaan kyk. As jy ’n kaartjie kan kry, dis so gewild.
Ag, ek sou so graag wou. Maar ek moet al weer terug.