Dertien jaar later en die grootste verkoper van Afrikaanse musiek in SA. Van ‘Skarumba’ tot country-aanbieder op TV, Juanita du Plessis droom steeds groot – ook vir haar kinders

In ’n denim, swart baadjie en tekkies gaan sit sy op die houtbankie buite die fotograaf se ateljee in Melville. Juanita du Plessis. Grasieus. Pragtig. Die nommereen-sanger in die geskiedenis van Afrikaanse musiek met ’n totale verkoopsyfer van meer as twee miljoen. Twéé miljóén. Sy groet nederig. Maak gemaklik haar hart oop oor die reis van die afgelope 17 jaar. Sy skud haar kop, so asof sy dit self nie kan glo nie.

“Dit klink alles so onwerklik,” sê sy. Haar grootste uitdaging tot dusver, die verfilming en aanbieding van ’n nuwe musiekprogram, Country Hart, het nou gelei tot die verwesenliking van haar grootste droom: Sy het pas haar eerste country-album in Nashville, Tennessee, met Amerikaanse musikante opgeneem. Country Hart, wat in Amerika verfilm is en gaan oor die verskillende identiteite en invloede van country-musiek, word vanaf 6 Oktober op kykNET uitgesaai, en die album (nog naamloos) word binnekort plaaslik vrygestel.

Min vroue in hul 40’s kan sê sy het al alles op haar bucket list afgetik, erken Juanita. Maar in dié diep gelowige sanger en ma van drie se lewe is seëninge volop. “Ek kan eerlik sê ál my drome het waar geword.” Tog sien sy haar sukses nie as roem of rykdom nie. “Dit gaan nie oor die toekennings op die rak of die verkope nie. Dit gaan oor watter verskil ek deur my musiek kan maak. Oor die tannietjie met kanker wat kom vertel: Jou musiek dra my. Dít is vir my die betekenis van ware sukses.” Nie dat sy nie haar sukses verdien nie. Sy het immers héél onder begin, vir jare alles ingesit. “Dit was ’n láng en harde pad tot hier,” sê sy met uitgerekte klem op “lang”. In die begin het sy tot 25 optredes per maand reg oor die land gedoen (op party plekke soms voor net twee mense) en moes sy haar verhoogvrees en skaamheid oorbrug.

Tog was haar heel grootste opoffering om haar kinders, Ruan (23) en die tweeling, Franja en Mario (19), by die huis te los wanneer sy en haar man, Doepie, toer. “Dit was ’n groot uitdaging vir die kinders om meer te moes klaarkom sonder ma en pa. Hulle is soms by die skool gespot … jy weet … oor ‘Tannie Skarumba’. Hulle het op ’n jong ouderdom al verantwoordelikhede gehad. Maar dit het hulle meer selfstandig gemaak. Ek glo dis deel van die kosbaarheid van wie hulle vandag is.”

rz

Dit was moeilik om vrou-wees, ma-wees én kunstenaarwees te balanseer.

“Om deur alles stabiel te bly, nederig te bly, stabiliteit in my huwelik te behou, was ’n reuse-uitdaging. Ons het geïsoleerd begin leef. Dit was maar net ons gesinnetjie,” sê sy. “Maar as ek vandag terugkyk, besef ek dít het ons soveel nader aan mekaar gebring. Ons is sterker daardeur as gesin.” Kritiek het haar destyds dikwels ondergekry. “Ek’s nou nog ’n baie sensitiewe mens. In die begin het ek my kritiek baie persoonlik aangetrek, ek moes leer om dit beter te hanteer. Kritiek is steeds nie lekker nie, veral as dit nie waar is nie. Deesdae sê mense sommer reguit op sosiale netwerke vir jou wat hulle dink. Ek raak geweldig ontsteld as mense my oordeel en my nie eens ken nie. Maar ek het geleer om te vergewe en aan te beweeg. Om eerder stil te bly as te reageer. Want al wat saak maak, is dat ek weet wie ek is.”

Omdat Doepie saam met haar getoer het, het dit die uitdagings en die verlange na haar kinders makliker gemaak. “Hy is een van die grootste redes hoekom ek kon aanhou en uithou. Ek sou dit nie alleen kon doen nie. Al hierdie jare sit hy agter die verhoog by die klankstelsel, deel hy my passie vir musiek.”

Sy onthou hoe hy haar in 2000 ondersteun het toe kritici haar “Skarumba”-lied as ’n “one-hit wonder” bestempel het. “‘Skarumba’ was net ’n bonussnit op my tweede album [Ek en jy]. Ek het gewéét dis stupid lirieke. Dit was eenvoudig, maar met ’n lekker ritme. Dat dit só ’n groot hit sou word, het ek nooit verwag nie. Op die Geraas-toekenningsaand daardie jaar, toe ek die liedjie-van-die-jaar-toekenning daarvoor ontvang het, het ek piepklein gevoel. Want ek moes ‘Skarumba’ sing – voor mense soos Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis. Ek het gedink hulle wonder seker wie is hierdie girl wat hierdie stupid song sing en nogal ’n toekenning daarvoor kry. Ek het gevoel die aarde kon my insluk …” Sy stop.

In haar sagte bruin oë weerkaats die beeld van die onseker jong vrou op daardie presiese oomblik. “Tog het ek gevoel almal wat so klipgooi, ken nie die wáre Juanita nie. Die régte liedjieskrywer. Die diéper Juanita,” beklemtoon sy. “Ek het gedink: Wág maar. Wág en kyk net. Ek sál julle almal verkeerd bewys …”

Sy glimlag.

“Ek hoop vandag het ek darem bewys ek is méér as net ’n ‘Skarumba’-one-hit wonder.” Deesdae kan Juanita kies en keur waar en wanneer sy optree of saam met wie sy wil sing. Baie het al gevra, maar sy verkies om meestal net saam met Theuns Jordaan te sing

omdat hul stemme so goed saamwerk.

rz4

Ek’s in ’n bevoorregte posisie waar ek meer selektief kan wees. Ek’s op ’n punt in my lewe waar ek optredes effens wil afskaal. Ek sal nooit ophou sing nie, maar hoe ouer jy word, hoe meer besef jy daar’s ander, belangriker dinge. Tyd is een hiervan. Ek wil meer tyd met geliefdes deurbring.”

Hul seun Mario werk op die familieplaas naby Thabazimbi in Limpopo en studeer wildbestuur. Ruan en Franja werk by Juanita Records, hul ouers se platemaatskappy, terwyl elkeen hul eie sangloopbaan najaag. Hulle het vroeër vanjaar saam met ma by  Innibos opgetree en sing die liedjie “Kaalvoetkind” saam met haar op haar nuwe album, Jy voltooi my. Maar net omdat sy bekend is, beteken dit nie haar kinders gaan sukses op ’n skinkbord kry nie, meen Juanita. “Ek voel baie sterk daaroor dat hulle onder begin. Die aanvraag dat ons saam sing, raak al hoe groter. Maar hulle moet self hard werk, anders gaan hulle dit nie waardeer as hulle eendag bo uitkom nie. Ek sou kon help, maar dit sal hulle eintlik net benadeel.”

Daarom help sy eerder met lirieke en gee raad met die opneem van hul debuutalbum, wat volgende jaar uitgereik sal word. “Ek kan wel sien hulle besef geleenthede kom nie sommer oor jou pad nie en dat hulle dit opreg waardeer." Soos Franja se rol in die nuwe musiekfliek As jy sing. Die gesin is ook onlangs saam met Juanita Amerika toe vir die verfilming van Country Hart.

rz3

Amerika was ’n ongelooflike ervaring. Austin en Nashville was my gunstelinge, dis so eg country, mense is plat op die aarde daar. Ek’s mal oor country en ek’s ’n groot aanhanger van Shania Twain,” vertel sy. “Daar het ek besef dat ons Afrikaanse musiek vir ons nageslagte moet koester. Elke styl van country-musiek het ’n museum iewers in Amerika. Hoe gaan ons nageslagte eendag weet waar kom boeremusiek of FAK-liedjies vandaan, of wie was Gé Korsten en Rina Hugo as ons nie ’n museum het nie? Dis iets wat ek met liefde geldelik sal steun.”

Sy voel nie net hieroor sterk nie, maar ook oor enige onregverdigheid en die mishandeling van kinders en oumense. Haar hart breek oor plaasmoorde, maar sy het hoop dat die politieke situasie in Suid-Afrika eendag sal verbeter.

“Dis my huis,” sê dié Namibies gebore sanger. “Ek hoop en glo dinge gaan draai, dat dit sal beter gaan in die toekoms.” Intussen probeer sy op haar eie manier deur haar musiek ’n verskil maak. “Ek wil nie as Juanita die gospelsanger of country-sanger onthou word nie. Eerder as Juanita die ligbringer.” ’n Gepaste beskrywing, veral as jy sien hoe Juanita op die verhoog skitter. Haar uitrustings word deur Rudolf D Couture ontwerp. Sy erken daar moet altyd iets blinks aan haar wees. “Ek hou van blingbling! Ek’s nie vol strooi as dit by rokke kom nie … oukei, nee, ek kan nie dit sê nie … Rudolf weet waarvan ek hou! Hy weet ek hou nie van eenvoudig nie.”

Maar tuis is sy “dieselfde Juanita as die een op die verhoog, maar sonder die grimering en die rokke. Eerder met jeans en tekkies. Ek shop by Mr Price. Ek ken nie designer brands nie. Ek dra nie grimering as ek nie hoef nie. Ek dress net op as ek moet.” Tuis lees sy, speel TV-speletjies of ry perd. Sy gim nooit nie, kook nie graag nie. “Ek hou van lekker eet en klim maar elke oggend op die skaal. Ek het nie ’n hengse skoonheidsroetine nie, maar ek gebruik ’n goeie velsorgreeks en ek gaan slaap nooit met grimering aan nie.” Dié wenk het sy ook vir haar dogter geleer. En om altyd nederig te wees. Dis die een ding wat sy altyd vir jong kunstenaars sê wat droom van ’n sangloopbaan soos hare.

Jy moet nóóit dink jy’s beter as ander nie.” Sy het nog een droom: haar eie geselsprogram op Afrikaanse televisie. “Ek glo dit kan gebeur. As daar een ding is wat die afgelope sewentien jaar my geleer het, is dit: Maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie, drome word nog waar.”